Thursday 1 May 2014

Die kwessie van pap

Miskien was dit die aangebrande reuk van die reuse kastrol waarin Ouma (of eerder, ou Emma) daagliks die honde se pap in gekook het, of dalk Pa met sy ewige slappap, so in die bieliekannetjie as hy stasie toe gestap het. Die feit bly staan: pap simboliseer vir die uwe alles wat oneetbaar, onwelriekend en sommer net zef is!

In my voorskooldae het Ma, altyd op Pa se versoek, dikwels pap in alle vorme tafel toe gebring. Daardie klonterige, kluiterige stukke stywepap is dan met moeite opgeskep, want dit het immer aan die opskeplepel vasgeklou. Die pap-reuk het al die ander geure op die tafel, verswelg. Dit was ook so oorheersend en op 'n prominente plek neergeplak, dat dit niks gehelp het om nie oogkontak met die
onsmaaklikheid te maak nie. Pap-en-melk, pap-met-kaiings, pap-met-botter - dit was om van naar te word!

Pa het natuurlik my weersin in die papdisse geniet. Hy het ewe geveinsd groot happe gevat en deurentyd kommentaar gelewer oor hoe "lekker" die meelaanmaaksel dan was. Soms, wanneer Ma uit medelye met my, iets anders voorberei het wat sy geweet het, my gunsteling was, het Pa 'n lepelvol geskep, dan moes ek die oog toeknyp en my mond oopmaak. Hy het gewoonlik hierdie taktiek so twee of drie keer herhaal - en dan wreedaardig die volgende skeppie met pap vervang! My naarword is met 'n gelag begroet en Ma het gewoonlik proesend met "Sies vir jou, my man!" gemaak of sy aan my kant was.

Honde kry pap. Plaaswerkers het van pap gelewe. Papbrandsels is voor die agterdeur uitgekrap, sodat onnosele geveerdes dit kon oppik. Om vir mense, vir wie jy kastig lief is, pap in die naam van kos aan te bied, was nog altyd vir my 'n onreg!

 Ek het dan ook geweier om ogies toe te maak wanneer Pa sy gebruiklike tafelgebed afgerammel het, en daar enige vorm van die verderflike pap op die tafel was. 'n Mens bid eenvoudig nie vir pap nie, want pap is nie kos nie. Punt.

Later jare het 'n wildboer-vriend se vrou probeer om my verset teen pap, met biltongvysels in die stinkende bak pap, te deurpriem. Ek het my nie so om die bos laat lei nie - selfs biltong, kan nie van 'n krokodil, 'n geitjie maak nie. Die probeerslae om hompe kaas (ek dooi oor kaas!) in die pap in te roer, het geensins my smaakkliere geflous nie. Die sogenaamde "papterte" is eweneens 'n gekamoefleerde poging wat ek op 'n myl kan uitruik.

Met melkkos, kan jy egter na aan my siel kom! Heerlike melkkos met snysels en kaneel - dis mos
koningskos! Ek het as student by Tukkies, spesiaal Sondae vroeg terug koshuis toe gery, net om nie Mofkoeitjie se melkkos te mis nie. Noudat ek mooi daaroor dink, soms was dit nie eintlik melkkos nie, eerder melkpap. Ek herinner my dat  Swys eenkeer die bord bo-op sy kop omgekeer het, net om te bewys dat die melkpap nie sommer die houvas op die diepbord sou los nie.

Nee wat, mieliemeelpap, of koringpap, of enige gereg met die woordelement "pap" in, hoort nie op
betaamlike mense se eettafel nie. Dis amper net so sleg soos heuning, of dadels, of groenvye, of
liesvleis, of ...  

No comments:

Post a Comment