Thursday 18 September 2014

Blye teleurstelling

Pa het graag stories oor sy kinderdae op die plaas, vertel. Die swaarkry-tema was maar altyd op die voorgrond, maar tog het hy soms afgewyk en 'n staaltjie of drie vertel waarin die humor, my deur my lewe sou bybly.

Hy was 'n opgeskote seun van so veertien jaar, wat beteken het dat sy twee susters al na aan de einde van skool was. Saans wanneer die grootmense na ete om die draadloos vergader het om na die nuus, weerverslag en aandvervolgverhaal ("Die Du Plooys van Soetmelksvlei") te luister, het die kinders gewoonlik buite langs die opstal rondgedrentel, of sommer net gesit en ginnegaap. Wanneer Pa se neef Johan en sy suster (Marlene) by Ouma gekuier het, was die kwade immer naby, want die tweetjies was nog pas uit hulle kleuterskoene, het al die aandag gekry - en was sommer net wintie verby! Pa en sy susters het hulle maar vredeswille verduur, maar van familieliefde of enige ander vorm van deernis , was daar geen sprake nie.

So sit die spulletjie toe weer een aand op die grasperk voor die huis. Binne het die nuusleser se stem gedreun en hulle kon hoor hoe Ouma die teegoed reggekry het. Dit was 'n pragtige aand vol sterre, maar Pa vertel daar was 'n effense kilte in die lug, so asof daardie aand bestem was om nie maar net nog 'n weeksaand te wees nie ...

Toe Marlene weer met haar vloermoere begin omdat sy nie die grootste rooipruim (Ouma het hulle 'n bak vrugte gegee om aan te peusel) vir haar kon vat nie, was Pa-hulle net mooi keelvol vir die bedorwe brokkie! 'n Blink plan om vir altyd van Marlene ontslae te raak, het Pa te binne geskiet.
Hy dink toe aan die ou murasie van die eerste opstal, die een wat Ouma-hulle net na hulle troue in 1916 betrek het, wat so drie honderd meter van die nuwe een af was. Pa en neef Daaf het dikwels daar tussen die ou vrugtebome en in die populierbos gaan duiwe skiet, en hy het presies geweet hoe dit daar lyk - en hoe dit daar kon spook! Selfs Ouma-hulle had te vertelle dat oorle ou Emma (die ou kombuisbediende wat later nie die griep oorleef het nie) snags daar rondgedwaal het. Pa was derhalwe vas oortuig dat die ouhuis 'n plek was waar jy dit net in die daglig kon gewaag het - snags sou ou Emma se gees jou vir seker vang en na 'n 'verskriklike einde' toe wegvoer! Hulle wou mos van Marlene ontslae raak, dit was dus die ideale geleentheid om hulle parmantige snip van 'n niggie, die donker nag in te stuur - reguit na ou Emma toe!

Het ek vertel dat dit glo 'n stikdonker aand was? Volgens Pa kon 'n mens skaars jou hand voor sy gesig sien. Die plan was om Marlene uit te daag dat sy nie die moed sou openbaar om vir hulle 'n blaar van die granaatboom langs die ouhuis, te gaan pluk nie. Dit was die enigste granaatboom op die plaas, daar was dus nie 'n manier hoe sy daardie spesifieke sort blaar op 'n ander plek sou kon kry nie.
Getrou aan haar snipperige aard, het Marlene dadelik die uitdaging aanvaar - veral toe Pa haar belowe het dat, indien sy die onmoontlike sou kon vermag, sy die hele aand verder met Pa se bliksoldaatjies kon speel. Hierdie 'prys' was baie gesog, want Pa was erg heilig oor sy manskappe.

Mens, so is die kleine Marlene, skaars vyf jaar oud, toe die duisternis in om die blaar te gaan pluk. Pa-hulle het lekker vir haar onnoselheid gelag, aanmerkings gemaak en gruwelstories oor wat nou van Marlene sou word, en wat ou Emma alles met haar sou aanvang, onder mekaar vertel. Sy is spotwoorde toegesnou, daar is skelwoorde agterna geskreeu en dan lekker daaroor gelag.

Toe gebeur daar iets wat Pa-hulle se lag kortgeknip het. Eintlik het daar niks gebeur nie - en dis net waar die kinkel was! Marlene het lank weggebly, en al het hulle hoe hard na haar geroep, daar was geen antwoord nie. Die volle besef van wat hulle aangevang het, het die grasperkgroepie getref: hulle het Marlene na haar dood gestuur! Teen daardie tyd, het ou Emma se spook sekerlik al lankal Marlene se ingewande uitgeruk, haar ore afgesny en haar vingers afgebreek om dit vir moetie te gebruik! Hoe moes hulle die verskriklike nuus aan Ouma-hulle oordra? Erger nog - wat gaan Oupa met hulle maak, indien Marlene 'n Emma-prooi geword het?! Die groepie kinders het ineengekrimp, later styf teen mekaar gesit, mekaar vertroos en hul lot probeer antisipeer. Ta' Loel het glo begin huil, en die ander daarvan beskuldig dat hulle haar , teen haar wil in, by gemors ingesleep het. Pa het in die gedagtes begin wonder wat die maklikste manier sou wees om van die huis af weg te loop.

Net toe die beteuterde groepie op hulle emosioneelste was, hoor hulle 'n stem vanuit die dieptes van die duisternis - en die stem roep na Pa! Pa was seker dat dit ou Emma was wat met Marlene klaargespeel het, en hom toe naderroep om die volgende slagoffer te wees.
"Krisjan! Krisjan!" Die stem het al harder, al dringender geraak. Toe besef Pa-hulle dat dit nie ou Emma was nie, maar Marlene wat doer uit die donkerte, geroep het. Pa het eers gedog dit was haar stem uit die dode, maar waag dit toe darem om terug te roep.
"Marlene? Is dit jy?" Pa se stem was enersyds vol hoop, maar tog nog versigtig vir die dood-moontlikheid.
"Krisjan! Moet dit 'n klein blaartjie, of 'n groot blaar wees?" Klokhelder, ten spyte van die afstand, het Marlene se stemmetjie die naglug deurklief.

Daar was glo chaos daar langs die opstal daardie aand! Die susters het mekaar omhels en van pure verligting, weer beginne huil. Pa was natuurlik ook baie verlig, hy sou nie meer planne moes maak om 'n ander heenkome te gaan soek nie.

Pa  het eenkant toe gestap. So hard as wat hy kon, het hy geskreeu:"Dit maak nie saak nie! Kom nou dadelik terug!!" Hoe hy sy niggie, wat die kloue van ou Emma ontglip het, weer terug verwelkom het, het Pa ons nie vertel nie. Die dankbaarheid dat Marlene toe nie ou Emma ten prooi geval het nie, was groot - groter as die effense teleurstelling dat sy heelhuids daarvan afgekom het. Pa moes toe maar geredelik sy soldaatjies met sy ongewildste niggie deel.


Wys jou net: teleurstelling en blydskap, kan soms bedmaats wees!

No comments:

Post a Comment