Friday 12 December 2014

En die kinders ly daaronder !

As jy verwag om 'n meesleurende verhaal te lees, is hierdie skrywe nie vir jou nie. Hierdie is 'n lankgevoelde behoefte om iets van my hart af te kry - iets waaraan ek baie dink, en iets waaroor ek baie sterk voel.

My generasie het moeilike kinderdae geken, dit was die jare toe ouers (veral pa's) ons gedruk het om te presteer, om in alles die beste te wees en bo ons ouderdomsgenote uit te styg. Die rede was omdat ons ouers in die erge depressiejare van die dertigs, self kinders was en bitter swaar gekry het. Toe hulle jongmense en jonggetroudes was, was dit weer die jare net na die oorlog, toe die sukkelende ekonomiese omstandighede, dit moeilik gemaak het om te oorleef. Werk was skaars, want die terugkerende soldate het voorkeur gekry. Die gevolg was dat ons tot vervelens toe moes hoor dat ons NIE soos ons ouers, noustrop sou trek nie, dat hulle (die ouers) sou sorg dat ons hard werk om bo uit te kom.

Niks was ooit goed genoeg nie ! Ek onthou toe ek in die senior fase my rapport huis toe gebring het
(ek het gevoel dat my punte nogal goed was), moes ek hoor dat ek baie beter kon doen, dat ek minder moes 'rondloop' en langer ure agter die boeke moes deurbring. Jy MOES gaan studeer - en in baie gevalle (soos ek) het die kind nie 'n keuse gehad nie, jy SAL gaan leer wat jou pa se keuse was. Dit was natuurlik iets soos medies, regswese of ingenieurswese. Geen graad wat nie ook 'n groot salaris gewaarborg het nie, was aanvaarbaar nie. Die druk was baie erg, die vereistes hoog en meestal onrealisties.

Die hedendaagse generasie kinders, ervaar egter 'n veel groter druk ! Hierdie uitspraak baseer ek op 38 jaar onderwyservaring en waarnemings wat duisende leerders betrek het. In 'n sekere sin, verstaan ek nie hierdie 'nuwe' druk nie. Die sosiale en ekonomiese omstandighede is mos nie naastenby so moeilik soos destyds nie ? Die huidige ouers het mos in beter tye grootgeword ?

Die redes vir die arme kinders van vandag se onrealistiese verwagtinge (deur hulle ouers), is die sieklike kompetisie tussen ouers. Die kind MOET presteer, sodat Pa en Ma by die bure en vriende en familie kan spog. Tientalle kinders het deur die jare hul lot by my kom bekla, en in elke geval was die gevoel by die kind dieselfde: ek is net goed genoeg en vir my ouers aanvaarbaar, as ek presteer. Soms is ouers openlik vyandig en afkrakend teenoor hulle kinders, wanneer laasgenoemde nie op die Top 10 (akademiese presteerders) is nie, of as hulle nie vir die eerstespan gekies word nie, of nie een van die leerlingraadslede is nie ! Kan jy jou indink hoe so 'n kind moet voel ?! Hoe tragies dat sulke kinders by hulle onderwysers liefde en aanvaarding moet soek !

Een van my kollegas het eendag die mat onder my voete uitgeruk. Haar seun het gewoonlik om-en-by 85% vir Afrikaans gekry en was een van die toppresteerders in die klas. Sy ma het altyd gevra hoe die punte lyk, want sy het sy lewe vir hom beplan. Toe ek haar gelukwens met sy goeie punte, kom die volgende antwoord: "Ag, jy moet tog maar help waar jy kan, tale was nog nooit sy sterkpunt nie !" 'n Ander ma (ook 'n kollega) se reaksie toe ek haar komplimenteer met haar dogter se 88%, was: "Aggenee, sy wou so graag 90% gehad het !" Die kind was in haar noppies oor haar mooi punt, maar die ma was met niks minder as 90 tevrede nie.

Ek moet darem ook toegee, die situasie in ons land, speel ook 'n groot rol. Kinders moet ad infinitum hoor dat 'n wit vel nie werk gaan kry nie, dat werk uiters skaars is en net die toplaag van 'n pos verseker sal wees. Al hierdie dinge is natuurlik in 'n groot mate waar, maar weer is dit die kind wat die druk moet dra, en probeer verwerk.

Gaan dinge verander, of selfs net verbeter ? Ek glo nie so nie. Pa's raak al hoe meer in hulle werkslewe verstrengel, dan moet die ma maar die kinders hanteer. Dan raak die ma's paniekerig, want wat as Boetie nie presteer nie, nie aan Pa se verwagtinge voldoen nie - dan sal Pa vir Ma kwalik neem.

So raak prioriteite deurmekaar, mense se perspektief versplinter ... en die kinders ly daaronder.

No comments:

Post a Comment