Saturday 13 December 2014

Hy lyk soos 'n engel (die verhaal van Jan Grobler)

Dit was Susan wat eendag hierdie woorde gebruik het toe ons oor Jan gepraat het. Volgens haar het Jan, met die vreedsame uitdrukking op die gesig en blonde kuif, haar aan 'n engel laat dink.

Jan was een van die sterkinders in ons skool. Nie dat hy enigsins 'n akademiese uitblinker was, of wondertye op die atletiekbaan aangeteken het nie, maar omdat almal van hom gehou het. Benewens die reeds genoemde onverstoorbare geaardheid, het hy maklik geglimlag - so met 'n effense teruggetrokke skaamheid wat 'n mens twee keer na hom laat kyk het.

 Sy bruingebrande gestalte (hulle was kleinhoewe-bewoners) was 'n bekende gesig op die Laeveld se atletiekbane. Sy hardloopstyl was opvallend: fier en effens vooroor gebuig. Hy het met brute krag en groot wilskrag, sy teenstanders moeg gehardloop. Die middelafstande was sy kos, maar hy het homself  ook as kranige landloper bewys. In sy matriekjaar het Jan beide die 800 m en landlooptitel by die jaarlikse interskole-byeenkomste, gewen.

Omdat hulle 'n hele paar kilometer buite die dorp gewoon het, en Jan 'n strawwe oefenprogram gevolg het, het hy smiddae na skool agtergebly. Dan het hy in 'n oop klas gaan sit, rustig met sy huiswerk aangegaan en later kon jy hom om die baan sien draf. Soms, wanneer ek ook naskoolse aktiwiteite gehad het, het ek by die klas ingeloer en 'n bietjie met Jan gesels. Atletiek was maar altyd die hoofonderwerp, maar ons kon ook spontaan oor die natuur en sommer net die alledaagse dinge, menings wissel. Jan was ook een van my leerlinge in die klas, daarom was die atmosfeer ontspanne en ons het mekaar goed verstaan.

So het Jan jaar na jaar harte gewen, titels ingepalm en net rustig sy gang gegaan. Toe die matriek-eindeksamen nader gekom het, het ek hom probeer aanmoedig om nog harder te werk, want hy was net-net 'n sestig-kandidaat, ek was nie te seker of hy wel sy C sou kon kry nie. Hy het net geglimlag en geantwoord, "Ek sal Meneer nie in die steek laat nie."

Die einde van die eksamen het aangebreek. Die matrieks moes nog net daardie Maandag (28 November 1988) hul stelwerkvraestel skryf, dan was hulle klaar. Ek het stilweg gehoop dat hulle goed sou doen, want hulle stelwerk het nie te sleg gelyk nie en ons het deeglik hersiening gedoen. Jan moes net kophou, dan was daardie C 'n besliste moontlikheid.

Dit was om-en-by elfuur daardie Sondagoggend, toe ek die verpletterende nuus verneem het ... Jan is doodgeskok toe hy 'n besproeiingspyp regop opgetel het en dit toe aan die kragdrade geraak het! My brein wou nie registreer nie, dit kon tog nie wees nie?! Nie Jan nie!

Later is vertel dat sy pa hom die oggend vroeg wakker gemaak het om met die pype te gaan help verskuif. Half deur die slaap, het Jan (in plaas van dit te sleep) die pyp regop getel en onmiddellik het die vlamme om hom getier (het sy pa ons later ingelig). Jan was nie meer met ons nie, Jan was weg - vir altyd.

Ek was destyds hoofnasiener en Jan se ander twee vraestelle, taal en letterkunde, was daar, dit moes gemerk word ... Ek het nie 'n woord oor Jan gerep nie, die nasieners hul gang laat gaan. Later het ek na Jan se vraestelle gekyk, ek moes modereer. Natuurlik kon ek dit nie doen nie, die emosies het my oorweldig. In ongeloof het ek na die punte gestaar: Jan het so goed in sy ander twee vraestelle gedoen, dat sy gesamentlike punt 66 was! Hy het sy woord gehou, hy het toe nie sy meneer in die steek gelaat nie ... altans, nie met die punte nie.

Die begrafnis was ook baie traumaties. Ek het voor die diens na die ondernemers gery en gevra of ek die lyk kon sien. Na die 1988-inter het die organiseerders ook vir my (as aankondiger) 'n goue medalje gegee. Ek het dit saamgeneem en op Jan se bors geplaas, maar dit het afgegly en langs die lyk, in die kis 'n rusplek gevind. 

Hoe lyk 'n mens, 'n lyk, nadat duisende volt deur die liggaam is? Sekerlik nie iets wat jy gou sal vergeet nie, maar dit het nie saakgemaak nie. Vir my was dit Jan, die innemende en talentvolle jongman wat my andersins met net mooi herinneringe agtergelaat het.

 Jan het 'n serene, half bo-aardse uitdrukking op die gesig gehad. Hy het inderdaad, soos 'n engel gelyk .

Jan Dirkse Grobler (*23/01/1970 +27/11/1988)



No comments:

Post a Comment