Thursday 9 October 2014

Eendracht se spook

Die dorpie Leandra, in die Secunda-omgewing, is nie alombekend nie. Dit sal derhalwe ook voorbarig wees om te verwag dat iemand nog sal kan onthou, dat Leandra 'n samevoeging van twee kleiner plekkies, Leslie en Eendracht, is. Maar, moenie dat die term 'klein' jou mislei nie - elkeen van daardie vlakte-gehuggies het 'n storie om te vertel - soos die geval van Eendracht ... en die spook.

Soos dit algemeen in die vyftigerjare die geval was, het elke paar huise, 'n spoorwegstasie gehad. Eintlik is dit andersom, daar was klein stasietjies op vasgestelde afstande van mekaar, en dan is daar 'n paar huise by elke stasie gebou. Dis nou vir die stasiemeester, 'n voorman of twee, die laaimeester en so. Eendracht was in dieselfde bootjie, met selfs 'n winkeltjie en 'n padkafee naby die huise, want dit was aan die teerpad wat van Bethal af, deurgeloop het Rand toe.

Pa moes toe as aflosstasiemeester, 'n week of drie op Eendracht gaan waarneem. Sy blyplek was  'n onbewoonde huis wat neffens die stasie was, die een wat eintlik vir 'n laaimeester bedoel was. Daar was wel 'n laaimeester, maar hy het verseg om sy intrek in daardie rooibaksteenhuisie te neem - omdat dit as die 'spookhuis' bekend gestaan het. Elke siel op Eendracht kon jou die allervreeslikste stories oor daardie huis vertel. Van die stories is glo self ervaar, ander het iemand by iemand se vriend gehoor. Al die stories het egter 'n onheilspellende ooreenkoms getoon: dit was dieselfde spook in elke storie.

Eendracht se dwalende gees was nie deurentyd dwalende nie. Daar het soms dae verbygegaan, met geen teken of geluid van enige verdagtenis nie. Dan, skielik en onaangekondig, het dit in die nanagtelike ure, deur die dorpie weerklink: die weemoedige, hartverskeurende gehuil van 'n kindjie.
Sommiges het gesweer dat dit 'n klein babatjie was, ander het weer geglo dat die kermgeluide deur 'n kleuterspokie gemaak is!

Natuurlik het die slim mense elk 'n verklaring gehad. Nie vir die oorsprong van die geluide nie (almal was vas oortuig dat dit wel 'n spook was), maar menings oor die tragiese omstandighede waaronder die wenende spokie, die tydelike met die ewige verwissel het. Daar was diegene wat te vertelle had dat dit 'n seuntjie was wat tydens die Boere-oorlog in 'n konsentrasiekamp gesterf het, en snags na sy ma geroep het. 'n Ander wyse het vertel dat daar jare gelede 'n rampspoedige perdekarongeluk by die spruit was, en dat 'n kleuter toe verdrink het. Dit moes die kind gewees het wat nie rus kon vind nie, omdat hy (of sy) so wreed en onverwags van die moeder weggeruk is.

So beland Pa toe in die spookhuis. Hy het sy opslaanbed in een van die kamers staangemaak, en homself so tuis as moontlik probeer maak. Natuurlik het hy die spookvertellinge gehoor, en is ernstig gewaarsku om maar liewer 'n ander blyplek te soek, maar Pa was 'n plaaskind wat hom nie aan spoke en dinge gesteur het nie. Hy was destyds flank in die Oos-Transvaalse rugbyspan, lekker fiks en gespierd - nie die soort man wat hom deur 'n ou gesie sou laat intimideer nie

Daar was toe ook die eerste week geen steurnis nie, en Pa het heimlik vir al die bang mense geglimlag.

Die tweede week het die weer drasties verander. 'n Groot koue front het oor die gebied inbeweeg, en die wind het die sipresbome langs die stasie, soos vraagtekens laat lyk. Pa het nog 'n kombers by die voorman gebedel, want dit het snerpend koud geword.

Die Maandag-nag het dit gesous en die steeds feitlik stormwind, het om die hoeke gehuil. Teen middernag het die wind effens bedaar, maar steeds sterk genoeg gewaai om die sinkdak kort-kort te laat kreun. Pa was net besig om aan die slaap te raak, toe hy dit hoor! Onmiskenbaar, die jammerlike en hartverskeurende klanke van 'n kindjie wat of baie pyn, of baie hartseer geken het. Pa vertel dat hy yskoud geword het en die kombers styf oor sy kop gevou het. Sulke diepsnydende huilgeluide het hy nog nooit tevore gehoor nie. Net so skielik as wat dit begin het, het die gehuil opgehou - net om maar weer en weer van vooraf deur die naglug te klief.

Die volgende oggend was nog net 'n digte mistigheid van die koue front oor. Pa was vroeg by die stasie - en is dadelik deur die grootoog voorman gekonfronteer. "SM, ek en die vrou was doodbekommerd oor jou! Daardie kleintjie het die hele nag geskree!"

Dan was dit waar, ander mense het dit ook gehoor. Die spook van Eendracht, was nie net 'n misgissing nie, dit was 'n realiteit. Pa het alles mos self gehoor en beleef.

Na 'n dag was dit weer mooiweer, die son het vrolik geskyn en die baba was rustig. Pa het gaandeweg ontspan, gehoop die kind was tevrede dat hy vir Pa bang gemaak het en hom voortaan in vrede sou uitlos.

 Dit was dan ook inderdaad die geval - tot daardie Donderdag ...

Vroegmiddag het die weer opgesteek. Pa het so gou hy kon, huis toe gegaan om te gaan bad voordat die storm sou losbars. Weerligte het die hemel verlig, en kort-kort het die aarde gesidder wanneer strale die wolke deurflits het. Pa was vroeg in die vere - die beste plek wanneer die wind so erg gewaai het en die weer so swaar was.

Weer was dit sulke tyd! Die baba het meer hartverskeurend as ooit aan't huile gegaan, so asof dit die nag van moord en doodslag was. So kon dinge nie aangaan nie! Pa het die groen Coleman-lamp aangesteek, 'n groot stuk plastiese seil nadergetrek - en die agterdeur oopgemaak ....

Ja, daar was dit weer! Pa kon hoor dat die gehuil vanuit die een hoek van die erf gekom het. Voetjie vir voetjie het hy op die geluid af geloop, tot by die boorgat in die hoek. Dit was 'n ou boorgat wat jare al in onbruik was. Iemand het 'n stuk sinkplaat bo-oor die gat geplaas en probeer vasslaan, vir veiligheid, sodat iemand nie dalk per abuis in die gat sou beland nie. Terwyl Pa so in die dowwe lig van die Coleman na die gat en sinkplaat gestaar het, het die wind weer 'n sterk ruk gegee - en die baba het wreedvreeslik begin huil. Sodra die windvlaag verby was, was die kleintjie weer stil. Kom wind, kom huil.

Pa het omgedraai, homself in die binnekant van die huis gaan droogvryf en koffie gemaak. Hy het niks anders gehad om te drink nie - en die ontrafeling van die geheim van Eendracht se spook, moes gevier word - al was dit dan net met 'n beker koffie!

Die volgende dag het Pa en twee helpers, die ou sinkplaat bo die gat verwyder, 'n nuwe een oorgesit en goed vasgemaak.

Tot met sy vertrek, het die baba nie weer gehuil nie. Later het die voorman Pa op Bethal laat weet dat die Eendracht-gemeenskap geglo het dat Pa bonatuurlike kragte gehad het - hy kon immers geeste besweer!




No comments:

Post a Comment