Wednesday 30 April 2014

Karige gasvryheid

In my standerd agt jaar het ons atletiekorganiseerder die versiendheid gehad om 'n toer te organiseer. Ons sou al die pad van Ogies af, na verre Sabie toe ry om daar tussen die denneplantasies, ons slag te gaan wys.


Dit was 'n lang en vermoeiende busrit. Selfs Antoon se kwota grappies het later opgeraak en ons het so half deur die slaap, die son naby Sabie sien sak. By die skool is ons soos gratis pamflette uitgedeel. Een van die Sabie-kinders se naam is uitgeroep, dan het hy of sy , volgens wat die ouers kon behartig, een of meer van ons vir die nag ingeneem. Die Ogies-span het die een na die ander in die skemer verdwyn, net ek en Willie het oorgebly. Ons het beteuterd rondgestaan, terwyl 'n Sabie-onderwyser gaan uitvind het waar ons die nag welkom sou wees.


Na sowat 'n halfuur (dit was toe al goed donker) het 'n skraal seun op 'n fiets opgedaag. Ons kon saam met hom stap, sy ma het ingewillig dat ons hulle gaste vir die nag kon wees. Ons het skuins na mekaar geloer, want dinge het nie baie belowend gelyk nie. Die seun het nie gepraat nie, net stadig vooruit gery en die koers aangedui. Ons is toe die dorp uit, op 'n grondpaadjie, die bosse in.


Dit was eers agtuur se koers toe ons 'n flou liggie in die verte sien. Dit was die huisie, ons herberg in die vreemde. Daar was net een olielamp in die voorkamer, en die ma het stug en donker gelyk. Ons moes eers ons oornagsakke op die sitbank los, die kos was reg. Sy het ons deur 'n donker gang na die kombuisie gelei, waar 'n kers in die middel van 'n houttafel hard probeer het om die enigste opskepskottel te verlig. Ons sien toe dat daar 'n heel hoender was, wat 'n eiland in die sousbedekte aartappel-oseaan gevorm het. Die hoender is voor ons koms geslag en die aartappels was uit die klein groentetuintjie langs die huis. 'n Glas water het die ete afgerond. Ons het selfbewus die koppe laat hang, want daar is nie aan tafel gesels nie - trouens, die hele tyd wat ons daar was, is net die absoluut nodigste gepraat.


Regdeur die ete, kon ons iemand in die donkerder kamer langs die kombuis, hoor hoes. Die vrou het seker ons vraende blikke gesien, en net kortweg verduidelik dat haar man met sementvergiftiging in die bed was. Hy was 'n bouer en reeds geruime tyd siek. Die seun het onderlangs na ons geloer en
wou seker sien of ons enige negatiewe reaksie getoon het.


Het ons?? Genade! Ons was te verstom en deur die ellende oorweldig, om enige emosie te wys. Later moes ons op dieselfde bed slaap, blykbaar die seun se bed want hy het op die bank geslaap. Wasgeriewe het bestaan uit 'n kom wat jy met 'n beker moes vul - natuurlik was daar nie iets soos warm water nie. Die nag was grafstil, net die sporadiese gehoes van die sementlyer het die eensame stilte verbreek.


Van die byeenkoms, onthou ek nie veel nie. Ons het die seun ook glad nie weer die volgende dag gesien nie. Wat ek wel onthou, is dat ek en Willie tydens die lang terugreis Ogies toe, stil by die bus se vensters uitgestaar het. Die oorbly-belewenis was te oorweldigend vir 'n jong seunsgemoed.


'n Oop hart het niks met geld te make nie. Gasvryheid kos net 'n hoender en 'n paar aartappels wat in die sous dryf ...

No comments:

Post a Comment