Sunday 1 February 2015

Die karwag

Herman Meyer was, soos sy gewoonte was, ook vir daardie afspraak, te vroeg by die afgesproke plek. Hy het effens ongemaklik gevoel, want die kuierplek waarheen sy oudleerder hom genooi het, was bekend vir die onkiese dinge wat al daar gebeur het. Met al die wolfstories in gedagte, het Herman seker gemaak sy kar was deeglik toegesluit, en die alarmstelsel geaktiveer - 'n man vat nie kanse by so 'n plek nie.

Hy het 'n tafeltjie weg uit die oog gekies, half versigtig gaan sit en vieserig met die hand oor die blad gevee. Dit was nog taai en klewerig van die vorige bediening. Hy het rondgekyk, asof hy seker wou maak dat daar geen bekende in die omgewing was nie. Terwyl hy ongemaklik rondgeskuif het, het hy weer aan sy motor gedink, gehoop dit sou veilig wees want daar was geen teken van 'n karwag nie.

Terwyl Herman hom nog met die omgewing probeer versoen het, het Fred Nolte om die hoek verskyn. Hy het breed geglimlag en sy meneer met uitgestrekte hand, tegemoet geloop.
"'Skies ek is laat, het Meneer lank gewag?" Fred het Herman se hand met 'n oordrewe gebaar geskud en sy gesig was die ene vriendelikheid. "Dankie dat Meneer gekom het, ek het groot nuus om vir Meneer te vertel!"

Herman het die ou gevoel van genoegdoening in hom voel opwel. As 'n oudleerder presteer het, was dit asof hyself die prestasie behaal het - hy was ongelooflik trots op elkeen wat sy of haar merk in die lewe gemaak het. Dit was duidelik dat Fred iets groots bereik of bekom het - sy hele wese het van afwagting gestraal. Hy kon nie wag om sy vreugde met Herman te deel nie.
"Nee wat, die voorreg is myne. Ons het mekaar laas by die skou raakgeloop, dan nie? Ek het gewonder of jy nog by Tukkies is. Hoe gaan dit met die studies, hou jy nog uit?"
Fred se gesig het van vooraf in 'n glimlag opgebreek. "Dit gaan uitstekend, Meneer! Kom ons drink eers 'n koffie, dan vertel ek Meneer van die groot geluk wat my kant toe gekom het!"

Die twee het koffie gedrink, na mekaar se welstand verneem en oor alledaagshede menings uitgeruil. Reeds op skool was Fred 'n trappie bo die deursnee-leerder. Hy en Herman het dikwels, wanneer periodes gewissel het, of soms tydens pouse, gesels asof hulle dieselfde belangstellings gedeel het - wat inderdaad ook so was. Soos Herman, was Fred versot op letterkunde en hy kon ook met gesag oor verskillende musiek-genres gesels. Die uiteindelike onderskeiding wat Fred in matriek vir Afrikaans losgeleer het, was deels aan Herman se motivering en ekstra aandag, te danke. Hulle was geesgenote en Herman het verwag dat Fred dit nog ver in die akademiese milieu sou bring.
Herman was nuuskierig om van Fred se nuutste prestasie te verneem. "Jy het mos verlede jaar Honneurs voltooi. Waarmee hou jy jouself vanjaar besig?"
Weer het Fred van oor tot oor geglimlag. "Meneer! Ek het vanjaar met my Meesters in Filosofie begin - en toe kry ek 'n beurs om in Brussels te gaan studeer! Dink Meneer nie ook dis wonderlik nie? Brussels, Meneer, die hoofstad van filosofie!"

Daarna het die noodwendige gelukwense gevolg, Herman het Fred op die skouer geklop en hom met komplimente oorlaai. Fred het breedvoerig uitgewei oor die baie geld wat die beurs werd is, hoe hy verseker van 'n belangrike pos in die akademie sou wees, en hoe hy Herman op hoogte sou hou van al die toekennings en prestasies wat nog na sy (Fred) se kant toe sou kom. Fred se ouers was wel van die rykstes in die dorp en kon self vir sy studies betaal, maar die Brussels-beurs was 'n sonderlinge geleentheid en die geld kon Fred na nog groter hoogtes help. Herman het die goedgeklede jongman stilweg dopgehou terwyl hy opgewonde oor sy komende studietyd in Europa, geklets het. Fred was voorwaar een van die manne wat met die spreekwoordelike goue lepel gebore is: goedversorg, aantreklik en innemend. Hy sou in enige werkkring, 'n goeie indruk maak. Sukses was sy voorland, sy plek onder die son was klaar bepaal en bevestig.

