Monday 22 December 2014

Lemoene vir die SM

In Desember 1961 het ons (Pa en Ma, toe tien jaar getroud, asook ek en sus Isabel) die kaal 'platteland' - soos my jongste na die Bethal-omgewing verwys -  vir die wonderskone Elandsvallei verruil. Pa het sy eerste aanstelling as graad twee stasiemeester verwerf, en dit op 'n piepkleine plekkie met die naam Ngodwana. Destyds was daar net vier spoorweghuise, 'n sandsteen-stasiegebou , 'n goedereloods, en dan oom Murray se winkel.

Na 'n verblyf van vele jare op Bethal (Pa se geboortedorp), was die Laeveld 'n avontuur! Ons het ons verkyk aan die berge, die sporadiese vrylopende wild soos bosbokke en bobbejane, die vele watervalle en die subtropiese plantegroei. Sitrusvrugte was ook vrylik verkrygbaar. Ek herinner my dat ons hele een grensdraad van die erf, met grenadellas begroei was - 'n groot lekkerte! Jy kon enige tyd een gaan optel of gepluk het, dit sommer so met die tande oopgeskeur het, en dan die smaaklike moes uitgesuig het. Skielik was daar altyd papajas, piesangs en, natuurlik grenadellas, vir Afrika!

Pa het gou met die boere van die vallei vriende gemaak, omdat die meeste van hulle, hulle produkte per spoor versend het en weekliks 'n draai by die stasie moes maak. Hulle moes die nuwe stasiemeester (hy is SM genoem) seker in 'n mate amuserend gevind het, want Pa was soos 'n klein seuntjie wat nuwe speelgoed gekry het - hy was kinderlik opgewonde oor sy nuwe tuiste en het blinkoog, liries oor die vrugbare valleigrond geraak.

Dit was veral die oorvloed aan lemoene, wat Pa gaande gehad het. Hy het van die dunskil-tipe gehou, die kleineres wat jy so in die hande rondrol en sagmaak, sodat jy die sap kan uitsuig. As ons dalk 'n draai na Waterval-Onder se kant toe, of na Elandshoek toe gery het, is daar gereeld 'n sakkie lemoene gekoop. Ma het geleer om lemoentert te maak, 'n heerlikheid waaraan ons gereeld gesmul het.

Op 'n dag, kom roep een van die loodswerkers vir Pa. Een van die beestrokke (die toe-trokke) wat die vorige nag tydens die rangeerdery afgehaak is, was aan Pa geadresseer. Pa was heel onthuts, want hy wis van g'n sout of water nie - veral nie iets wat so groot was, dat dit met 'n beestrok gestuur  moes word nie! Hy het hom na die loods gehaas, die faktuur mooi bekyk en ja waarlik, daar het dit swart-op-wit gestaan: Mnr. C.R. de Wet, Stasiemeester, Ngodwana. Die trok was reg in lyn met die stasiemeestershuis, sowat dertig meter van ons voordeur af. Tussen die huis en die spoorlyn, was 'n leegte waarin ons graag gespeel het, veral as dit met water gevul was.

Pa het sommer so in die verbystap, na ons geroep en daar staan ons toe almal, en ons wonder wat in die trok kon wees. Die swaar ysterdeure is oopgemaak - en toe was daar chaos! Lemoene was hoog in die trok gelaai, en met die oopmaak, rol die spul toe uit en af in die leegte in. Ons moes opsy spring, want daar was duisende lemoene (altans, so het dit vir ons gelyk!). Dit was 'n geskree en gelag en geskerts, want niemand het tevore so 'n groot klomp los lemoene bymekaar, gesien nie.

Dit was toe mooi oom Don McDermitt, 'n sitrusboer van die Hemlock-kontrei, wat die nuwe SM wou verras - en sommer sy alewige ge-oe en ge-aa oor lemoene, wou stilmaak!

Mens, daar was kruiwaens, en streepsakke, en emmers, en bokse vol lemoene wat weggedra is. Die huis het 'n driekwart-stoep gehad, en Pa het die een kant vol lemoene laat pak. Al wat 'n familielid was, het lemoene gekry. Selfs die paar melkbeeste wat Pa aangehou het, het lemoene gekry. Ons was letterlik oorlaai deur lemoene, het op die stoep op die lemoenstapel geklim , soos wat ons op Bethal teen die mieliestronkhope uigeklim het.

Pa se lemoenlus was iets van die verlede, hy het nooit weer teenoor die boere, liries oor 'n lemoen  geraak nie. Die SM het genoeg van lemoene gehad, dankie!

No comments:

Post a Comment