Friday 15 November 2013

Dawerende ontgroening!

Soos elders in die land, was ons standerd 6-groep ook by Hoërskool Maclear aan ontgroening onderworpe - dis nou die dae toe dié gewraakte woord nog sonder vrees des vervolgings, gebruik is. Daar was nie iets soos die hedendaagse 'oriënteringsprogram' nie, ons is pleinweg en openbaarlik aan die genade van die seniors oorgelewer en behoorlik ontgroen!

Die junta was 'n klein groepie koshuismatrieks, daar uit die Pitsing se kontrei.. Hulle het met die wonderbaarlikste idees vorendag gekom om ons soos wurms te laat voel. Ek het geglo dat selfs die manspersoneel, te bang vir hulle was om ons enigsins te probeer beskerm het! Ons moes tot vervelens toe hardloop, stoepe met tandeborsels 'vee', teen bome uitklim, lawwe boodskappies vir senior meisies aandra en nog 'n legio ander (vir hulle) 'vermaaklikhede'.

Toe kom die opdrag dat elke standerdses, 'n tuisgemaakte musiekinstrument skool toe moes bring. Ons moes voor skool en gedurende pouses, die seniors 'met unieke klanke vergas'. My pa het vir my 'n tipe rietfluit gemaak, sommer so met die knipmes, soos hy as plaaskind geleer maak het. Die Maandag is ons dan ook vinnig aangetree, sodat ons instrumente beskou en behoor kon word. Peet Groenewald, grapjas wat hy was, besluit toe daardie naweek dat humor sy aansien by die matrieks 'n hupstoot sou gee - en hy bedink toe waarlik 'n uitsonderlike 'instrument': 'n afgebreekte hout-stoelpoot ... en 'n koos! Dis nou een van daardie kose met 'n kleinlettertjie, die een wat toentertyd onder elke bed gestaan het. Natuurlik was Peet se geslaan op die pot, skreeusnaaks en kakofonies verby! Ons ander se pogings het maar min aftrek gekry, want dit was Peet en sy geniale idee, se dag.

So betree ons toe later die dag die Engels-klas van Miss Mundel, 'n reeds-bejaarde weduwee wie se man in die Tweede Oorlog gesneuwel het. Sy was immer kiertsregop, so maer soos 'n kraai en kuis geklee in 'n romp en bloes wat tot bo teen die keel toegeknoop en met haar ouma se kamee verseël was - so asof sy die boodskap dat sy nie van ons wêreld was nie, deeglik wou onderstreep. Sy was befoeterd en het nooit geglimlag nie. In haar klas het jy so vinnig as moontlik jou sit gekry en vredeswille jou 'English made Easy' uitgehaal en gewérk. Ewenwel, ons was net mooi met die Past Participles op dreef, toe Louis Bruwer (hy was 'n muurmens, agter teen die aanspeldbord) 'n opgefrommelde papier na Petro de Lange gooi - en Miss Mundel dit gesien het! Dit was 'n groot fout ...

Sonder om haar deurpriemende blik en blitsende ogies van hom af te laat wyk, storm die Miss toe die gangetjie op die plankvloer af, om Louis te gaan vermorsel (altans, so het.dit aan haar lyftaal gelyk!). Wat ons - en definitief sy - NIE van notisie geneem het nie, was dat Peet sy instrument langs sy bank op die vloer neergesit het, en nie onder die bank, soos ons beveel is om te doen nie. Soos die Voorsienigheid dit wou hê, tref die aanstormende kamee-tannie toe die koos met 'n voltreffer van haar skoen - amper asof sy die ongewenste ding by die venster uit wou skop. Daar klingel-klingel die geriefie toe tussen die banke deur, tot agter teen die muur, waar dit in 'n finale crescendo tot stilstand rol ! Mens, dit was nou vir jou 'n gedoente!

Al wat ek verder, benewens ons verskrikte gesigte wat rooi en pers van ingehoue lag was, kan onthou, is hoe Miss Mundel toe die stoelpoot gegryp het, Peet uit sy bank gepluk het - en hom met stoelpoot in die rug gedruk, na die Hoof se kantoor gemarsjeer het. Peet was natuurlik ons held, want niemand sou dit ooit gewaag het om Miss M se waardigheid te skend nie.

Mnr.Rust het toe musiekinstrumente verbied, Peet het 'n loesing gekry - en ons het meer 'exercises' as ooit tevore, gekry om te doen. Ai, dat 'n ou stoelpootjie en piepiepotjie, nou so 'n kelêmetie kon veroorsaak!             

No comments:

Post a Comment