Na sowat 'n uur, het Herman op sy horlosie gekyk, hy sou aanstaltes moes maak.
"Dit was baie goed om jou weer te kon sien, Fred. Hou my asseblief op hoogte, ek wil graag weet hoe dit daar in Brussels gaan," het Herman die gesprek in die groet-rigting gestuur.
"Natuurlik, ek sal Meneer gereeld kontak - ons het mos mekaar se selfoonnommers. Meneer gaan nog baie trots op my wees, ek het groot planne!" Die bekende glimlag het weer eens laat blyk dat Fred, baie ingenome met homself was.
Herman het opgestaan, Fred se hand geskud en hom ook liggies aan die skouers gevat. "Ek is klaar baie trots op jou, my vriend! Hou net jou voete op die grond, maak gebruik van al die kanse en dink voor jy doen!"
Fred het gelag: "Ja, nou klink Meneer soos in die ou dae! Toemaar, ek onthou, ek sal nie windgat raak nie! Meneer moet groete laat weet aan al die ander onnies, ek hoop hierdie jaar se matrieks gaan Meneer nie teleurstel nie. Ek sit nog 'n bietjie, ek sien netnou vir Kurt, ons gaan ook 'n bietjie kuier."
Kurt was een van Fred se gewese klasmaats, ook iemand wat reeds met 'n graad kon spog.

So stap Herman toe terug na sy motor, en dink aan hoe gelukkig Fred gelyk het en hoe dinge net mooi reg vir die jongman uitgewerk het. Naby die kar het Herman die sleutels uit sy sak gehaal, maar toe word hy in sy spore gestuit.
"Meneer Meyer! Ek het Meneer netnou gesien wegstap, ek kon nie glo dis Meneer nie! Onthou Meneer my? Louisa Muller, ek was in 1980 in Meneer se matriekklas!"
Voor Herman het 'n (so het dit vir hom gelyk) middeljarige, onversorgde vrou gestaan. Haar hare het maande laas sjampoe gevoel en die lewe het plooie en merke op die verweerde gesig gelaat. Tog was die glimlag opreg en Herman kon sien dat sy aangenaam verras en opgewonde was om hom weer raak te loop.
Herman het haar na 'n kort rukkie kon eien. Sy was een van die deursnee-leerders, nooit 'n uitblinker nie, maar stil en op haar plek. Hy het selfbewus gevoel toe hy sien hoe sy van sy opsommende blik bewus word. "Louisa ... Ja, ek onthou jou. Jinne, die jare het vinnig verby gegaan. Hoe ... hoe gaan dit met jou?"
"Dit gaan goed, dankie Meneer! Die geldjies is nie aldag waffers nie, maar daar is darem elke dag 'n broodjie by die huis." Sy het aan haar hare gevat en probeer om die ergste slierte, in posisie te druk.
"Ek het eers by 'n winkel gewerk, Meneer, maar toe loop dinge nie lekker nie. Nou pas ek en my man karre op. Party dae kry ons amper niks, ander dae gaan dit weer beter ..." Sy kon hom nie in die gesig kyk nie.
Herman wou homself so gou moontlik uit die voete maak, hy kon die ellende nie langer aanskou nie.
"Dit was goed om jou weer te sien ..."  Hy het haastig in sy sak na 'n muntstuk gesoek, maar toe hy niks kon raakvat nie, haal hy sy beursie uit en soek na die kleinste noot. Toe Louisa sien dat hy 'n noot gaan uithaal, het haar gesig verhelder.
"Meneer, ek moet Meneer net gou my meisiekinders wys! Miemie! Frieda! Kom groet die meneer! Hy het vir Ma skoolgehou, ek het hom jare laas gesien!"
Daar was 'n beweging op die sementvloer, agter die karre teen die oorkantste muur. Twee mollige, vuilerige en kaalvoet-meisies, met ewe onversorgde hare, het traag nadergestrompel. Hulle het voor Herman kom staan, die hande agter die rug. Beide het grond toe gekyk, en selfbewus, kort-kort van staan verander. Herman het die trane voel opwel, sy binneste het hom aan die goedversorgde Fred laat dink, die een met die geld en die aansien en die onbeperkte moontlikhede.
Louisa het die twee dogters nog meer vorentoe gestoot. "Hulle is al yslik groot, Meneer! Frieda is al in graad agt, Miemie maak vanjaar klaar met laerskool."

Agterna kon Herman nie veel van sy verdere optrede onthou nie. Hy onthou net dat hy die beursie leeggemaak het, vir elke meisie 'n R50-noot in die hand gestop en vir Louisa die enigste R100-noot wat hy gehad het, gegee het. Louisa het dadelik die geld by haar kinders gevat, dit saam met haar eie geldnoot in 'n plastiese sakkie wat sy uit haar verslete denimbroek se sak gehaal het, gesit. Toe het sy die meisies weggestoot. "Toe, loop maak klaar julle huiswerk! Meneer moet weer kom, ek sal uitkyk vir Meneer!"

Herman het nooit weer 'n afspraak by daardie kuierplek, nagekom nie. Hy het dadelik 'n alternatief genoem, as iemand daardie plek voorgestel het.


No comments:

Post a Comment