Wednesday 25 September 2013

The Hurdy Gurdy man ...

Haar naam was Chrissie Bezuidenhout. Hulle het in 'n myn-skakelhuis gewoon, ene met 'n groen dak, geel mure en 'n lang, smallerige stoep voor. Daar was trappies af na 'n effense tuintjie ... ek dink daar was 'n paar roosbome?

Dit was my eerste uitnodiging na 'n partytjie. Chrissie het verjaar, as ek reg onthou.  Ma het my gehelp om 'n ietsie vir Chrissie toe te draai en 'n kleinerige kaartjie te skryf. Ek het gehoor dat daar 'n sekere protokol aan 'n partytjie gekoppel was.

Willie en die Badenhorst-meisie was ook daar. Hulle het styf teen mekaar op 'n lae rusbank , in die halfdonker sitkamer gesit. Helga het groot en gesellig deur die partytjiegangers gevleg, hier en daar geselsies aangeknoop. Antoon het kort-kort sy Texan-laggie laat hoor, terwyl Fanie se half-boggelrug die hele aand in die omgewing van die tafel met drinkgoed, te siene was. Die Oosthuizen-broers het rugbystories vertel, terwyl 'n paar meisies met draadjies, aan hulle arms en lippe gehang het.

Buite die huis, was die smallerige stoep die fokuspunt van die feestelikhede. 'n Paar kerse het die enigste skemer verskaf. Oral op die rooigepoleerde stoepmuurtjie, het Tupperware-bakkies met kaaskrulle, Simba-skyfies en raaiselagtige doopsouse, gestaan. Sporadies het die Bezuidenhout-pa of ma, die plastiese bakkies hervul en so hier en daar, die sigaret-as van 'n lappie afgevee. Dit kon net Antoon s'n gewees het, het almal beaam.

Maar, dit was die musiek wat my gefassineer het. Tuis was Jim Reeves en SlimWhitman die enigste stuitighede wat Pa toegelaat het - dis nou naas die ewige operamusiek wat Pa na geluister (en 'n sestienjarige seun verpes) het. By Chrissie-hulle is langspeelplate gespeel,  plate van onbekende sangers en sangeresse, van wie ek nog nooit gehoor het nie. Die ritme was vreemd aanloklik, ek kon dit deur my wese voel spoel. Daar was 'n opwindende harmonie tussen die polsende ritme, Antoon se skelm rookwalmpies en die oudste Oosthuizen-broer se metaalbotteltjie wat hy ongesiens (het hy geglo) 'n paar keer in die dieper skemer uitgehaal en 'n teug van gevat het. Ek het hulle die avontuur beny, heimlik gewens ek kon meedoen ...

Ek herinner my dat Marietjie, Chrissie se ouer suster, op 'n kol langs my kom staan het. Haar blik was simpatiek en meewarig, so asof sy verstaan het wat in my gemoed aangegaan het. Sy het my liggies aan die skouers gevat en die dofverligte sitkamer binnegetrek. 'n Onbekende seun het die Pilot-platespeler beman, en Marietjie het 'n plaat opgetel en met 'n bemoedigende knipoog aan hom oorhandig. Hy het dit op die draaitafel gesit ...   Die misterieuse klanke van "The Hurdy Gurdy man" van ene Donovan,  het soos wierook deur die lug aangesweef gekom. Marietjie het haar greep op my skouers uitnodigend in 'n rigting gestuur - en ons het ritmies op maat van die Gurdy-man deur die vertrek beweeg. My heel eerste dans!

Vir 'n wyle het die gedagte aan wat pa se reaksie sou wees as hy sou uitvind, my van enige ritme ontneem, maar die atmosfeer, die sagte beligting en Donovan se sensuele stem, het my aan Marietjie se leiding oorgelewer. Ek was skoon lighoofdig van opwinding, en het binne 'n paar sekondes een met die ritme geraak en te gou, veels te gou, was die plaat klaar.

Marietjie het haar vir die res van my toegelate teenwoordigheid-tot-halfnege, nie weer aan my gesteur nie. Chrissie was die moederlikheid self en het skyfies en kaaskrulle aangedra, terwyl Helga se bolwange in 'n glimlag vertrek het, wanneer ons mekaar beoog het. Ek was nie meer myselwers nie, ek het asof in 'n waas, alles oordink en probeer om te onthou waarom dit dan sonde sou wees.

Een van die eerste plate wat ek myself as werkende jongman geoorloof het, was Donovan se "The Hurdy Gurdy man". Intussen het ek ook 'n oor vir 'n ander snit op dieselfde langspeler, "Atlantis", ontwikkel, maar die herinneringe wat met die Gurdy-man gepaard gaan, maak daardie liedjie een van my groot gunstelinge!

No comments:

Post a Comment