Saturday 4 January 2014

Die kortstondige droom ...

Die jaar 1977 was in vele opsigte vir my 'n 'annus horibilis'! Dit was my eerste post-universiteit jaar en ek was veronderstel om met 'n lied in die hart, my loopbaan as onderwyser te begin, maar  verpligte diensplig het my drome verydel. Soos enige jongman van daardie ouderdom, was my gedagtes by dinge soos 'n mooi ryding, 'n gerieflike blyplek, 'n droomvrou ...

Hoe dit ookal sy, ek was 'n infanterie-soldaat in wording, op die verre Oudtshoorn. Na 'n paar maande van lelik aftjop, is ons 'n effens verlengde naweekpas gegun, omdat ons in Augustus met grensdiens sou begin. Nico, 'n mede-troep met wie ek goed bevriend geraak het, het sy karretjie (ek dink dit was 'n Opel Kadett) by familie op die dorp 'versteek', toe bied hy aan dat ek en nog  twee ander, die langpad Transvaal toe, saam met hom kon aanpak. Dit was 'n gulde geleentheid, per trein sou ons nie eens oor die Vaalrivier gekom het voordat ons weer vir diens moes aanmeld , nie!

So beland ons vier met die bekende bruindrag aan, toe op 'n snikhete Saterdag op Beaufort-Wes, in die ongenaakbare Karoo. Dit was meer as net vrekwarm - ons het gesmag na iets koud met ys in, om ons te lawe. 'n Bier was buite die kwessie, ons het geglo die MP's was oral. Toe sien ons 'n tipe kafee-restauranterige plekkie en besluit daar en dan dat 'n yskoue 'float' (koeldrank met roomys in) 'n waar-
dige tweedeprys sou wees. Ag man, ek sien nou nog die plankvloere, die latwerk-tafeltjies met die blokkiespatroon-doeke oor!

 Ons het so na as moontlik aan die enkele dakwaaier gaan sit, sweet afgevee en na 'n kelner begin soek. Dis net op daardie oomblik, dat my ingewande onbekende draaie gemaak het ...

'n Entjie verder, by een van die ander tafeltjies, was sy besig om gebruikte glase op 'n skinkbord te pak. Haar hare was gitswart en het sag in haar dun nek gekrul. Haar beeldskone gelaat het my laat swymel en ek is seker my mond moes oopgeval het! Haar lyfie was so soepel en lynig soos 'n Sparletta-bottel, en toe sy na ons gekyk het, is my hart se kapasiteit tot die alleruiterste beproef. In my dag des lewens had ek nog nooit soveel volmaakte skoonheid aanskou nie - alles wat ek nog altyd oor 'n vrou, my droomvrou, gedroom het ...

Natuurlik het die ander manne ook hul menings oor die 'sexy girl' en 'floozy' gelug. Wie sou nie deur haar betower gewees het nie? Ek was so vasgevang deur wat met my aan't gebeur was, dat ek nie eens mooi gehoor het wat hulle alles kwytgeraak het nie.  Sy was die enigste kelnerin aan diens, en die gedagte dat SY ons sou bedien, het my bedwelm. Alle ander indrukke wat die veeleisende opleiding en die versengende Karoo-hitte op my gelaat het, was van minder belang - ek was net op haar gefokus, die nimf wat enige oomblik na ons toe aangesweef sou kom ...

Toe, steeds asof ek midde-in 'n heuglike onwerklikheid was, het sy langs ons tafel gestaan. Sy het haar kop opgelig, 'n hemelse glimlag gegee wat alles binne my nog verder vermurwe het, die bestelboekie op 'n skoon bladsy oopgemaak - en vir eerste keer sou ons haar stem hoor. In my ryke verbeelding was haar fluweelsagte stem reeds soos doudruppels op die mooiste roos, wanneer die eerste strale van die oggendson oor die horison kruip ... Met smagtende afwagting, het ek vrywilliglik in haar donker kykers weggesink.

  Maar, dis toe net hier waar ek sou leer dat 'n man nooit, maar NOOIT die noodlot buite rekening moet laat nie. Sy het haar gesig na my toe gedraai - en toe hoor ons : "Het die master al georder? Djulle is sieker vrek vannie dors!"

Sy was 'n Kleurling ... en dit was 1977.






No comments:

Post a Comment