Sunday 6 October 2013

Die spesiale vergunning.

Jare gelede het ons die straat onder meer met 'n bejaarde, afgetrede spoorbaaninspekteur gedeel. Oom Jock met sy geboë figuur, wat sy swart brak vir die oggend- of middagwandelinkie geneem het (om landmyne elders te gaan stel) was 'n bekende gesig in die straat. Wee jou as jy toevallig binne oom Jock se gesigsveld was, want dan moes jy terstond na die langasemkriek luister - én die stories was gewoonlik dieselfde, tot vervelens toe.

Waarom hy my as die ideale toehoorder uitgewys het, sal ek nou nie weet nie, maar oom Jock was alewig voor ons erf aan't lope en kyke - met die swart gediertetjie as vals getuie. Toe ons nog boonop met sy vrou om steggies-ontwille bevriend geraak het, het hy ons as't ware as familie hanteer. "Tannie Nellie stuur hierdie plantjie, toe dag ek maar ek bring dit gou. Ek kan ongelukkig nie vertoewe nie, maar wil jou darem vertel van my ..." was gewoonlik die aanknopingspunt vir nog 'n uitmergelende sessie.

Ewenwel, toe besluit oom Jock dat hy en die tannie, darem weer 'n slaggie by sy dogter in Natal, 'n draai moes gaan maak. Genadiglik moes die brak saam, want die oumense het niemand genoeg vertrou om die agste wonder van die wêreld, op te pas nie. Die aankondiging van die komende Natal-besoek, was dan ook weer 'n verskoning om - in oneindigende detail - sy 'oulike buurman' persoonlik te kom verwittig. 'n Uitgebreide reisplan is aan my uitgelê, waarna die oom sy swart sakboekie uitgehaal en gewys het hoe hy die brandstofverbruik tot op die sent, uitgewerk het.
"Ek en die tannie gaan sekerlik 'n draaitjie in Durban maak, om van daardie spesiale Oosterse kerrie te gaan koop. Hou julle van kerrie? Ek gee glad nie om, om vir julle 'n bietjie daarvan saam te bring nie." Oom Jock het my so afwagtend aangekyk, dat dat ek maar gemaak het of ons Indiese kos waardeer en sy aanbod aanvaar het. 'n Ou kerrietjie so nou en dan, kan nie skade doen nie. Die oom se goedhartigheid om sy kerrie met ons te deel, moes darem erken word.
"Baie dankie, oom Jock. Dis baie gaaf van oom. Ons hou nogal van 'n kerrie-gereg, so af en toe." Sy breë glimlag het gewys dat hy die goeie daad met liefde sou verrig.

So is die twee oues toe vort Natal toe , en kon ons vir 'n week of twee sonder landmyne op die sypaadjie en vertellinge uit die verre verlede, net ons rustige gang gaan. Dit was natuurlik my taak om tannie Nellie se tuintjie te versorg . Ek het die kans goed benut, want daar was 'n paar 'baie spesiale plante' waarvan niemand ooit as te nimmer, 'n steggie sou kry nie -  as jy verstaan wat ek bedoel!

Die twee weke was skaars verby, of oom Jock het in die agterdeur gestaan. Hy het hartlik gegroet, hom by die kombuistafel tuisgemaak en toe breedvoerig van die heen- en terugreis relaas, en hoe duur petrol geword het. Na die gebruiklike koppie boeretroos (by sy huis het die tannie slegs tee bedien) het oom Jock die hand in die baadjie se binnesak gesteek en 'n piepklein kardoesie tevoorskyn gehaal. Ek kon nie dink wat dan in so 'n klein houertjie kon wees nie.
"Hier is julle kerrie," het hy selfvoldaan gesê. "Julle sal dit baie geniet, die tannie het gisteraand daarvan in haar bredie gegooi, dis baie lekker."
Ek het skoon van die beloofde kerrie vergeet, maar het myself gou reggeruk en so dankbaar as moontlik probeer voorkom. "Sjoe, dis 'n baie welkome geskenk, oom Jock! Baie dankie, ons waardeer oom se moeite! "
Oom Jock het skielik ongemaklik geraak en effens gekug voordat hy sy woorde agtermekaar kon kry.
"Ons het dit presies afgemeet, dis op die kop dertig gram. Ek het dit baie goed uitgewerk, julle deel is net twee rand veertien sent."

Ek dink my mond moes van verbasing oopgeval het, want die oom was skielik baie tegemoetkomend. Hy het my vriendelik aangekyk, soos een wat sy ewenaaste se heil op die hart gedra het: "Julle moenie bekommerd wees nie, ek en die tannie het besluit om nie BTW te vra nie."

'n Spaarsamige geaardheid is seker 'n positiewe eienskap, maar blatante vrekkerigheid is darem te veel vir vlees en bloed! Dit was nou een 'spesiale vergunnig' wat ek NIE waardeer het nie!

No comments:

Post a Comment