Wednesday 4 February 2015

Vlekvrye staal

Wanneer die 1957-Chev die skoolhek genader het, het almal stilgestaan. Enersyds uit eerbied vir die engel agter die stuurwiel, maar ook andersyds met 'n glimlag van afwagting: sou ta' Mima deur die hek kom? Haar bruin Chev het per geleentheid die een hekpaal ontwortel, en die kanse was goed dat dit nie die enigste keer sou wees nie!

Ta' Mima Prinsloo was 'n enigma, 'n moederlike figuur(-tjie) wat omgee uitgestraal het. Klein van postuur, met 'n diklensbril en 'n stem wat 'n verstommende repertoire openbaar het - van rustig en vertroostend, tot 'n skrille crescendo wat honde, kinders en hoenders,  na beter tye kon laat verlang het. Dit was die sestiger jare, toe geen betaamlike vrou (veral een van gevorderde jare) dit sou waag om in die openbaar met 'n broekpak of denim te verskyn nie. Ta' Mima se kleertjies was fyn en klein, en ons het grappies oor haar popspeel-skoentjies gemaak. Sulke klein mensvoetjies, had ons nooit voorheen aanskou nie. Haar hare was rooierig en kroeserig, sy was nie een vir optof en salonne nie.

Die bruin Chev was immer vuil van die stof, want ta' Mima het op die plaas Oogiesfontein, waarna die dorp Ogies dan ook vernoem is, gewoon. Die plaas was so vyf  grondpadkilo's ver, en die ene sinkplaat want daar was 'n steenkoolmyn in die omgewing. Tuis moes sy ma (haar dogter was nog aan't huis), vrou (as oom Naas op parool, of genadiglik soms vrygelaat is) en suster (daar was 'n tweeling gestremde broers) gespeel het. Sy was die versorger, die broodwinner en die rots aan wie al haar afhanklikes vasgeklou het. In sy ellende, het oom Naas ook die elmboog gelig en niks daarvan gedink om 'n vark of skaap vir 'n paar bottels te verkwansel nie.

Dit het ons (ek was destyds in Ogies se gekombineerde skool) groot plesier verskaf om ta' Mima se siel uit te trek! Ons het geweet dat sy dit nie kon verdra as kinders op die stoepe gehardloop het nie - en toe doen ons dit, sodra ons gesien het dat haar vinnige stappie iewers heen op pad was. Dan het daardie stem van agter uit die keel gekom: "Maar sal julle nou daatlik vannie stoepe af - dis nie 'n reisiesbaan nie!" Nog 'n groot lekkerte was om die bruin Chev te terroriseer. Persoonlik was dit nooit vir my snaaks as Antoon of Fanie 'n wiel afgeblaas het nie, maar die petalje met die Staal Burger-plakkers, het ook vir my laat skaterlag. 'Staal Buger' was ons gunsteling radioverhaal, van 'n breker wat skelms getroef en vir 'n ses geslaan het. Toe verkoop die SAUK plakkers, met allerlei Staal-gesegdes op. Francois (ook 'n Prinsloo, nogal familie van ta' Mima) kry toe ene in die hande, en plak dit ongesiens op die Chev se modderskerm. Toe ta' Mima die middag oudergewoonte gemik-gemik het om deur die skoolhek te kom, staan ons klomp natuurlik gereed om alles gade te slaan.  Die klein vroutjie wat so net-net oor die stuurwiel kon kyk, met die Chev wat kruipend die hek nader, en die plakker wat lees: 'Dis my doedie daai, sy's versigtig om 'n draai', was skreeusnaaks! Iemand moes na die plakker gewys het, want ta' Mima stop toe, stap om die kar - en sien wat geskrywe staan. Ons moes vir 'n week lank, elke dag die Chev was!

