Monday 22 December 2014

'n Grappie - vir oulaas ... (die verhaal van Derik Meintjies)

Sy naam was Derik. Derik Meintjies, om presies te wees. Baie sou geglo het dat hy, wat immer aan die lag was omdat hy in alles die komiese raakgesien het, nooit ernstig sou kon wees nie. As Derik nie iets snaaks gewaar het nie, het hy self 'n situasie geskep, of uit sy arsenaal kwinkslae 'n stukkie humor opgediep. Lag, wou hy lag.

Hy was 'n koshuisbrak, soos ek ook maar noodgedwonge in die eerste jaar of wat van my onderwysloopbaan moes wees. Koshuisdiens was eintlik 'n voorwaarde, voordat jy enigsins vir
aanstelling oorweeg is. In Huis De Souza op Lydenburg, was daar streng voorskrifte - die koshuisvader (oom Sidney Herbst) het geen wederstrewigheid geduld nie. Derik het egter net geweet hoe om selfs die mees omgesukkelde onderwysdienaar, om sy pinkie te draai - en te laat lag. Natuurlik was hy uiters gewilde geselskap, en het die manne gereeld in Derik se kamer gesit en gesels. Hierdie geselsery het telkens net een uiteinde gehad: dit het klokslag in 'n bulderende gelag ontaard. Die ewige nar het sy vlerke gesprei, hy het niemand ontsien nie.

Toe gebeur daar iets wat 'n effense wolk op Derik se gesig laat verskyn het. Sy ouer broer, wat destyds diensplig op Hoedspruit moes verrig, was tydens die terugtog na 'n naweek op Burgersfort (waar die Meintjies-gesin gewoon het), in 'n liederlike motorongeluk betrokke. Die kar het aan die brand geslaan en die broer kon nie betyds uit die wrak kom nie ... Ek herinner my dat ek een aand by sy kamer verbygestap het, en gesien het hoe Derik by die venster gesit en in die verte getuur het. Ek het langs hom gaan sit, net saam met hom na die Steenkampsberge wat ver op die horison in dynserigheid gehul was, gekyk. Hy moes eerste praat, ek wou net gehad het dat hy daarvan bewus moes wees dat hy nie alleen was nie. Toe hy na 'n lang ruk sy kop na my gedraai het, was daar trane en hy het half selfbewus en verskonend, wrang geglimlag: "Die lewe is soms maar hard, Meneer."

Gelukkig was Derik daardie tyd in 'n verhouding met Yvonne, een van my tennisspeelsters wat met haar ewe rustige geaardheid, die regte meisie vir hom was - iemand aan wie hy kon vashou, wanneer die onthou-dae te ongenaakbaar was. Yvonne was regtig lief vir die maltrap, ek kon dit agterkom. Eintlik was hulle twee uiterstes: hy met sy platjie-geaardheid, en sy met haar rustige glimlag, 'n toonbeeld van waardigheid en verfynde vrouwees.

Maar wat, spoedig was die ou Derik terug! Dit was asof sy spitsvondigheid, sy aapstreke en sy gekheid, nuwe afmetings aangeneem het. Hy was 'n dirigent in sy matriekjaar en het die toeskouers na hulle asems laat snak toe hy - doodsveragtend - op die hoofpawiljoen se dak geklim en toe met 'n tou, a la Tarzan, bo van die dak af geswaai het. Die duik wat daardie tou in die sinkplaat gemaak het, is vandag nog 'n stille getuienis van waartoe Derik Meintjies in staat was.

Derik se matriek-eindeksamen het soos 'n oogwink verbygegaan. Ek het soms, tydens studietyd, by sy kamer ingeloer en hom gemaan om ernstig te studeer, want iemand het maar kort-kort in die gange gelag - en Derik was telkens die vermaaklikheidster.

Dit was kort duskant Kersfees, toe ek een aand so teen nege-uur se koers, 'n oproep van sy pa af kry. Hy was by die Rob Ferreira-hospitaal op Nelspruit, en Derik was in die teater! Hy vertel my toe dat Derik en 'n paar ander jonges, vroeg die aand agter op 'n bakkie geklim  en deur Burgersfort se strate gery het om Kersliedere vir die inwoners te sing. Derik het (heel verstaanbaar, as jy hom geken het) op die bakkie se reling gesit. Toe die voertuig oor 'n spoedhobbel ry, val Derik af - en beland toe met sy onderlyf onder die agterwiele! Ek kon hoor dat Niek (die pa) na aan trane was en ek het belowe om hard en ernstig vir Derik te bid. Niek het belowe om my op hoogte te hou.

Kort na elfuur, het die pa weer gebel. Nee wat, Derik het bygekom en was amper weer sy ou self. Niek het duidelik baie verlig gevoel en bygevoeg: "Derik het gevra dat ek vir jou moet laat weet dat hy okey is, dat alles nog daar is - niks het afgebreek nie!"
Ek het geglimlag. Ja-nee, dit was tipies Derik. As hy alweer grappies maak, is dit sekerlik nie so erg nie.

Iewers in die nanag was daar weer 'n oproep. Derik se buik het begin swel van die vog wat opgebou het, en die 'slim' dokters het besluit om weer te opereer. Die vog is weer gedreineer, die tweede operasie het ook suksesvol afgeloop, maar ... Derik se hart kon nie die tweede trauma hanteer nie. Derik Meintjies het op die operasietafel gesterf. Sy grappie oor 'alles wat nog daar was', was sy laaste .

By die graf het Yvonne bitterlik gehuil. Ek moes self teen die trane veg. Derik se ouers en suster was ontroosbaar. Hulle moes vir die tweede keer binne enkele maande, langs die graf van 'n seun en broer, staan. Ek onthou nog die pa se woorde toe die kis afgesak het: "Totsiens, ou Ore ..." Miskien het Derik in die gees geglimlag toe hy sy pa se bynaam vir hom, gehoor het.

Vandag onthou ek steeds vir Derik, die vrolike seun wat altyd gelag het en altyd 'n grappie gereed gehad het ... tot die einde.

No comments:

Post a Comment