Sunday 10 November 2013

Die Philips in die lewe.

Vandag nog, wanneer ek iemand met die naam Philip raakloop, maak my maag draaie en my rugstring kry weer daardie ou gevoel van 'n lamte, wat tot in my bene afkruip.

Philip was saam met my op skool. Sy pa was die hoof van 'n klein plaasskooltjie, sy suster se
naam was Irene en sy was my beste maat se meisie. Philip se ma het haar en Irene se rokke deur
Willie (my maat) se ma laat maak, want tannie Lappies was die beste in die geweste.

Akademies, was ek nie die stompste potlood in die laai nie, maar ook nou nie die oulikste skulpie
op die strand nie. Dit was nie te moeilik om een van die 'top-presteerders' in my standerd te wees nie, want ons was maar 'n klein skooltjie, skaars drie honderd kinders. Eintlik het ek nie juis kompetisie gehad nie ... behalwe Philip. Sy punte was altyd beter as myne, toets na toets en eksamen na eksamen. Dit was nie vir my die dood van Katryn nie, want ek was nooit 'n kompetisie-mens nie.
Ongelukkig het hierdie geaardheid van my, nie van my pa af gekom nie - hy was immer kompeterend - en dit is waar die moeilikheid begin het ...

Male sonder tal, het ek bedremmeld met my toets- of eksamenpunte voor Pa gestaan. My sewentigs (selfs so hier en daar in die tagtigs) was nie ter sprake nie - net my vertoning, in vergelyking met Philip s'n. Philip was die maatstaf, die norm en die standaard. Die woorde "Hoeveel het Philip ?" was my gelykmaker en vonnis. Uit vrees vir Pa se berugte toorn, het ek dit telkens oorweeg om 'n witleuen te vertel, maar die gedagte aan Willie se meisie, wat Philip se suster was, het my roekelose oomblikke vinnig laat stol. Pa se reaksie was gewoonlik dat ek nie hard genoeg geleer het nie, ongehoorsaam was, in die strate rondgeloop het as ek moes werk (al wanneer ek dit gewaag het om in die dorp te verskyn, was as ek winkel toe gestuur is), en dat ek Pa in die skande gesteek het.

Ek het maar my gang gegaan, was selfs op 'n makabere manier, 'vriende' met Philip. My enigste mate van voorsprong op hom (wat my seker gehelp het om hoofseun te word) was dat ek 'n liefde vir sport gehad het. Ek het veral goed in tennis, atletiek en krieket gevaar, terwyl Philip die vioollesse-tipe was en kon klavierspeel. Hy was die plaaslike 'nerd', die slim outjie wat soggens voor skool sy Wiskunde-huiswerk vir ou Potgieter moes gee, sodat laasgenoemde later in die dag, die werk aan ons ander kon verduidelik! My skool was nie daarvoor bekend dat daar juis akademici op die personeel was nie - en Potgieter se Wiskunde-kennis was maar verdag. Tale was my kos: van Afrikaans, Engels en Duits, kon selfs Philip my nie veel vertel nie.

As ek nou so terugdink oor die jare, was daar maar altyd 'n Philip aan wie ek myself moes meet. Krisjan gedurende my laerskool-jare op Bethal; Elize French op Elandshoek; Melodie in Laerskool Nelspruit; Petro op Maclear; later Desmond op Tukkies. Die Philips laat 'n mens harder probeer en bring daardie ekstra poging na vore.

Solank dit net gesonde kompetisie is - en nie 'n obsessie raak nie!

Ek het nooit weer na skool, van Philip gehoor nie, wou ook nie. Hy sou sekerlik 'n ingenieur of 'n ding geword het, vir sy pa kleunseuns gegee het en hulle laat klavierlesse neem het. Dit kan my nie skeel nie, ek is vandag vry van die Philips in my lewe ... altans, ek hoop so !

No comments:

Post a Comment