Wednesday 13 November 2013

Een berg te veel ...

Pa was in die jare 1962-63 die stasiemeester op Ngodwana, 'n wonderskone plekkie in die pragtige Elandsvallei. Natuurlik was daar destyds geen sprake van 'n papierfabriek nie - die plekkie het bestaan uit 'n sandsteen-stasiegeboutjie, 'n goedereloods, vyf spoorweghuise en oom Murray se negosiewinkeltjie, waar ek elke tweede week vir Ma leesboeke moes gaan omruil het. Dis nou as die boekewa die grondpad , wat dikwels erg verspoel het, kon aandurf.

Die stasievoormanne was oom Olive Green en Willem Beneke, 'n jong eks-Pretorianer wat agter die poort, daar in Koos de la Reystraat, grootgeword het. Hy was 'n onverskrokke vuurvreter wat sy Ford kon laat spin soos min ander hom kon nadoen. Getrou aan die styl van daardie tyd, had die groen-en-wit Ford 'n sonskerm bokant die voorruit, 'n lugdraad met 'n heldergeel plastiese lemoen aan die punt, flappe agter elke wiel en 'n windmaker-knop aan die stuurwiel! Oom Willem het die gevaarte soos 'n 'pro' hanteer: linkerhand op die stuurwielknop, regterelmboog wat by die venster uitsteek.
By die huis was die mollige tannie San en drie kleintjies, nog nie skoolgaande nie.

Toe besluit Pa en oom Willem op 'n dag dat die berg noord van die stasie, die testosteroon uitgedaag het - en daar moes geklim word! Ek was 9 jaar oud, en moes saam. Ons is vroeg een Saterdag-oggend daar weg, het die Elandsrivier oorgesteek - en toe het die klim begin. Die berg is redelik steil, die tog was nie maklik nie. Pa was nog redelik fiks na sy lang rugbyloopbaan op Bethal, maar oom Willem het gehyg soos 'n os. Dit was ook opvallend dat sy gesig rooi geswel was. Hoe dit ookal sy, ons was halfdag bo en het daar onder 'n boom gerus en die utsig aan die anderkant, na Schoemanskloof, geniet. 'n Paar ribbokke het die prentjie mooi afgerond.

Die afsak terug Ngodwana toe, was 'n welkome verandering ... vir Pa en vir my. Oom Willem het steeds gehyg en sy gesig was teen daardie tyd so geswel dat hy amper nie voor hom kon sien nie.
Ons het besef dat iets ernstig verkeerd was en het weerskante van hom gestap om hom te ondersteun.

Dit was sterk skemer toe ons uiteindelik by die huis gekom het. Oom Willem kon nie eens praat nie, het net sy bors vasgehou en na sy asem gehyg. Daar is besluit dat hy dadelik dokter toe moes gaan - wat beteken het dat die meer as 30km Waterval-Boven toe, oor die Joubertsdraaie, gery moes word.

Wat daarna gebeur het, het verreikende gevolge gehad, baie meer as wat ons ooit kon droom! 'n  Reeks toetse het getoon dat oom Willem 'n vernouing in 'n aorta, naby die hart, gehad het - vandaar die asemnood. 'n Nood-operasie is uitgevoer en die verswakte stukkie is uitgesny en met 'n plastiese pypie vervang. Na sowat 'n maand, was oom Willem weer op sy pos, maar merkbaar stiller en meer besadig as tevore.

Ons is later weg van Ngodwana af, terwyl die Benekes nog daar aangebly het. Later het ons verneem dat oom Willem bedank het en 'n verkeersman in Pretoria geword het. Dit was 'n gedagte wat nogal sin gemaak het: die selfversekerde oom Willem. elmboog deur die syvenster, wat in sy patrolliemotor rondjaag.

Drie jaar later het ons die skokkende nuus verneem. Oom Willem, toe 36 jaar oud, is onverwags oorlede nadat die plastiese pypie in die aorta, 'n blasie gevorm  en toe gebars het. Dit was baie tragies, want tannie San, vlak in haar dertigs, het met drie klein kindertjies gesit wat versorg moes word.

Die berg voor Ngodwana se stasie, vandag oortrek met Sappi se dennebome vir die papierfabriek, was die enigste berg wat oom Willem ooit geklim het. Dit was, helaas, een berg te veel ...

No comments:

Post a Comment