Wednesday 11 February 2015

Sssweni se sstuipe

Pa had 'n ding oor Satara. In my huisgebonde jare, het ons 'n hele paar keer op Satara gaan tentpenne (probeer) inslaan. Pa was 'n geswore kampeerder, daar was nie alternatiewe nie. Satara se klipperige grond ten spyt, is daar leeuwillens (dis mos leeukontrei, sal die gesoute wildtuingangers jou vertel) 'n paar dae in daardie klipgeweste vertoewe.

So besluit ek toe ook maar - jare later, en selwers 'n pa - om my vrou en kroos aan Satara te gaan blootstel. Ons het ook woonwa gehad, en genadiglik 'n kolletjie sanderigheid naby die kampdraad gevind om tydelik penne te sink. Pa se gunsteling paadjie was af na Nwanedzi se rigting, of dalk Timbavati, maar toe onthou ek hoe liries hy ook eendag oor die Sweni-spruit se grondpad geraak het - en dis toe ons oggendrit daardie Saterdag.

Aanvanklik is dit 'n natuurskone pad wat al langs dit wat seker eens 'n spruit was, kronkel. Die oewer is digbegroei, en jou aandag moet pal by die ruigtes wees, anders sien jy g'n dier nie. Toe die paadjie op 'n kol weg van die sandsloot draai, sien ek dat dit om 'n reuse termiethoop kronkel. My aandag was by die gate teen die hoop, want iets moes tog daar gegrawe het en daar is altyd 'n kans dat jy die grouer te siene kan kry. Ons was toe ook net mooi halfpad om die draai, toe ek hom in die pad sien - 'n yslike knewel van 'n luislang! My vrou, wat aan't brei was en haar venster afgedraai het, het opgekyk toe ek so skielik remme aanslaan.
"Wat maak jy?! Jy sal dat ons deur die voorruit trek!"
Sy kon nie verder raas nie, want toe sien sy ook hoe ta stadig sy logge lyf in die rigting van een van die miershoopgate stuur. Sy het net een gil gegee, en soos blits was die venster opgedraai (dit was die dae voor die outomatiese knoppiedruk-vensters).  Ons kyk toe vieserig en skrikkerig saam met die seuns  hoe die waatlemoenlyf deur die gras wriemel en in 'n groterige gat verdwyn. Ons het nog 'n rukkie gesit en kyk of die paradysvloek nie weer sy verskyning wou maak nie, en toe het ek die kar aangeskakel en baie stadig die res van die bultjie uitgery. Ariane (my vrou) het weer haar breiwerk opgeneem, die venster afgedraai en haarself in Krisjan se trui vir die winter, verdiep.

Mens, ons was nie 'n kilometer van daardie termietpaleis af nie, toe gewaar ek 'n langerige stok so aan die kant van die pad (my vrou se kant). Die gedagte aan 'n slang, het wel by my opgekom, maar ek het dit dadelik verwerp, want wie sien nou TWEE slange binne 'n kilometer van mekaar - al is dit in die wildtuin? So ry ek toe ewe manhaftig die stok tegemoet, draai nogal die stuurwiel na links, om mooi te kon sien waarom die stok dan so ... reguit was. Ons was net mooi reg langs die 'stok', toe ek met 'n skok besef dat dit wel 'n slang was - en 'n reuse een daarby!

Wie die grootste geskrik het, ons of die slang, het ek agterna ook gewonder. Met die aanslaan van die remme, skuif die kar in 'n stofwolk vorentoe, en toe ons deur die stof kyk, kyk ons horisontaal in die wrede gevreet van 'n swartmamba vas!  Die liederlike ding het homself opgelig, totdat hy half van bo af op ons neergekyk het en sy lyf het heen-en-weer gewieg, gereed om aan te val. Hierdie keer was Ariane se gil heelwat harder as 'n entjie terug by die luislang, en het sy die rekord vir vinnige opdraai van 'n karvenster, verpletter! My hart wou by my keel uitspring, die kinders het agter in die kar platgeval en een het doodbenoud uitgeroep: "Ry, Pa! Ry net!!" Dit was nie nodig nie, want binne sekondes was ons 'n hele, veilige afstand van die grootste swartmamba wat ek in heugenis gesien het. Ek het in die Laeveld grootgeword, maar daardie mamba was groter as enigeen wat ek voorheen gesien het - heelwat groter.

Die Cressida was daardie dag die stille getuie van vier De Wets wat by stuipe omgedraai het. Daarna het ons dikwels weer tussen Satara en Tshokwane gery, en die Sweni-padwyser gesien. Net gesien, want om verstaanbare redes, wou ons nooit weer daar afdraai nie!

No comments:

Post a Comment