Wednesday 27 November 2013

Drome van genade ...

Drome bring heimwee; drome is soms die uitvloeisel van verlange ...

Ek verlang verskriklik na my ma. In desperaatheid droom ek een nag dat ek wel kontak met die Hmel maak.

 "Kan ek asseblief met my ma praat?" vra ek. "Sy is Kotie de Wet. Net vir drie minute, asseblief?"

''By watter afdeling is sy?" vra 'n sagte stem.

"Afdeling? Sy  ... sy is seker by die brei- of hekelafdeling. Haar hande was nooit stil wanneer sy televisie gekyk het nie. Sy was altyd aan die hekel of brei vir een van ons."

Weer hoor ek die sagte stem. "Ons het nie so 'n afdeling nie. Ons is omgewe van lig, ons is omvou deur Sy warmte. Hulle brei nie, het nie klere nodig nie."

'"Probeer dan die bak-afdeling," sê ek. "Natuurlik! Sy sal by die bak-afdeling wees." Na haar dood het ek naarstiglik haar laaste stukkies beskuit uit die blik gaan haal en dit gevries. Ek sou dit nie kon eet nie, net hou vir ... vir ... net om na te kyk.

Hierdie keer klink die stem bejammerend, maar tog ook vertroostend. "Ons het ook nie 'n bak-afdeling nie. Ons leef van die vrugte van die gees."

Ek bly 'n rukkie stil. "Wat van die tuin-afdeling? Wat 'n planter was sy nie! Sy het vir my 'n aarbeisteggie geplant wat later 'n welige aarbeituin geword het. Sy was so lief vir die grond, so deel van die aarde."

Die stem antwoord, "Ons saai nie en ons plant nie. Ons besit reeds die ewige saad."

Ek raak desperaat. en vra, "Watter afdelings is daar dan?"

Die stem praat sag en geduldig. "Ons het kore ... "

"Kore ?" vra ek, "nee, ek weet darem nie. Sy was nooit 'n voorsanger nie. Wat is daar nog ?"

 Die stem raak nie ongeduldig nie. "Daar is ook hulle wat sit by die voete van die Een wat onderrig."

"Sit hulle ?" vra ek nuuskierig. "Nee, ek het nooit my ma sien sit nie."

"Hulle sit en luister na die Stem."

"O! Ja, sy sal daar wees!" jubel ek. "Ja, ek moes tog geweet het, sy was altyd 'n simpatieke luisteraar. Haar oë, haar gesig, haar hele lyf het altyd saamgeluister. Kan ek met haar praat?" vra ek opgewonde. "Ek is seker dis die plek waar sy sal wees!"

Die stem verraai 'n sweempie meelewing. "Hulle wat luister, word nie onderbreek nie. Maar, as jy wil, kan jy saam luister."

Die droom is verby. In die môre toe ek stiltetyd hou, onthou ek dit weer. Toe ek kniel, bid ek nie - ek luister. Hy het immers gesê ek kan saamluister. En ek luister ... en ek hoor 'n stilte vol vrede. In die vrede, is daar troos en in die troos, is daar arms wat my vashou. Sy vashou voel soos my ma se lyf. Nee, nog beter - meer volkome. Dit verdryf die verlange en die verdriet.

Drome bring ook berusting ...

No comments:

Post a Comment