Monday 14 April 2014

Kluitklap op die kis

Ouma was nie 'n vrou wat haar laat voorskryf het nie. Eintlik het SY die voorskrifte gegee, ander moes maar die uitvoer-deel behartig (meestal onwillig, meer uit respekte vir Ouma se onblusbare gees).

Donderdag 14 Julie 1983 het Ouma besef dat die jaarlikse griep, dié keer niemand se maat was nie. Sy kon skaars regop kom op die katel. Met al die kinders en kleinkinders myle ver weg, het sy toe maar haar buurman, Dennis Wevell, op die plaaslyn gebel. Dennis het op daardie stadium die lande gehuur en hy het ook voor Ouma grootgeword, daarom die vrymoedigheid om hom te skakel.

Dennis was dan ook gou op die plaas, het Ouma net een kyk gegee en gesê sy moes die nodigste inpak, hy vat haar Bethal-hospitaal toe.

Alhoewel die verpleegpersoneel hulle bes gedoen het, was Ouma reeds baie verswak. Teen Sondag het die kinders en kleinkinders begin aankom, want Ouma se organe het begin ingee. Sy was immers net enkele dae vanaf haar vyf en tagtigste verjaardag en die gebruiklike 'sterk soos 'n bees' waarmee na Ouma verwys is, was duidelik nie meer van toepassing nie. Sy het net daar gelê, sag teen die kussings gestut, met 'n ver kyk van vergange dae.

Ouma se oudste kleindogter, Rita, was die eerste een wat gevra het of Ouma enige wense gehad het wat die naasbestaandes moes vervul het. Op 'n stadium het Ouma waarlik ook dan vir Rita aan die arm nader getrek en sag versoek, "Sorg tog dat daar 'n kussinkie onder my kop is, ek kan nie so laag slaap nie." Ouma het na haar posisie in die kis, verwys en met Rita het die belofte in trane gemaak.

Dit was niggie Sus, een van Ouma se kleindogters, wat pal langs die bed gebly het. Sy het van Bloemfontein gekom en het in elk geval geen ander kuierplek gehad nie. Kort-kort het sy eerbiediglik gevra, "Is daar iets wat ek vir Nennie kan doen?" Die Nennie-benaming is nou weer 'n ander storie, maar nie nou ter sake nie. Toe sy dit nogeens vra, het Ouma glo na haar gedraai en met moeite gefluister, "Ek wil nie hoor hoe die kluite op my kis val nie."

Ouma is toe daardie Dinsdag (19 Julie) laatmiddag oorlede en die plig om die begrafnis te reël, het op haar enigste oorlewende broer, oom Koos, geval. Oom Koos het die taak met die nodige erns bejeën en die lang lys reëlings is nougeset getref. Benewens die sake met dominee en die diens en die graf en so aan, het oom Koos ook sy seun, Braam, gevra om hom te help. Braam was toe 'n jongman van in sy dertigs en omdat hy ook 'n sagte plekkie vir sy ta' Marja (die familie se noemnaam vir Ouma), gehad het, het hy nie 'n oomblik gehuiwer om sy pa by te staan nie.

So staan ons algar toe daardie windverwaaide, stowwerige Hoëveld-dag van Maandag 25 Julie 1983, om Ouma se graf. As kleinseun wat Oupa se name geërf het, was ek natuurlik voor in die prosessie en reg langs die graf. Toe die kis laat sak is en die tradisionele roosblare en handjievol grond gestrooi is, het Braam toe in die graf geklim en 'n sinkplaat bo-oor die wit-en-pienk kisruiker in posisie geplaas.
Langs die graf was twee groot streepsakke vol sooie, dis nou graspolle, wat van die plaas af aangery is. Dié is toe op die sinkplaat gepak, sodat dit 'n snoesige graskombers gevorm het.

Toe Braam weer met ons langs die graf was, het die manne van die familie (eige bloed, sou Ouma sê) die graf graaf vir graaf toegegooi. Die graspolle het jou waarlik gesorg dat daar geen kluitklap was nie - net 'n dowwe, gedempte geruis is gehoor soos die grond, met hier en daar die noodwendige kluit by, die knus graskombers getref het.

Ouma se laaste wens was vervul. Of sy met genoegdoening en tevredenheid geglimlag het, sal ek nou nie kan sê nie. Diegene wat geweet het en Ouma goed geken het, het wel die gevoel van 'n welgedane taak, in die binneste gehad!

No comments:

Post a Comment