Het ek genoem dat sy 'n engel was? Sy het vir die aanpassingsklas skoolgehou. Dit was destyds die kinders wat nie kon vorder nie, en gesukkel het om deur gr.10 te kom. Dit (standerd 8) was dan ook vir hulle die 'exit phase', soos dit vandag genoem word - hulle kon nie verder nie. Ta' Mima het elke winter vir elke siel in daardie klas, 'n trui gebrei! Ogies is maar aan die koue kant, ek het self soggens met handskoene aan en 'n serp om die nek (Ma het altyd koud gekry) skool toe stap. Elke klaskamer het sy eie klein, ronde koolstofie gehad. Die werkers moes soggens, dis nou as dit winter en koud was, elke stofie se kole pak en aan die brand steek, sodat daar hitte kon wees as die kinders die eerste periode binnegegaan het. Ta' Mima se afvlerkkindertjies was nooit baie nie, maksimum miskien so twintig in die klas. Dan het sy hulle in 'n kring om die stofie laat sit, en toegesien dat elkeen sy of haar trui aanhet en na aan mekaar gesit het. Haar mandjie het ook dikwels groenvye en perskes bevat, wat sy die vorige middag gepluk en dan onder die kinders versprei het. Al was sy soms kwaai, was algar lief vir ta' Mima en het haar as 'n ouma beskou - 'n liefdevolle, deernisvolle en simpatieke ouma. Die hoof se 'Mev. Prinsloo' het glad nie by haar gepas nie, sy was onse 'ta' Mima'.

Gedurende my universiteitsjare, het ek steeds met ta' Mima kontak gehou. Ek het haar geskakel, soms 'n briefie in die pos gegooi , of vir haar versoeke ingestuur (sy was 'n getroue 'U eie keuse'-luisteraar).
Haar naam was ook bo-aan die lys toe ons in 1982 troukaartjies uitgestuur het - en sy het toe ook die troue op Lydenburg kom bywoon! In ons trou-album is daar 'n mooi foto van die bruidspaar met die twee ouerpare by, asook ta' Mima wat ewe belangrik en glimlaggend aan die bruidegom se arm vashou.

Maar, ek wil by daardie les uitkom. Sien, ta' Mima het nooit net die vak aangebied nie. Nee, sy het haar dit ten doel gestel om die bloedjies se algemene kennis ook as verantwoordelikheid te aanvaar. Sy het hulle oor vele dinge ingelig, uitknipsels gewys en verduidelik hoe die hef in die vurk steek. So vertel sy toe die dag van vlekvrye staal, daardie wonderlike uitvindsel wat alles vergemaklik het en in elke huis aangetref word. Die klas het doodstil gesit en ta' Mima se entoesiastiese relaas beluister. Daar was geen uitdrukking van herkenning, of enige vorm van begrip, op die gesigte nie. Dit het ta' Mima opnuut aangevuur en sy het met volle oorgawe die voordele van vlekvrye staal besing. Later kon sy die gebrek aan enige reaksie, nie meer verduur nie.
"Vlekvrye staal, mense - vlekvrye staal! Almal van julle se ma's moet iets besit wat van vlekvrye staal gemaak is!" Dit was 'n stem des roepende in die woestyn. Die kinders het na mekaar begin kyk, die skouers opgetrek en kop geskud.
Toe steek Sarie de Winnaar versigtig haar hand op. "Praat ta' Mima nie miskien van stainless steel nie? Dit lyk amper netsoos ... vlekvrye staal."
Daar was onmiddellik reaksie onder die res. Ja, almal het geweet wat stainless steel was - almal se ma's (en ook pa's) het iets van stainless steel gehad. Ta' Mima het net weer besef hoe enorm haar taak was. Die potlode was oerstomp, sy sou moes slyp en skerpmaak soos nooit tevore nie!

Later jare het ta' Mima, na oom Naas en die tweeling se dood, by haar dogter in Pretoria gaan bly. Ek het steeds die versoekies ingestuur, tot daar eendag 'n boodskap vir my in die pos was: ta' Mima is oorlede, sy was amper 91 jaar oud toe sy die tydelike, met die ewige verwissel het. Vir my was dit hartseer nuus, en ek glo ook vir die tientalle wat haar in die gedagtes en herinneringe gekoester het.

M.E. (Mima) Prinsloo (*22/04/1922 +09/02/1998). Sy was nie sommer nie, sy was vlekvrye staal - voorwaar!

No comments:

Post a Comment