Wednesday 22 October 2014

Die biddankdiens

Die bykans sewentien maande wat ek in 1977/78 in die wonderskone Oos-Caprivi, meer spesifiek Katima Mulilo, deurgebring het, was gevul met 'n kaleidoskoop van trane en vreugde, hartseer en verwondering. Dit was my dienspligjare, en ek was een van die 'gelukkiges' om te moes hoor dat die verpligte een jaar militêre diensplig, na twee jaar verleng is.

Enersyds het die byvoeging van nog 'n jaar wat uit my normale lewe weggevat is, my snags laat rondrol en oor die lewe vorentoe laat kommer, maar andersyds was ek in 'n ongelooflik-natuurskone deel van Afrika, waar ek geleenthede gehad het om die andersoortigheid  (in kontras met die Laeveld, waar my hart gelê het) te verken en te waardeer.

Die Caprivi is 'n waterryke deel, met uitgestrekte waterpanne wat na goeie reën, oortrek is van waadvoëls soos pelikane en reiers, en ook die mooiste waterlelies. Maar, 1978 was 'n droë jaar, die stofwolke het hoog gehang en die dae was skroeiend warm. In ons bruin kamoefleerdrag, het ons die hitte nog feller aan die lyf gevoel. Daar was natuurlik nie iets soos 'n swembad in die basis nie, ons moes maar per geleentheid die reëls 'n bietjie buig en lafenis in die aanloklike water van die nabygeleë Zambesi-rivier gaan soek het. Krokodille en seekoeie was volop, maar ons was mos rof en onbeskof, soldate wat gebrei was om met gevare saam te leef.

Toe die droogte rampspoedige afmetings begin aanneem het, het die gesag besluit dat dit 'n humanitêre gebaar van welwillendheid sou wees, indien kapelaan Johan Lindeque vir die dorpie se inwoners, waarvan ons natuurlik 'n deel was, 'n biddiens vir reën kon hou.

So het ons toe op daardie bestemde Donderdag, na die sinksaaltjie toe gestap, sweet afgevee en vir 'n lang kerkdiens reggeskuif. Len Vorster, een van die troepe wat baie musikaal was, het mooi, gewyde liedere op die klavier gespeel, terwyl ons elkeen in eie gedagtes versonke was. Ek moet bely, ek het glad nie aan die droogte gedink nie, my gedagtes was ver in die 'states', soos daar detyds na die Republiek verwys is.

Op 'n stadium, het een van my makkers binnegekom en gefluister dat 'n groot donderstorm buite aan't opbou was. Ek onthou dat ons vir mekaar geglimlag het, so asof die boodskapdraer nie al sy varkies op hok gehad het nie.

 Len het sy laaste musiekstukkie voltooi, ds. Lindeque het begin praat en ons moes 'n psalm of twee sing. Terwyl ons probeer het om die kapelaan se doel met sy rede agter te kom, was daar skielik 'n geweldige slag. Gedagtig aan die vyandelike soldate wat net oorkant die rivier in Zambië saamgetrek het, het van die rangdraers dadelik uitgehardloop om die situasie te gaan verken. Ons het ongemaklik rondgeskuif en na ons R1's gevat-vat. Jy mog nêrens sonder jou R1 gegaan het nie - en dit het die kerksaaltjie ingesluit.

Na 'n kort rukkie, het die verkenners teruggekom, en ewe rustig en skynbaar heel ontspanne, hul sitplekke ingeneem. Ons was verward, want enige slag het moeilikheid beteken.

Dominee Lindeque was net  weer mooi op dreef, toe 'n dreunende gerammel, sy stem verdoof het. Kon dit wees?! Dit was donderweer!

Toe, asof daar op 'n geheime teken gewag is, is die hemel se sluise oopgegooi - nie net oopgemaak nie, maar oopgesper, want die reën het met mening op die sinkdak neergedruis! Ds. Johan het halfhartig probeer , maar sy stem was net nie teen die dawerende klanke van die harde reënvlae bestand nie.

 Ons het opgewonde begin gesels, ek onthou dat die een kwinkslag na die ander met die rye langs gestuur is. Die manne het die situasie terdeë geniet, want die neerdrukkende spanning van militêre ingeperktheid was verbreek en die idee van 'n biddiens vir reën, het skielik na 'n grap geklink.

Na sowat 'n halfuur, het die sinkdak stil geword, en daarmee saam ook die troepe se gesels. Die offisiere wat in die saal was, het ons streng aangegluur - en die noodwendige orde was weer herstel.
Ons het weer onderdanige, dienswillige, nikse geword - net manskappe wat in 'n saaltjie saamgebondel was.

Maar, daar was wel 'n groot verskil! Die koel lug van die na-reën heerlikheid, het by die deur en vensters ingestroom. Ons kon die waterstrome buite hoor vloei, en die voëls het opgewonde gekwetter.

 Ds. Lindeque het weer eens die primitiewe katedertjie bestyg. Hierdie keer was die stroefheid weg, hy het breed geglimlag. Met hernude drif in sy stem, het hy die volgende lied aangekondig: 'Juig al wat leef, juig voor die Heer'.

Dit was die dag toe die biddiens om reën, verander is na 'n dankdiens - na die reën.

No comments:

Post a Comment