Sunday 15 September 2013

Die regte keuse

Dit gebeur soms dat die vlees se onwilligheid, die gees noop om vindingryk en pro-aktief te wees. Wanneer die juffrou dan ook die herfsjare van haar onderwysloopbaan bereik het, is dit nie eens nodig om veel van 'n poging aan te wend om die vlees te ontmoedig nie!

Omdat Laerskool Hopendal 'n hele ent buite die dorp was en merendeels kindertjies uit die agtergeblewe gemeenskap in sy geledere gehad het, moes daar op die plaaslike grootskool  staatgemaak word wanneer 'n sportbyeenkoms (meer af as toe) beplan is. Toe Hopendal dan ook die jaar die jaarlikse interlaer moes aanbied, het die grootskool nie veel van 'n keuse gehad nie.

Juffrou Botes, boekig en geensins 'n sportentoesias nie, had daardie jaar 'n graad 1 -klassie, vol bekkige gesiggies. Met die skooltjie se gehawende finansies wat maar gedurig alle planne gekniehalter het, kondig die Hoof toe af dat Hopendal se bloedjies  die hele vyf kilometer na die grootskool sou moes stap - met die klasonderwysers as koerswysers en beskermlinge. Dis net hier waar juffrou Botes die innerlike verset voel opwel het. Sy het die opsies goed oorweeg - en haar taktiek fyn beplan.
"Het julle gehoor, ons gaan Vrydag na die grootskool toe vir atletiek?" het sy gemaak-onskuldig gevra.
"Jaaaaa, Juffrou!" het 'n opgewonde koor laat hoor.
"Weet julle hoe verskriklik ver is die grootskool van ons af ?" Sy het die skroef so 'n draaitjie gegee.
Sielie Fortuin se groot glimlag het verraai dat sy haar kennis graag met die ander wou deel: "Juffrou, dis annerkant oom Lewies se winkel en verby antie Pollie se pienk huis!".
"Maar dis m.... ver!" het Tjokkie Arendse laat hoor. "Hoe moet ons daar kom?!"
Juffrou Botes was verheug oor Tjokkie se gedagtegang. "Die Hoof wil dat julle al die pad soontoe moet LOOP!".
Tussen enige klompie sieletjies sal daar maar altyd 'n paar moedswilliges wees wat hotkant toe wil beur. 'n Sproetgesiggie het haar nie laat afsit nie. "Ag, dissie verrie, ons is tjop-tjop daar!"

Krisistyd. Juffrou Botes het egter 'n paar troefkaarte gereed.
"Volgens die Hoof, moet ons kortpad vat - deur die veld. Daar is net sulke groot dorings wat julle baie seer gaan steek!" Sy beduie so 'n vistermans-beduie. Hier en daar raak 'n gevreetjie befrons.
"Die TV het gewys dat dit Vrydag BAIE warm gaan wees - die son gaan julle brand dat julle so rooi soos tamaties gaan wees!" Die bekommerde gesigte word meer. "Tannie Pollie se groot hond het gister 'n man aan die been gebyt, toe die ou 'n hele ent van die huis af, verbygeloop het!"  Selfs sproetgesiggie glimlag nou nie meer nie.
"Julle gaan verskriklik dors wees, julle tonge sal in julle monde vassit! En, daar gaan niks by die grootskool te drinke wees nie!".
Selfs die dapperstes kan net soveel verduur. Sproetjies se gesiggie het nou 'n verskrikte uitdrukking en met een sin, verwoord sy die hele graad 1- klas se besluit: "Sjoe! Nee, Juffrou - dan bly ons maar net hierso! "

Dit was nie moeilik om die Hoof te oortuig dat die graad eens nie kans gesien het vir die langpad grootskool toe nie. Juffrou Botes se gewaardeerde toeskietlikheid om al die atletiek-opwinding prys te gee, om die haasbekkies daardie dag besig te hou, is ook sonder verdere ophaal, met dank aanvaar.

Die doel, heilig die middel. Juffrou Botes het die saak mooi oordink, en toe besluit dat sy wel korrek opgetree het deur die kleintjies 'pedagogies te lei', om die regte besluit te neem ... vir beide partye se beswil.





No comments:

Post a Comment