Sunday 12 January 2014

Konsertina op die stoeptrappie.

Twee van Ouma se niggies het op buurplase (daar op Eerstegeluk) gewoon. Hulle was tantes Kirjols en Katriena. Die eerste een kon 'n konsertina laat huil, die ander het die werfvolk laat huil.


Tante Kirjols het sekerlik 'n meer betaamlike naam gehad, maar ons het haar almal op hierdie naam geken. Ek dink sy was met 'n Van Eeden getroud gewees, maar ek het haar (toe ek so vyf was) in haar oumensjare geken, toe haar man al onder die kluite was. Sy was natuurlik 'n afstammeling van die vrugbare De Klerk-familie, wat die plaas Eerstegluk buite Bethal, bevolk het.




Per geleentheid het Ouma een Saterdagmiddag - ek het by haar gekuier - die Ford Cortina uitgetrek en aangekondig dat ons by tant Kirjols sou gaan koffie drink. Daar was nie 'n pad tussen die twee plase nie, Ouma het sommer so tussen die volk se statte deurgery, koers gekies lyndraad toe, en ek moes die draad platmaak en vastrap, sodat Ouma kon oorry. Dan het Ouma kom help om die draad weer respektabel staan te maak, sodat die melkkoeie nie onmin met die bure sou veroorsaak nie.
By tant Kirjols aangekom, het ons sommer om die kombuistafel gesit, met koffie en biskuit (van daai reuse biskuite wat jy nie geweet het hoe jy hulle moes benader nie) gekuier en na al die skinderstories oor die familie, geluister.




Dit was Ouma wat op 'n stadium gevra het: "Kirjols, gaan jy dan nie vandag vir ons 'n ietsie speel nie ?" Toe het die tante die donkielong agter die meelblik uitgehaal, agter die kombuis op die rooigepoleerde trappies gaan sit, so hier en daar gedruk, en met die 'hartseerwals' weggeval. Wat ek baie goed onthou, is dat sy nie 'n enkele keer op die note gekyk het nie! Haar blik was doer in die verte, waar die wilgertakke langs die spruitjie, in die briesie gewieg het. Miskien het sy nog 'n liedjie gespeel, ek kan nie onthou nie. Maar, daardie hartseerwals het in die geheue bly vassteek ...


Tant Katriena was die een wat 'n honderd-en-drie geword het. Sy was by sommiges as "ta' Ounooi" bekend, maar Ouma het altoos van "Katriena" gepraat. Sy het by haar dogter en skoonseun gewoon, en het bedags, wanneer beide van hulle op die dorp gewerk het, die plaaswerf met 'n ysterhand geregeer. Die plaasvolk het 'n heilige vrees vir haar gehad (ek ook!) en jy kon maar jou vinger oor enige iets in die huis trek, dit was silwerskoon. Toe sy die eeu gehaal het, het die familie 'n groot makietie vir haar georganiseer, daar op die plaas. Die hoogtepunt sou die Saterdag wees, wanneer die osbraai en joligheid die groot hoogtepunt sou gewees het. Helaas, haar dogter (toe al in haar sewentigs) sterf toe aan 'n hartaanval ... en siende dat die ver familie toe al aangekom het, word daar toe maar daardie Saterdag begrafnis gehou. Aan eetgoed, was daar natuurlik nie 'n tekort nie!




Miskien is tant Katriena se tragiese verhaal, die groot rede hoekom ek tant Kirjols en haar 'hartseerwals', so goed onthou. Ek glo tant Kirjols sou daar in die hemel (wat my betref, het alle oumense hemel toe gegaan) iewers op 'n trappie, tant Katriena verwelkom het - so met die konsertina saam. Darem sekerlik nie met die 'hartseerwals' nie - eerder 'n masurka of seties!

No comments:

Post a Comment