Friday 10 January 2014

'n Saak vir die gewete.

My ma het my kleintyd al vertel dat ek glo met die helm gebore is. Nie dat dit my eintlik veel gepla het nie, maar dit het tog 'n saadjie geplant, een wat my laat glo het dat ek 'n bietjie 'anders' as ander
mense is ...






Op skool was ek sportmal ! Eienaardig genoeg, het ek nie veel omgegee om self deel te neem nie, net die daar wees om goeie sport te aanskou en die geesdrif aan te voel, het my matelose genot verskaf. My pa was 'n groot sportman op sy dag, en ek het geweet dat my aanvaarding deur hom, in 'n mate van my sport-betrokkenheid afgehang het. So het ek toe self begin deelneem - en vinnig my heil by atletiek gevind. Weens 'n opvallende gebrek aan natuurlike spoed, het ek met Pa se gewigte begin oefen en gou was ek die beste veldatleet in die skool -  gewigstoot, spiesgooi en skyfwerp (my gunsteling) was my kos! Verder het ek gou uitgevind dat ek ook meer as net handig met 'n tennisraket was (ook een van die sportsoorte waarin Pa uitgeblink het).





Ewenwel, so is ek toe my skool se top-veldatleet en die interskole was aan die kom. Ons inter was maar altyd op die groter buurdorp, op Witbank. Dit was my st.9-jaar, en ek sou weer in genoemde drie items, die skool verteenwoordig. Natuurlik het dit goed gevoel as Vera en Marisa en al die ander meisies my luidkeels aangemoedig het, maar daar was een kinkel  (eerder iets in die drinkwater, maar ek weerhou my daarvan om kru te wees) in die kabel. Sy naam was Paul, en hy was die verpersoonliking van hoe 'n atleet moes wees en lyk: selfversekerd, glimlaggend en met 'n blonde kuif en spiere op al wat regte plek was. Hy was reeds die vorige twee jaar agtereenvolgens, die onbetwiste hekkieskampioen - en die aandag wat die meisies my gegee het, was gewoonlik net tydelik, totdat Paul met sy opwarming begin het.






Marisa was my droom-meisie, veral omdat sy die vinnigste meisie in die skool was. Niemand kon die 150m beter as sy hardloop nie. As die klomp in die pylvak ingekom het, het sy reeds 'n gaping opgebou en was sy met haar vinnige (en mooi!) bene en swart krulhare, onstuitbaar op pad wenpaal toe. Wat het Marisa met Paul uit te waai? Alles! Sy kon nie gou genoeg langs die reling wees om hom te sien opwarm nie. Ek het doelbewus haar aandag probeer aflei, selfs roomys en koeldrank aangedra, maar Paul was haar fokuspunt.






Laat ek maar ruiterlik erken: ek was jaloers en het Paul slegte dinge toegewens. As hy so sierlik oor die eerste drie oefenhekkies geseil het, was selfs ék in my binneste in vervoering - die man het die allermooiste styl gehad. Dan het my gewete my aangespreek, want ek het geweet dat ek eintlik 'n tweegesig was, omdat ek hom eintlik verwens het.






Toe blaas die afsitter se fluitjie. Die onder 17's moes naderstaan vir die 100m hekkies. Ons skool se meisies het natuurlik reling toe gehardloop en die blonde held sterkte toegeskreeu. Daar is in die blokke gesak, en dit het skielik baie stil geword. Ek het na die bewonderende blikke gekyk, gesien hoe hy ewe windgat (my gewaarwording) 'n hovaardige wuif met die een hand gegee het - en toe breek die wrewel in my los. In my gedagtes het ek hom, gesig eerste, op die asbaan sien neerslaan ...
Toe die skoot klap, het Paul 'n skitterende wegspring gehad en hy was voor die ander by die eerste hekkie. Eerste, maar te voortvarend ...






Paul het sy arm dwars na die hekkies gedraai, nie tred gehou met sy ritme wat glad nie daar was nie - en hy tref toe daardie eerste hekkie, arm eerste. Jy kon die klapgeluid sekerlik tot by die wenpaal hoor. Hy het 'n harde gil gegee, en met sy gesig na onder, soos 'n os op die harde asbaan neergeslaan!
Sy arm was morsaf, daardie gespierde bene was nerf-af - en Paul is op 'n draagbaar van die veld af, gedra. Sy interhoër was verby,  hy sou interbond daardie jaar nie sien nie, en sy rugbyseisoen was ook van die baan. Die skare was erg geskok, want almal het geweet wie Paul was en hy was dan ook die volslae gunsteling in die item.






Vir baie jare na daardie rampspoedige interhoër (vir Paul, want ek en Marisa het toe op die bus terug na ons tuisdorp, gekys geraak), het my gewete my erg gery. Ek HET Paul verwens, ek HET hom in my verbeelding sien val - wat nou as ek regtig, so met my geskiedenis van die vlies oor die kop tydens geboorte, oor 'n tipe bonatuurlike krag beskik? Sjym, arme Pieter!






Miskien moet ek nou maar vrede maak met my gewete. Paul was mos die volgende jaar terug op die baan ... en Marisa was toe mos myne! Dalk is die helm-ding net ouvroustories. Tog, daar was die keer toe ou Bok in die boom vasgery het, en toe ta' Magriet op haar stuitjie geval het, en ...

No comments:

Post a Comment