Wednesday 30 April 2014

Om aan diens te wees

Die grootste deel van my lewe, is aan die onderwys gewy. Dit is een beroep waarmee die begrip "aan diens wees", nie geassosieer word nie. Jy is eenvoudig net "by die skool", asof dit 'n toevalligheid of selfs bloot 'n roetine-saak, is.

Pa was 'n stasiemeester, het sy loopbaan lank selde anders as twaalf uur skofte gewerk. Die hele huishouding het gedraai om Pa wat aan diens moes gaan, of Pa wat van diens af kom. Hierdie
noodwendige sikliese bestaan, was deels eentonig, maar het tog 'n mate van geborgenheid gebring.
Jy het deurentyd (op enkele uitsonderings na) geweet dat elke nuwe dag, grotendeels die patroon
van die vorige een sou volg. Ek het dikwels gewonder of  ek ook eendag 'n goeie werk sou kry, een waarin ek my plekkie onder die son sou kon vind en waarna verwys kon word, dat ek "aan diens" was?

Daar was een geval in die warboel jare wat gevolg het ...

Tydens my verpligte diensplig, was ek bevoorreg om vir bykans agtien maande, in die wonderskone
Oos-Caprivi (Katima Mulilo) diens te doen. Ontberings en ongerieflik lewe was aan die orde van die dag, maar nogtans het ek my in die ongelooflike natuurskoon vermei en my sintuie gewilliglik aan
die Skepping onderwerp. Die pragtige omgewing, van die statige Zambesi tot die pelikaanwaters van die panne water met kleurvolle waterlelies op, het die sinne oorheers. Die sporadiese gevegte was iets wat gou op die agtergrond geskuif is, want nog 'n tiervis-ekspedisie was op die spyskaart en Afrika het geroep! Die lewe was goed, al het skermutselings soms die visie vertroebel. Dit was egter 'n geval van meer af as toe, en ek het snags van die volgende natuurbelewenis gedroom.

 Tot daardie angswekkende nag ...

Dit was die nag van 21/22 Augustus 1978. Ek was 'n luitenant en moes gevolglik ook snags 'n diensbeurt kry. Op 21 Augustus was dit weer so. Ek het vroegaand my rondtes geloop, die wagposte besoek en registers geteken. Laataand het ek 'n draai by die kantien gemaak, waar daar vrolik gejil is want die destydse SP's (Staatspresidentswag) het die middag op Mpacha geland en daar was 'n impromptu-geselligheidjie om hulle (veral die offisiere) te verwelkom. Hulle sou hulle drie maande - kamp bywoon, 'n stelsel wat destyds in gebruik was. Tussen die gesels deur, het dit my ore bereik dat 'n terroriste-mag besig was om naby die grens met Angola, saam te trek. Daar is minagtend van die "terries" gepraat en halfbesope manne het vol drank-bravade vertel hoe hulle die "terries" op hulle baadjie sou gee.

Teen middernag se stryk, het ek weer rondtes gedoen. Die nagstilte was nie in lyn met die gerugte van naderende onheil nie, Ek het by die basishek gestaan en na die veraf ritme van die nagtromme geluister. Terug in die dienskamer in die HK (hoofkwartier), het ek op die kaal matras neergesak en geluister of ek nie weer die naguiltjie kon hoor nie. Voor my geestesoog het ek die molapas en makorro's gesien, die rustigheid van die Caprivi-landskap ...

Ek moes seker ingedut het, want 'n geweldige slag het my orent geruk! Dit was 01:15, het ek op my polshorlosie gesien. Toe volg nog 'n slag - en nog een. Ek het my R1 gegryp, buite toe gehardloop en deel van die volgende drie ure se hel, geraak. Daar was 'n aanval op die basis, vanuit die oorkantste bosse. Omdat ek aan diens was, moes ek dadelik OPS-kamer toe om bevele te ontvang. Ek is toe na die loopgrawe gestuur, om seker te maak dat almal in posisie was om die aanval af te weer en die basis te beveilig.

 In die troepe se kaserne was daar chaos, want die SP-lede het nog nie mooi geweet waarheen hulle moes hardloop nie, en nie een van hulle het kon droom dat soiets hulle in die eerste nag van hulle kamp, sou tref nie.

Wat verder gebeur het, is iets waaroor ek, selfs na vele dekades, moeilik kan praat. Tien SP- lede het daardie nag die lewe gelaat. 'n Russiese rooi-oog of Stalin-orrel, soos dit destyds bekend was, het 'n missiel afgevuur wat die troepe se kaserne sekuur getref het!

Teen ligdag moes ek en kapelaan Lindeque en RSM Hattingh, die troepe hanteer, stukkies menslike oorblyfsels bymekaar skraap, plastieksakke vul ...

Miskien verstaan jy nou waarom die begrip "aan diens wees", vir my steeds 'n nagmerrie bly.

1 comment:

  1. Genugtig, my Pa was ook daar, ek kry sommer 'n knop in my keel. Baie letsels. Dit is baie mooi geskryf. Dink dit is tyd om 'n boek te skryd Mnr.

    ReplyDelete