Wednesday 25 September 2013

Ondubbelsinnige dubbelsinnigheid

Niemand het dit gewaag om van mnr. Watermeyer 'n vyand te maak nie. Sy a la bokser-stappie en gure wenkbroue wat sy snor-wangbaard kombinasie gekomplementeer het, was klaar vreesinboesemend genoeg!

Kordaat soos 'n man van gesag op 'n belangrike missie, het Moerassie (die werklike bynaam is ietwat sensitief ...) die skool se gange gepatrolleer. Hy had 'n valkoog vir enige gewaagde af- of uitwyking van sy pedagogies gefundeerde moets en moenies. Wee jou as sy ietwat tekort aan lengte, by jou klaskamer se te lae vensters, gepas het! Hy het nie ingeloer om die klasversierings te waardeer, of sy onderdane se hardwerkendheid te waardeer nie, o nee - sy periskoop het die waters getoets vir enige sweempie van buite-die-beleid handel. Waffer beleid nou die eintlike ene vir navolging was, het ek nooit kon bepaal nie.

Per geleentheid het sy observasie my 'n deeglike skrobbering op die hals gehaal: my klas was glo 'te vuil vir behoorlike onderrrig'. Nie eens my alibi dat ek sillabusgedwonge, uitknipsels moes laat maak het, het indruk op hom gemaak nie. Daar was nie genade nie, ek moes terstond en soos in onmiddellik, die onderriglokaal in 'n 'verantwoordbare, pedagogiese ruimte, herstel' (of soiets).

Ewentwel, net toe ek die laaste periode so 'n bietjie spoed gegee het om tien minute voor die verlossingsklok klaar te kon wees (om klas te laat skoonmaak), trap ek toe met al vier voete in die ... daisies. Sien, toe die spulletjie aan't vee en woel was om papiere op te tel en snippermandjie leeg te maak, doen meneer W toe weer sy rondte. Die gevolg was dat ek WEER aangespreek is - en hierdie keer kon ek duidelik aanvoel dat ek my baas hoogs ontsteld gehad het!

Maar, waarby ek nou eintlik wil uitkom, is die Maandag toe die modderman (gegewe sy bynaam) al stomend die saal binnegestorm het. Hy het met afgemete tree die verhoog genader, op so 'n bombastiese wyse die trappe op gestoomroller, dat sy harde voeteklap al wat leerling was, se klank summier afgetrap het. Met glurende kykers het hy sy blik oor die gemeente laat gaan, die kateder met beide hande omklem, en toe sy wrewel met die afwagtendes gedeel.

"Die groot probleem in hierdie skool, is dat 'n mens alles moet herhaal. Alles moet altyd weer en weer onder julle aandag gebring word!"

'n Doodse stilte het die verskrikte gesigte geselskap gehou. Niemand het dit gewaag om onderlangs selfs net te fluister nie. Niemand het eers na  links of regs gekyk nie. Nog nooit het hulle die Hoof so kwaad gesien nie.

"Maar," en nou het Moeras 'n dreigende houding aangeneem, "dis nou die einde hiervan! Van nou af, sal NIKS in hierdie skool, herhaal word nie. Het julle mooi gehoor? Van vandag af, word niks in hierdie skool herhaal nie!".

Wie die eerste dapper proes gegee het, kon ons nie later bepaal nie. Die een waagstuk, het tot 'n ander gelei - en binne 'n ommesientjie was die hele saal aan die giggel! Ou Watermeyer se gesig was soos 'n elektroniese reklamebord - kleure van alle skakerings, het sy gelaatstrekke oorspoel. Hy het woes met die arms geswaai, sy stem probeer verhef, maar dit het die gegiggel in 'n onbeheerbare geskater laat ontaard. Wat sekerlik vir die man die ster bo-op die Kersboom was, was die feit dat sy onderdane wat die stoele agter hom gevul het, OOK nie hul lag kon beteuel nie. Dit was die laaste strooi - hy het soos 'n weghollorrie die sygordyne amper uit hulle nate geloop ... en ons het hom daardie rampspoedige dag (vir hom, altans) nie weer gesien nie.

Toe ek later van jare die reg tot toegang van my eie dokumentasie bekom het, het daar in duidelike, swart letters, in mnr Watermeyer se didaktiese handskrif,  onder my naam gestaan: ''Belowende leerkrag - net jammer van die swak klasdissipline.''

Ag wat, daardie saal-petalje toe ons so heerlik gelag het, het selfs 'n negatiewe inskrywing agter my naam, die moeite werd gemaak!

No comments:

Post a Comment