Tuesday 7 October 2014

Keffers en ander gediertes

Een van die amperse noodwendighede waaroor 'n mens tydens aftree-jare terugdink, is die diere waarmee jy (gewoonlik noodgedwonge) jou lewensruimte moes deel. In die meeste gevalle was dit natuurlik honde, van alle groottes en soorte, maar dan ook katte en marmotte en budgies en visse en ...

Die eerste nege jaar van my ondermaanse verblyf, het ek op Bethal deurgebring. Daar, in Parkstraat op Bethalstasie, het Pa altyd honde aangehou - groot, Rhodesiese rifrughonde. Stella was die teef, en Boel die een wat moes sorg dat daar stewige, verkoopbare werpsels sou wees.  Ek kan nie onthou dat een van die twee my ooit gebyt het nie, maar veral Boel was erg kwaai en verbygangers het aan die oorkant van die straat verbygestap. Pa het as seun duiwe op die plaas aangehou, maar op die dorp het hy dit in 'n klein budgie-boerderytjie voortgesit. Pa het die hok self gemaak, kompleet met kalbasse vir neste, sitstokke en 'n tak of twee om in rond te spring. Ek onthou dat ons per geleentheid van die skaarser kleure, op Estancia (naby Breyten) gaan koop het. Die poeierbloues was vir my pragtig, terwyl jy jouself as 'n budgieman kon beskryf, indien jy 'n suiwer witte gehad het.

Toe trek ons Desember 1961 Ngodwana toe, daar in die wonderskone Elandsvallei. Die groot, donkergroen Spoorwegwa het die meubels vervoer - met Boel en Stella agterin. Pa moes die heeltyd by wees, om dit vir die werkers moontlik te maak om die op- en aflaai te behartig. Boel se geel kykers het geblits en die tande het geflits ! Die stasiemeestershuis het 'n driekwart-stoep gehad, alles met gaas toegemaak. Die paar budgies wat saamgetrek het, is toe op die stoep vrygelaat en kon heerlik om die huis beweeg. Die rifrugleeus het hul gang gegaan, beide aan kettings vas. Pa het terugverlang plaas toe en drie Jerseys (melkbeeste) aangeskaf. Hy het self gemelk, en ons het die melksurplus per bottel aan die nabye lokasie verkoop.

Die volgende skuif (Maart 1963) was Schagen toe, nader aan Nelspruit. Die omgewing was wild en vol ongediertes, veral slange. Die budgies is weggegee, en die twee honde het hul skrikbewind voortgesit. Uiteindelik het Pa besgegee, van die twee ontslae geraak - en toe kry ons 'n korterige, swart brak van twyfelagtige herkoms. Pa het hom 'Swazi' gedoop, seker maar by 'n swartman gekry. Swazi het my maat geword, ons het in die middae, maar veral gedurende naweke en vakansietye, die klipkoppies om die stasie verken. Soms het ons afgestap rivier toe (Krokodilrivier), waar ek net moes keer dat Swazi nie agter die waterlikkewane aan, die rivier ingespring het nie. Ek het 'n windbuks gehad, en Swazi het daarvan gehou om saam te gaan 'jag'.

In Desember 1965 trek die De Wets (per trein) na die verre Maclear, 'n dorpie in die Oos-Kaap, nie ver van die Lesotho-grens af nie. Swazi was ons enigste dier, ek en hy het steeds rondgeloop en hy het sy alleenreg geniet. Toe Pa egter so siek geword het (asma), het die dokter aanbeveel dat 'n verandering van omgewing, presies was wat Pa nodig gehad het - en daar verskuif ons toe terug Transvaal toe, hierdie keer Ogies (Witbank se omgewing). Daar is Swazi toe dood, terwyl ek my eerste tropiese visse gekry het. Saam met die buurseun (Willie) het ek dit baie geniet om die vissies e versorg en elke dag te bewonder. As hulle kleintjies gekry het, was dit 'n groot operasie om te keer dat die groteres, die kleintjies opvreet.

Toe volg my universiteitsjare en weermagdiens. In 1977 kry ek die aanstelling op Lydenburg, maar is toe verplig om eers twee jaar diensplig te gaan verrig. In 1979 neem ek toe my intrek in Huis De Souza, seunskoshuis. Een van my gr.9-leerders (Awie Labuschagne) sien toe sy meneer is 'n bietjie alleen, en toe hy weer na 'n naweek terugkeer koshuis toe, bring hy 'n klein swart-en-wit foksterriertjie saam. Hoe kon ek die geskenk weier ? Ons mag eintlik nie diere in die koshuis aangehou het nie, maar die matrone (ta' Moekie Breitenbach) het uiteindelik haar hart versag - en sy word toe die een wat skelmpies vir Lappies kos aangedra het !

