Wednesday 30 April 2014

Boelies en uitbuiters

Ouma het haar nie deur iets soos weduweeskap laat onderkry nie. Sy het kragdadig en energiek met die boerdery aangegaan, waar Oupa dit, kankergedwonge, gelaat het.

 Na sy oorlye het Ouma die voet op die pedaal gehou en Eerstegeluk met 'n ferme hand op koers gehou. Alhoewel sy grootliks selfversorgend was, moes daar so elke tweede week, dorp toe gery word om die room weg te stuur, melkkanne by die stasie te gaan oplaai, eiers te verkoop en 'n draai by Voortrekker Winkels te maak.

Om op die dorp te kom, moes 'n mens oor die treinspoor en deur drie ander plase, ry. Dit het noogwendig hekke ingesluit - 'n lastigheid wat ewe tydrowend as irriterend, kon wees.

In haar bottelgroen Cortina was die oumies altyd haastig, en hekke oop- en toemaak, was buite die kwessie. Gou is die kleinvolk gekondisioneer: die kar was nog in aantog, dan is die toeter hard en aanhoudend geblaas, totdat die kinders uit die statte gepeul en hek toe genael het. Met swaaiende armpies en 'n gejil, is daar op die groen Cortina se deurtog gewag, want Ouma het 'n kardoes suikerklontjies voor op die passasiersitplek gehad en 'n handvol is onseremonieel deur die venster gegooi. Soos honde wat dae laas kos gehad het, het die swart gesiggies gegloei en daar is met hande en tande baklei om van die 'ma sweet' in die hande te kry. Ouma was nooit gepla oor wie uiteindelik die meeste (of enige) lekkertjies opgetel het nie, sy was in volle vaart op pad na die volgende hek - waar dieselfde ritueel hom afgespeel het.

Ek het soms by Ouma oorgeslaap, selfs 'n naweek deurgebring. As ek dit ongelukkig getref het dat Ouma in so 'n tyd moes dorp toe gaan, was dit vir my (ek was nog nie eens tien nie) 'n traumatiese ervaring! Ouma se bestuursvernuf was , wat my betref, altyd onder verdenking en ek het aan enigiets wat vastigheid kon gee binne die kar, vasgeklou.

Maar, dit was die hekke-episodes wat my aan die hart gegryp het ... Male sonder tal moes ek toekyk hoe die grootste kinders, die kleineres eenvoudig eenkant toe gestamp en die lekkertjies vir hulself geannekseer het. Daar is gehuil, gesoebat en geslaan. Telkens moes die kleintjies maar sonder enige beloning vir die naelloop hek toe, sleepvoetend en hartseer, stroois toe terugstap. Ek het Ouma gesoebat om nog 'n handvol sweets deur die venster te gooi, maar sy het my 'stuitigheid' irriterend gevind en my beveel om 'van die skepseltjies te vergeet'.

Al was Ouma my held en ek oneindig lief vir haar, het haar hardvogtigheid en minagting teenoor die kindertjies, iets in my laat draai. Ek was bewus van 'n (vir 'n jong seun in daardie jare) onverklaarbare
empatie met die betraande, swart gesiggies. 'n Wrewel teenoor die ouer kinders het my binneste beetgepak en ek het intens van die begrip 'onregverdigheid' kennis geneem. Hulle het so min gehad, waarom moes die kleintjies nog boonop afgeknou word? Waarom kon Ouma nie maar haar hart versag en meer sweets deur die venster gooi nie? Ouma het die klonkies uitgebuit, want 'n suiker-
klontjie was maar bitter min beloning vir die oop- en toemaak van plaashekke!

Later in die lewe sou ek by verskeie geleenthede daardie lewensles onthou en self die onreg ervaar. Tussen ons is daar baie boelies wat jou sonder om te blik of te bloos, kragdadig sal uitbuit sodat hulle die grootste voordeel uit 'n situasie kan trek - ten koste van jou en diegene wat hulle as mededingers beskou. Sulke mense het 'n hek in die hart, 'n versperring wat hulle self moet verwyder.

 Miskien wag hulle vir 'n suikerklontjie, 'n beloning, voordat hulle toegewings sal maak ...?

No comments:

Post a Comment