Sunday 8 September 2013

Die gemeente bereik konsensus

Ten einde die susters se koffers vir die komende Kers-funksies 'n hupstoot te gee, het dominee besluit om ampshalwe, Samaritaan te speel en sy vooroordeel teen Lettie Louw se voorsitterskap 'n wyle ter syde te stel. Daar is in die konsistorie vergader, en dag en datum en komitee is genotuleer.

Die dae wat gevolg het, is deur menige teedrink-ter-wille-van gekenmerk. Lettie het na snelrat oorgeskakel en haar komiteelede het algar 'n portefeulje en gepaardgaande werk, gekry. Die kerksaal is bekom (Lettie het dominee se skielike inskiklikheid nogal vreemd gevind, maar toemaar) en die program vir 'n gemeente-konsert, is saamgestel. Iedereen van dominee se skape wat noot kon hou, is
opgekommandeer en daar is Dinsdae- en Donderdae-aande geoefen, of eerder 'gerepeteer', soos Lettie haar kultuurstempel afgedruk het. Sy het gesorg dat daar balans in die program was, want g'n oor wou NET na sang luister nie. Alta Hertzog was alom bekend daarvoor dat sy die F.A.K. op die klavier kon deurspeel, en Soois Muller se bekfluitjie-solo's was ook nie te versmaai nie.

Toe die susters in die laaste week van beplanning was, gooi Meisie Hennop skielik 'n ongemaklike knuppel in die hoenderhok.
"Haai susters, dit sal darem nie mooi wees as ons nie die arme bloedjies van die spesiale skool vra om
 ook 'n item te lewer nie. Mens, ek hoor hulle het tog so 'n oulike slagorkessie!" Meisie het dit so mooi gestel, dat die dames dit moeilik gevind het om van die teekoppies af, op te kyk.
Lettie moes op haar voete dink, want toe die blikke so die een na die ander gelig het, was almal op
haar gerig. Sy het in beginsel nie 'n probleem met die hemelkindertjies se deelname gehad nie, solank dit by een item gebly het - en so kort as moontlik. Haar reputasie was immers op die spel, sy moes 'n wakende oog oor die gehalte van die items hou.
"Susters," het sy die finale stem laat hoor, "ons is dit aan die gemeente verskuldig om al die siele, al is hulle ook hoe ... hoe sonder veel talente, by ons projek te betrek. Ek sal die prinsipaal kontak en die nodige doen."

Mens, so is daar toe mos gerepeteer en gerepeteer - sonder die spesiale skool. Hulle het laat weet dat hulle sommer daar in hul koshuis se eetsaal, die simbale en driehoekies en kastanjette geolie hou.
Die kerksaal se vloere is gepoleer, die saalgordyne gestofsuig en Lettie het iemand aangewys om 'n ruiker of drie vir die groot aand te rangskik. Daar sou noodwendig 'n langerige pouse wees, om die verkoop van die toegangskaartjies se inkomste aan te vul. Die verversings-subkomitee van Helena Swart was soos rooimiere wat 'n piekniek ontdek het: besiger as besig!

Die groot aand van die gemeente-konsert het uiteindelik aangebreek. Die broeders en susters het die goeie saak ruimhartlik ondersteun en die saal was stampvol. Koos Willemse was die programleier, of dan die 'fasiliteerder', soos dit deesdae bekend staan. Hy het almal verwelkom, 'n gepaste grappie of drie vertel - en toe is die purper gordyne oopgetrek. Een na die ander het dominee se siele die verhoog betree en daar is gesing, voorgedra en toneeltjies opgevoer. Selfs Anette van Rooyen het haar voor die tyd laat ompraat om 'n Jacques Brel-nommertjie wat sy een aand in Rotterdam by 'n straatsanger gehoor het, aan die plattelanders bekend te stel. Almal het hoflik en bedees geluister, want Anette was een van die weiniges in die kontrei wat toentertyd al oor die landsgrense was.

So breek die oomblik toe aan vir die spesiale skool om hul slagorkessie op te stel. 'n Semi-bejaarde vrou wat skynbaar hulle afrigter was, het die bloedjies in 'n voorafbepaalde orde laat staan. Almal was in khaki geklee, behalwe 'n opgeskote meisie met twee poniesterte wat na rigtings gesoek het. Sy het maagdelik wit in haar kerkrokkie gelyk en was besig om die mikrofoon te toets. Die gehoor was tjoepstil en hier en daar het 'n tannie by voorbaat haar sakdoekie uit die handsak gehaal. Om engelkindertjies so in aksie te moes aanskou, sou sekerlik die trane laat vloei.  Die ouerige dame het die teken gegee, die orkessie het tanderig geglimlag - en die eerste tromslae het die kerksaal gevul.

Natuurlik was die 'musiek' kakofonies en myle weg van enige ritme of melodie, maar die 'waarderende' gehoor het beleefd applous gegee toe die 'liedjie' genadiglik sy stuiptrekkings gegee het. Dis net hier waar poniestertjie die lig gesien het! Sy het van oor tot oor geglimlag, 'n geheimsinnige kode of drie vir die orkeslede gewys - en uit volle bors weggeval met 'Ramaja'!
Daar is ongemaklik rondgeskuif, gekug en toe sy die laaste noot langer as wat nodig was, uitrek tot selfs  die susters in die voorportaal wat by die primusse was, die swaaideure moes toestoot, het die gehoor spontaan begin klap - onverbloemd uit dankbaarheid dat die marteling sy einde gevind het.

Weer het ponietjie breed geglimlag. Hierdie toejuiging het haar wildste drome oortref! Die mense hou van haar sang - hulle vra nog! Binne sekondes was die orkeslede weer in posisie - en daar is WEER ge-Ramaja!  Terwyl al hoe meer lidmate hulle stigtelikheid begin verloor het, het Lettie besef dat sy iets drasties moes doen, anders was pouse se verkope daarmee heen. Toe die wit nagtegaal daai laaste noot weer op Bronkhortspruit gaan haal en uitrek tot by Ohrigstad, het Lettie vinnig 'n paar krisante uit een van die rangskikkings gepluk, dit in Koos se hand gestop en hom vorentoe gestoot.
"Koos, kry haar van die verhoog af - nou!"
Arme Koos wou eers protesteer, maar ook hy kon die slagting nie verder verduur nie. Hy stap die wit ene tegemoet, druk die blomme in haar hande, wuif vir die gehoor, en trek die spesiale skool se solis tussen die sygordyne in. Daar is agterna vertel dat sy tot buite die gebou, nog vir die skare gewaai het en die blomme styf teen haar boesempie vasgedruk het.

Wat later om die koeksistertafel deur van die susters genoem is en deur talle beaam is, was die feit dat die wit verskrikking se laaste 'Ramaja' geen, soos in GEEN applous gekry het nie ... Daar is glo bevind dat daar 'n tipe onuitgespreekte , gemeenskaplike gemeente-gevoel was - uit vrees dat enige verdere teken van 'waardering', NOG 'n 'Ramaja" tot gevolg sou gehad het.

So het 'n onskuldige solo by 'n gemeente-konsert, die broeders en susters tot 'n eenheid saamgesnoer.

No comments:

Post a Comment