Monday 2 September 2013

Die kiosk

Die dorpie Maclear was in die sestiger jare voorwaar 'n prentjiemooi plekkie. Waar ons neffens die spoorwegstasie gebly het, kon jy afstap rivier toe (waar daar gewoonlik 'n forelhengelaar of twee sy geduld geïllustreer het), of jy kon die berg wes van die stasie uitklim, tot waar die naam 'Maclear' in witgeverfde klippe uitgespel was. Vir 'n jong knaap van veertien was die moontlikhede legio ... tot selfs by die geheimsinnigheid van oom Pagel se kiosk.

Langs die pragtige sandsteenstasie, was 'n kleinerige sinkgeboutjie - die stasiekafee. Dit was nie veel meer as slegs 'n kiosk nie, 'n eenvoudige en onopvallende struktuurtjie, met 'n klap wat aan die een kant kon opslaan, om die bedieningsblad ruimte te gee. Die effens geboë figuur van oom Pagel, die eienaar van die kiosk, kon soggens en laatmiddae gesien word, as hy vanaf iewers in die dorp, stasie toe gestap het om sy klein onderneminkie te kom bedryf.

Pa het soms van Pagel se sirkus vertel. Daar in die 1940's en 1950's het Pagel se sirkus, Bethal glo gereeld besoek. Ouma-hulle sou nooit hulle aan sulke stuitighede skuldig gemaak het nie, maar Pa was toe 'n werkende jongman en het gereeld sirkus toe gegaan. Hy was maar vaag oor verdere detail, soos saam met wie hy sy besoekies geniet het, maar dit het ook nooit saakgemaak nie - ek het aan sy lippe gehang as hy van die artieste en tiers en bere vertel het.

So trek ek toe, in my seunsgemoed, die verband tussen Pa se Pagel van die sirkus, en oom Pagel van die stasiekafee. Ek was vas oortuig dat hierdie oom, by wie ek soms vir Ma melk of vuurhoutjies moes gaan koop het, die einste Pagel was - die een van die tiers en die bere. Ek het oom Pagel se geheim in my binneste probeer ontrafel, na moontlike redes gesoek waarom hy die glanswêreld van die sirkus, vir 'n sinkgeboutjie verruil het. Die feit dat oom Pagel sulke donker, deurdringende oë gehad het, was vir my 'n verdere bewys dat hy groot geheime met hom saamgedra het.

Per geleentheid het oom Pagel vir my gevra hoekom ek hom so aangekyk het. Ek kan nie onthou wat ek as verskoning uitgedink het nie, maar ek was toe daarna versigtiger met my kyk. Maar, die heerlike moontlikhede wat my gedagtes rondom oom Pagel opgetower het, het geen einde gehad nie.

As ek vandag daaraan dink, kan daar tog nie so baie mense in die land met die van 'Pagel' wees nie? Wie weet, dalk was my idees nie so vergesog nie - dalk was hy regtig dié meneer Pagel, die ene van die groot tent.

Ek moes dieper op die saak ingegaan het. Daardie kiosk was dalk meer as net 'n obskure sinkkaiatjie. Miskien het die oom nog 'n ietsie van sy gloriedae, daarbinne weggebêre ...

No comments:

Post a Comment