Thursday 12 October 2017

Huweliksvoorwaarde

Wanneer 'n jongetjie oor die onderdeur begin loer, is daar maar altyd 'n ouer familiebetrekking of drie wat, by voorbaat, aan aanvaarbare en gepaste verbintenisse begin dink. In my geval, was dit nie soseer Ma wat die beskikbare poel begin fynkam het nie, maar Ouma!

Ek was skaars in die laerskool, toe Ouma my eendag heel moederlik nader gewink , en haar hart gespreek het. Dit was tydens een van ons sporadiese kuiertjies op die plaas. Pa en Ma het oudergewoonte na koffie-en-beskuit gaan stap, en Kleinsus was in haar element toe Ouma die ou koekblik vol knope van allerlei groottes, vorme en kleure, op die woonkamermat omgekeer het.
Ouma het eers 'n handvol droe perskes uit die versteekte sakkie agter in haar klerekas gaan opdiep, en toe het ons twee op die stoep aan't koue en geselse geraak.

"Hoe lyk dinge daar by die skool?" het Ouma gemaak belangstellend gevra. Nog voor ek 'n antwoord kon formuleer, het sy vervolg, "Is daar darem 'n ou meisietjie wat vir jou betaamlik lyk?"

Ek moes seker gebloos het, want Ouma het 'n kekkellaggie gegee - en toe by die kruks van haar saak uitgekom. "Marina van ta' Marthina is glo ook in jou klas. Mooie kjind daardie, en sy is eige bloed." Dit het in Ouma-taal beteken dat Marina familie van my was.

Nou moet ek darem dadelik byvoeg dat ta' Marthina net 'n verlangse niggie van Ouma was, dus was die 'eige bloed' darem nie so erg 'eige' nie! Marina se vosbruin krulhare het wel sag op die oog geval, maar origens was daar nie veel aan haar wat 'n japsnoet se belangstelling kon prikkel nie.

Ouma was effens bekommerd omdat ek haar keuse summier afgewys het. Sy het my agterdogtig aangekyk en reguit gevra, "Daar is nie dalk 'n Grobler-muisgesiggie in jou klas nie?"

"Nee, g'n Grobler nie, Ouma", het ek haar verseker, al het ek nie 'n idee gehad waarom Ouma so neerhalend na iemand met die van Grobler verwys het nie.

Op hoerskool was daar veel meer as net vosbruin krulhare wat my oog gevang het! So met al die oefensessies op die atletiekbaan saam, het ek op 'n heel ander manier van meisies bewus geraak ... en so aan. Telkens wanneer ons by Ouma op die plaas gaan kuier het, wou Ouma steeds weet of ek al my keuse uit al die "betaamlike" meisies gemaak het. Dan het ek dit geniet om haar been te trek, deur na die "baie mooies" te verwys, of te laat val dat ek en ''so 'n blonde bom" mekaar smiddae by die wilgerbome ontmoet het - alles natuurlik net om Ouma se siel uit te trek. Ek het geweet dat ek, as enigste kleinseun wat Oupa se name gedra het, voortdurend onder die vergrootglas geplaas is en my keuses, fyn dopgehou is.

"Ai, my kjind!" het Ouma per geleentheid haar kommer verwoord. "Moet tog net nie met 'n Grobler sta' en kerjakker nie! Dis erg genoeg dat Anna van oom Gert met 'n Grobler getrou het!" Ek kon nie anders as om vir Ouma se "kerjakker" te glimlag nie, maar die herhaaldelike beheptheid met die Groblers, het my begin pla.

Toe ons weer een naweek op die plaas was, het ek die saak aangeroer. "Ouma, wat is dit met Ouma en die Groblers? Hoekom hou Ouma van g'n Grobler nie?"

Ouma het 'n verontwaardigde snuif gegee, my vas in die oe gekyk en daar was ongenaakbaarheid in haar stem toe sy my die rede vir haar anti-Grobler gevoelens vertel het.

"Groblers is grondstelers! Hierdie geboortegrond van my, Eerstegeluk, is in 1870 aan my oupa Jan de Klerk toegeken. Hy moes saam met die landdros te perd ry, een uur in 'n rigting, dan het hulle 'n klipstapel gepak. Toe weer 'n uur in die ander rigting, en weer 'n klipstapel gepak. So is Eerstegeluk uitgemeet - volgens die gebruik in daardie jare."

Ouma se stem het skielik versag, sy het die verte in getuur en weemoed het haar weerloos laat klink en lyk. "Ek ken elke tree van hierdie plaas; hier is ek gebore, en hier sal julle my graf toe dra ..."

Daar was 'n knop in my keel, maar ek moes by die ding oor die Groblers uitkom. "Nou hoekom is die Groblers dan grondstelers, Ouma?"

Dit was genoeg om die oomblik van vermurwing uit Ouma te skok. "Want daardie selfde nag, nadat my oupa-hulle die plaas uitgemeet het, het 'n Grobler wat hier anderkant op die buurplaas, Blesbokspruit, gebly het, soos 'n dief in die nag nader gesluip en die klipstapels verskuiwe! As dit nie vir sy agterbakse duiwelstreke was nie, kon Eerstegeluk vandag baie, baie morge groter gewees het!"
Ek wou nog vra of die ongeregtigheid dan nie herstel kon word nie, maar die kyk in Ouma se oe, het my die stilswye opgele.

Ek kon my ore nie glo nie! Na amper 'n honderd jaar, was die wrewel jeens die Groblers, steeds nie op die agenda vir versoening nie. Die De Klerks sou daardie oneerlikheid soos 'n legende van geslag tot geslag oordra, en alle nasate van daardie enkele Grobler-man, sou die teken van Kain dra - vir altyd!

Nee, ek het nooit met 'n Grobler-meisie uitgegaan nie. Is ook toe nie met 'n Grobler getroud nie. Daar was wel langs die pad 'n Grobler-meisie of twee wat aanvallig en vol belofte was, maar enige amoreuse gedagte het summier voor Ouma se ernstige vermaning, gesneuwel!

No comments:

Post a Comment