Saturday 6 December 2014

Valerie se wraak

Wouter was daardie oggend, getrou aan sy geaardheid, heeltemal te vroeg by sy bestemming. Hy het die vroegoggend-verkeer hopeloos oorskat en die afstand tussen Gordonsbaai en die Kaapstad- lughawe, in 'n skaflike tyd voltooi. Na 'n vinnige besoekie aan Kleinmond, moes hy terug Transvaal toe - so op sy eie.

By die lughawe het dinge eweneens vinnig verloop. Die huurkarretjie is terugbesorg, daar is ingeboek en Wouter was spoedig een van 'n groot groep wat vir oggendvlugte moes wag. Sy vlug sou eers oor 'n uur vertrek, en dit het Wouter laat besluit om die tyd met 'Die Burger' en 'n koffie-en-eetdingetjie te verwyl. Hy het hom by 'n hoektafel tuisgemaak, die koerant van agter af begin deurblaai (sport kom altyd eerste) en was spoedig in 'n onderhoud met Maties se nuwe rektor, verdiep.

Na 'n paar minute het Wouter, so uit die hoek van sy oog, 'n groterige gedaante gesien naderbeweeg. Hy het hom weer by die onderhoud bepaal, maar tog die gevoel gekry dat hy moes opkyk. Dis toe dat hy haar sien: die ewebeeld van die Nieu-Zeelandse gewigstoter, Valerie Adams, het groot en oorheersend, langs sy tafel gestaan. Sy was soos die ander kelnerinne aangetrek, net in groottes wat die ander s'n na popklere laat lyk het.

"Iets om te drink? Dalk iets vir die honger?" Valerie het met die linkerhand aan haar bolla gevroetel.  Daar was 'n belangelose, afwesige kyk op haar gesig, so asof Wouter se antwoord nie regtig vir haar saakgemaak het nie.

Sy moes seker gesien het dat hy in ongeloof na haar gestaar het, want sy het ook met die ander hand gewerskaf om die halstarrige hare in posisie te kry. " Lyk dit beter?" het sy op dieselfde stemtoon gevra. "Daar's nie soggens tyd om op te dollie nie."

Wouter het effens selfbewus gevoel, en dadelik die onderwerp verander. "Ek sien nie die 'Morning Mug' op julle spyskaart nie." Hy moes vir drie dae na homself omsien en was nogal lus vir sy gunsteling wanneer hulle soms by die franschise op hulle dorp, 'n ligte ontbyt gaan geniet.

Valerie het verontwaardig die spyskaart van die tafel af opgetel, vinnig deurgeblaai en gemaak-hoogdrawend geantwoord: "Maar natuurlik, ek ken dit. Dis yogurt met neute en heuning."
"Ja, ek hou nogal daarvan. En 'n cuppacino, asseblief - met skuim", het ek dadelik bestel.

Die lywige kelnerin het haar gewig na die ander voet versit. "Ek bring. Ja, dis maar die ou lewe. Party rits lekker rond, ander moet maar werk om te oorleef."

Wouter het nie geweet wat om te antwoord nie. Sy het traag omgedraai en sleepvoetend om die pilaar verdwyn.

Die koerant was meteens nie meer interessant nie. Wouter het vinnig na die opskrifte gekyk, maar daar was niks wat sy aandag getrek het nie. Sy gedagtes was by Valerie met die hartseer gesig waarop lewensmoegheid in monotone letters geskryf gestaan het. Haar uitsigloosheid en verstarde voorkoms was in skrille kontras met die opgewonde en vrolike gesigte van die meerderheid van die  vakansiegangers wat oral by die tafeltjies gesit en kekkel het. Wouter het onwillekeurig aan Eybers se 'Melkkantien' gedink: "Wat maak sy hier waar alles glim ..."

Valerie het om die pilaar geloer. "Bietjie muesli by?"

"Huh ... ja ... ja, asseblief," het Wouter half verbouereerd geantwoord. Sy het hom werklik laat skrik, so vanuit die niet. Hy wou nog verder reageer, maar sy was weer weg, deur die massa ingesluk.

Hy het begin om die ander kelnerinne dop te hou, om te sien of die sleurwerk van daaglikse roetine ook dieselfde effek op hulle gehad het. Daar was egter nie een wat met Valerie vergelyk kon word nie, hulle was almal heelwat jonger en het 'n energie uitgestraal wat Valerie gewis nie gehad het nie, dalk langs die pad moes verloor het.

Wouter het aan sy eie lewe gedink wat op daardie stadium die opwindende vooruitsig van 'n verhuising na die natuurskone fynboskontrei, ingesluit het. Maar, hy kon net nie sy gedagtes op sy eie dinge fokus nie - die treurige vrou met die onversorgde bolla en die hartseer gesig, was te werklik, te onmiddellik en te verwytend. Hy het skuldig gevoel oor sy groot vooruitsig, sy droom wat besig was om te verwerklik.

So anders as Valerie se lewe ...

Hy het nog so gesit en mymer, toe plak sy die Morning Mug voor hom neer. Ook 'n piepklein bakkie met 'n bietjie muesli, en die koppie cuppacino.

"Kos nou, cuppacino later, of andersom?" Die eet- en drinkgoed was dan al op die tafel, hoe kon sy soiets vra?

"Is reg so. Dankie!" Wouter het na reaksie op die keersy van die bolla gesoek. Valerie het net diep gesug, hom  skrams beskou en na 'n ander tafel begin aandrentel. Soveel ellende, soveel onverbloemde wanhoop.

Hy het die bekertjie met die jogurt langtanderig, lepel vir lepel, en sonder enige aptyt, geledig. Die muesli het onaangeraak bly staan. Selfs 'n koevertjie suiker kon nie smaak aan die koffie gee nie.

Valerie het onwillekeurig daarin geslaag om haar eie ongelukkige omstandighede, op hom te wreek.

Selfs toe die vliegtuig 'n ruk later 'n swierige swaai oor die skiereiland met sy onoortreflike skoonheid maak, het Wouter net gekyk - sonder emosie.

No comments:

Post a Comment