Saturday 14 September 2013

Gevalle held

Oorle Pa was mos 'n stasiemeester op sy dag. Hy het in die beginjare van sy SM-wees, die klein stasietjies rondom Bethal bedien, en so land hy per geleentheid op Davel, oos van sy geboortedorp.

Omdat Pa nog aan die regte kant van dertig was, was die platjie-geaardheid van hom, nog vars en immer soekende na 'n kansie om diegene met wie sy pad gekruis het, 'n streep te trek. Pa het altyd veel vreugde daaruit geput om die appelkar om te gooi - veral as dit een was wat nie omgooi geken het nie!

Frans Duvenhage se orrelpypies moes elke tweede dag sy koerant by die stasiegeboutjie gaan haal, want die dagblad het al om die ander dag, eers sy opwagting op Davel gemaak - per trein, natuurlik. Frans was verknog aan sy leesstof en het die kindertjies vroeg-vroeg uit die bed geboender om eers vir hom die draai op die stasie te maak. Koerante was daardie tyd maar skaars, en die kleintjies het ook soms deur die bladsye getoer ... en toe ontdek hulle die strokiesprent, "Die Skim". Later was dit 'n genaellery stasie toe om eerste by die koerant te kom, sodat die gelukkige een EERSTE van die gemaskerde wonder se nuutste heldedaad kon lees, en die sketse kon aanskou. Selfs die man se hond (Duiwel) was 'n gunsteling! Pa het gewoonlik 'n geselsie met die bloedjies aangeknoop, en hulle dan gevra waarmee die Skim hom dan deesdae doenig hou. Dan het hulle mekaar doodgepraat om te vertel.

Daardie Vrydag was daar 'n ontsporing by Kippen-halte, kort duskant Bethal. Die trein is noodgedwonge vertraag - en dis net daar dat Pa se stoute gedagtes weer in rat gekom het. Hy het geweet dat die pypies nie kon wag om te sien wat hul held na die vorige uitgawe, sou doen om die skelms vas te trek nie. Toe Buks en sy verwante aangehardloop kom, was Pa reg vir hulle.

"Oom Essem, ek wil asseblief eerste die koerant kry!" het Buks al van ver af geskreeu. "Ek wil eerste sien wat die Skim met daai diewens gemaak het!" Protesterende stemmetjies het hom in die rede geval, maar Buks was vas van plan om hom nie van stryk te laat bring nie.
Pa het sy gesig gemaak-ernstig gehou. "Buks jong, daar het 'n lelike ding gebeur. Die trein kon nie vandag die koerant bring nie."
Buks se gesig was vertroebel, hy het byna in trane uitgebars. "Maar hoekom nie, oom Essem ?" Die "Essem" was van die afkorting vir 'stasiemeester', SM.
"Nee jong, die Skim kon toe mos nie die skelms keer nie, en een van hulle het hom toe ... toe ..."
Toe was al die kleintjies om Pa geskaar. Hulle het smekend na hom opgekyk. Pa wou-wou sy plan laat vaar, maar die moedswilligheid het op sy skouer gesit.
"Ai, dis 'n groot ding hierdie!" Pa het oor sy ken gevryf. "Ek is so jammer, die Skim het dit nie gemaak nie, hy is dood. Dis hoekom daar nie eens vandag 'n trein is nie."

Die spulletjie het soos een man aan't huile gegaan en dadelik huis toe gehardloop om die skokkende en tragiese nuus te gaan oorvertel. Pa het vertel dit was 'n vreeslike gesig om die betraande gesiggies te aanskou. Sy gewete het hom wel begin pla, maar hy kon nie wag om Frans se reaksie te beleef nie.

Dit was ook nie vyf minute later nie, toe was Frans op die stasie. Hy was skoon uitasem en wit om die kiewe.
"Genade tog, Essem! Wat het jou besiel om soiets vir die kinders te vertel?! Hettie sukkel nou nog om hulle tot bedaring te bring! Buks gaan nooit weer met jou praat nie - hy is smoorkwaad!"
Pa kon sy lag nie hou nie. "Maar Frans, het jy dan nog nooit vir Buks-hulle vertel dat die Skim, net 'n storie is nie? Daar is mos nie so 'n man nie?"
Toe was dit Frans se beurt om die trane vergeefs te probeer bedwing. "Essem ...? Is dit waar?? Dit kan tog nie wees nie? Daar was dan nog altyd 'n Skim?!"

So het die held toe vir meer as net die kindertjies geval ...

No comments:

Post a Comment