Thursday 16 October 2014

Die groot trek

Ons was gewoond aan trek. Pa se werk het vereis dat, indien hy bevordering nagestreef het, hy bereid sou moes wees om te trek. Die vakaturelys is deeglik bestudeer , Pa het sy voorkeur-kortlysie saamgestel, en dan het hy en Ma die padkaart uitgehaal en presies bepaal waar die plekkies was, en hoe ver dit van die huidige blyplek was.


In 1965 kon Pa reeds (as stasiemeester), plekkies soos Morgenzon, Davel, Maizefield, Ngodwana en Schagen agter sy naam skryf - en hy was maar in sy dertigs. Toe die jaarlikse ouditverslag weer eens bewys het dat Pa 'n voorslag en aanwins vir enige stasie was, het hy besluit om vir groter stasies (Schagen en die ander was graad twee) aansoek te doen. Of ander stasies op die destydse lysie was, sal ek nou nie weet nie, maar Pa kry toe die aanstelling op Maclear, 'n kleinerige dorpie tussen Umtata en Lesotho, doer ver in die Oos-Kaap. Daar is toe besluit om per trein te trek, omdat die afstand so wyd was en Pa se goeie diens sekerlik daartoe sou bydra dat die meubels en kar (en ons !) versigtig hanteer sou word.


So is ons gesinnetjie toe daardie Desember van 1965, met die trein weg uit die Laeveld - die onbekende in. Dit was 'n lang rit, want die roete was via Johannesburg, deur die Vrystaat tot anderkant Bloemfontein, dan met die sylyn af Oos-Londen se kant toe. By Sterkstroom is die passasierswa afgehaak, en het die stoomtrein die spoor noordwaarts gevat, oor plekke soos Dordrecht, Elliot en Ugie. Vir ons wat aan die Laeveld se ruigtes gewoond was, was die kaal berge van die Oos-Kaap, vreemd en onheilspellend. Arme ma het die swaarste gekry, want kleinboet Chris was skaars vyf maande oud en maar knieserig. Melkbottels wat warm gehou moes word, wasgeriewe en behoorlike slaap, was alles uitdagings wat eise gestel het.


Na etlike dae, klim ons toe op Maclear af. 'n Stokoue sandsteen-stasiegeboutjie langs hoë bloekombome, het ons ingewag.Ek onthou dat ons doodmoeg, honger en verlate gevoel het. Die stasievoorman (Bob Grant) het sy bes gedoen om ons vriendelik te ontvang en op ons gemak te probeer stel - met die klem op 'probeer' ! Die rede was dat ons nuwe tuiste, die huis waarin die stasiemeester en sy gesin moes bly, 'n kasarm uit die agtienhonderds was - wat vir drie jaar onbewoon was ! Dit was egter nie die ergste nie - ons meubels was nog nie daar nie !


Chaos het gevolg. Pa moes oral bedel: hier 'n bed, daar 'n tafel, 'n gordyn of 'n matjie. Daar was donkergroen Spoorweg-blindings voor die vensters. In elke hoek van 'n vertrekke, het spinnerakke in die dowwe lamp- en kerslig geglinster - daar was nie elektrisiteit nie ! Ma was histeries, want om onder sulke omstandighede met 'n baba te moet sukkel, is niemand se speelmaat nie.


En toe wag ons ... en ons wag. Die trokke met die meubels (en die kar!) was iewers vertraag. In daardie wag-dae, was elke dag 'n oorlewingstryd. Die arme stasiepersoneel het hul bes probeer om ons tegemoet te kom en nie summier op die eerste, die beste trein terug Transvaal toe, te laat klim nie ! Ek onthou dat daar soms soggens 'n boks of twee vars groente voor die agterdeur was - selfs 'n vis of twee wat onderkant die stasie, in die rivier gevang is. Melk en brood kon ons by oom Pagel se stasie-kiosk koop. Saans het ek en my suster grootoog na al die skaduwees in die donker huis geloer.


Genadiglik het die meubels 'n paar dae later opgedaag - en ons het weer 'n ryding gehad ! Toe kon ons vir die eerste keer die dorp verken en ek het weer my BSA-fiets gehad om vir Ma slaghuis en handelshuis toe te ry. Ek moes natuurlik ook help om die reuse erf leefbaar te kry - dit was oortrek met onkruid. Maar wat, stadig maar seker het dinge beter begin lyk - behalwe vir Ma. Sy kon haar nou maar eenmaal nie met die primitiewe leefwyse versoen nie. Gelukkig het sy vriende geword met die laaimeester (Pietie Erasmus, 'n voormalige boer van Tarkastad) se vrou, Nettie. Laasgenoemde het feitlik daagliks 'n draai kom maak, 'n eetdingetjie of twee saamgebring en sommer net vir Ma moed ingepraat.


Ons het die ou huis "die ark" gedoop. Met sy skuifraam-vensters, hoë plafonne en rooi baksteenmure, het die plek werklik soos iets uit die jare toet gelyk. 'n Mens was half skaam om besoekers te ontvang, en toe Ouma en oom Koos kom kuier het, het Ma se senuwees omtrent breekpunt bereik.


Oor die res van die tyd op Maclear, kan ook boekdele vertel word. Dit was egter daardie groot skuif van die natuurskone, warm Laeveld (en ons knus huisie op Schagen) na die kaal berge van Maclear met sy mistigheid (en die ou-ou Noag-huis) , wat in die geheue ingegraveer is.   

No comments:

Post a Comment