Ek en Lappies was welbekend daardie jare. Hy het oral saamgegaan, tot see toe. Saans het hy onder die komberse ingekruip, sy plekkie was onder, by my voete. Toe ek later huis koop en na Morganstraat 3 toe trek, het hy die straat gepatrolleer. My suster (Isabel) het net om die hoek gebly, en as ek by die skool was, het Lappies omgedraf soontoe en daar die oggend deurgebring. By twaalfuur se kant, het hy dan weer huis toe gedraf en my gaan inwag. Hierdie daaglikse roetine het egter later sy lewe gekos ... Ek onthou nog die dag toe die hoof (mnr. Wakeford) my kom roep het, die buurvrou het geskakel, ek moes dadelik huis toe want daar was "groot fout". Toe ek daar aankom, het my buurvrou my in trane ingewag: Lappies was dood, deur 'n kar doodgery. So moes ek toe 'n graf agter die huis in die groentetuintjie grawe - 'n onlekker ding om te doen. Later sou ek verneem dat 'n spietkop ('verkeersman' is te vleiend vir die skepsel!), ene Landsberg, "moeg was vir die foksterrier wat elke dag in die straat was" en aspris die hond raakgery het. Dit het my baie bitter gemaak.

Na Chris se geboorte (1983) het ons besluit dat hy 'n hondjie moes kry. Ek hoor toe van 'n man op Ohrigstad wat met foksterriers boer, die wit-en-bruin soort. Nou ja, dis hoe Trixie toe in ons lewens gekom het. Sy was Chris se hond, vernoem na die Trixie wat in die boek "Ons wag op die kaptein" voorkom. Sy het saamgetrek Barberton toe, en daar het nog 'n foksterrier (van die miniatuur-soort) by haar aangesluit. Haar naam was Flaffie, en toe sy kleintjies kry, hou ons ene - Ore. Toe was dit Trixie, Flaffie en Ore. Tussen-in was daar kom-ons-vergeet-dit (kortstondige) tye met ;n worshond (Tjankie - het my klokslag vieruur in die oggend wakker getjank!) en 'n ander swart hond. Op Barberton het die katte-fase ook begin. Daar was 'n gemmerkat, 'n grys ene (Tom, Gert se kat wat dood is toe hy van die dak afgeval het), 'n swart-en-wit een wat net as "Ma-kat" bekend was.

Na Gert se ongeluk en die trek Nelspruit toe, het ons besef hoe belangrik troeteldiere vir sy herstel en terapie sou wees. Na Flaffie se dood, en ook Ore later, het ons na 'n miniatuur Doberman gesoek. Radio Laeveld adverteer toe dat iemand 'n 'bokkie-hond' wou weggee - net waarvoor ons gesoek het. Toe ons die hond gaan haal, was dit alles behalwe 'n Doberman ! Dit was 'n kleinerige, swart brak met wit pote. Die hond het dadelik langs Gert in die kar gaan sit, en by die huis hom oral gevolg, waar hy ookal beweeg het. So het Buks toe deel van die huishouding geword. 'n Verbyganger (in die straat) het eendag 'n klein, grys katjie oor die muur gegooi - en dit word toe ook Gert se kat, weer 'n Tom. Die een buurman trek, en los sy klein grys-en-wit katjie agter - en dit word kat nr.2.

Eendag sit ek en koerant lees, toe ek 'n hond vreeslik hoot tjank. Ek sien toe hoe die buurman, sy klein, bruin hondjie byna dood slaan, aan die nekvel gryp en oor die veiligheidesmuur, in die straat gooi. Dit het ons baie ontstel, en toe 'n verbyganger later by die muur roep en vra of ons weet wie se hondjie in die straat sukkel-sukkel om te loop, het ons besluit om die hond te vat. Bruin, met wit aan die pote en onder die keel - toe noem ons hom Witvoet. Hy was eers heel bedees en soet (het bosluiskoors gehad), maar toe die medikasie sy werk begin doen, het Witvoet en Buks die plek behoorlik op horings begin neem !

So, nou sit ons met twee honde (Buks en Witvoet) EN twee katte (Tom en Kosie). Hulle hou ons permanent besig, enersyds want hulle moet versorg word, maar andersyds omdat hulle dink die huis behoort aan hulle. Uit 'n veiligheid-oogpunt, is dit seker 'n goeie ding om wakker honde deel van jou huishouding te maak. Maar, as ons soms 'n dag of wat wil weggaan, is dit altyd 'n stryd om iemand te kry om na die diere om te sien. Die twee of drie seuns wat al na ons plek gekyk het, het vele stories om te vertel !

Het hierdie verhaal 'n einde ? Dit lyk nie so nie. As Buks een kef gee, storm Witvoet uit, hardloop Buks in die verbygaan onderstebo en gee hom ook so 'n sydelingse hap. Dan reageer Buks nog skriller as gewoonlik en die twee hardloop die erf vol. Die katte soek die veiligheid van enige vorm van 'n hoogtetjie op: 'n tafel, kas of muur. Witvoet het al alles wat verskeurbaar is, opgeskeur - dis nou wanneer hy 'soet buite moet bly', wanneer ons dorp toe gaan. Saans is sy plek tussen my en my vrou, terwyl Buks natuurlik by Gert slaap - en ons wil byt as ons in Gert se kamer wil kom. Kosie maak my soggens halfvyf wakker, dan is dit sy etenstyd, die eerste van vele deur die dag. Tom sorg dat Gert ook vyfuur wakker is, ook vir sy eerste kos - in die waskamer, met die deur toe, want sodra Kosie se kos op is, hardloop hy vir Tom s'n. Ek het steeds 'n paar tropiese vissies in die studeerkamer gehad, maar ook daaraan 'n einde gemaak, die vier diere is genoeg.

Keffers en katte, ons daaglikse katastrofes !

No comments:

Post a Comment