Wednesday 4 October 2017

Kleine meisie, grote ore!

Dit is al vele male bewys dat grootmense nie kinders moet onderskat nie! Laasgenoemde se sintuie is skerp en vars - en soekende na nuwe indrukke om te verwerk, en met die volle omvang van hulle emosies, te ervaar.

Om in die vyftiger en vroeg-sestiger jare die rivierpaadjies langs die Sabie (dis nou in die wildtuin, natuurlik) vir wild te kon verken, moes 'n man waarlik murg in jou pype gehad het. Die digbegroeide oewers het sig tot die minimum beperk, en die grondpaadjies was maar nou en skaars meer as tweespoor-grootte. Die sporadiese luiperd of leeu wat uit die bosse gestap het, het die bloed van opwinding laat bruis en deurpriemende blikke het die ruigtes vir daardie baie spesiale, skaars diersoorte gefynkam. Die opwinding was groot, want die kanse dat 'n reuse olifant jou skielik om 'n skerp draai kon inwag, was redelik goed.

So was die De Wetjies dan ook per geleentheid op een van daardie rivierpaadjies, met Pa die gretige gids. Ma se senuwees was gedaan, want Pa had die nare gewoonte om te na aan 'n olifant te kom. Dit was asof hy 'n sadistiese genot daaruit geput het om ons (dis nou Ma, Kleinsus en ek) vreesbevange te laat smeek om die VW-kewer tog om vadersnaam net weg van die grootvoete te kry. Ek en Ma kon die situasie tot 'n mate hanteer, maar Kleinsus het oorpynigend aan't skree gegaan wanneer sy - skaars vier jaar oud - 'n flapoor gewaar het.

Toe prakseer Pa 'n plan, een wat hy gedink het, ons ore teen Kleinsus se stembande kon beskerm. Ek kon eers nie verstaan waarom Pa skielik Engels met Ma gepraat het nie, maar toe luister ek mooi na die gesprek en snap toe Pa se logika. Hy was maar altyd (blykbaar sedert sy skooldae) 'n bietjie met die weermag (vloot, lugmag) behep, en het sy plan dan ook op daardie lees geskoei.

"When one of you sees an elephant, don't use the animal's name. Say 'hands on deck', then she won't be alarmed and we'll not have to endure all the yelling!" Ek het geglimlag, want Kleinsus was skaars 'n paar bakstene hoog en sou sekerlik nie geweet het waaroor die gesprek gegaan het nie. Dit was 'n welkome gevoel om iets te weet en verstaan, waarvan sy g'n snars van begryp het nie.

Die plan het dan ook uiters positiewe resultate tot gevolg gehad. Terwyl Kleinsus tot vervelens toe Marietjie (haar pop) se toutjie agter die rug getrek het sodat sy kon 'praat', en die pop kastig gevoer en drooggemaak het, het Pa of Ma kort-kort met 'n "hands on deck" my aandag op 'n olifant langs die rivier, gevestig. Sy had in elk geval vrede met wat ons ookal te siene gekry het, dit was net die olifante waarvoor sy 'n heilige vrees gehad het - Pa se skuld, soos ek reeds verduidelik het.

Na twee dae het ons die rivierpaadjies al goed geken, want Pa was 'n leeu-man en het saans, so om die gemeenskaplike vleisbraaivuur wat in die middel van die kamp gebrand het, by die ander manne gehoor waar presies die kraagmannetjies daardie dag gewaar is. Tussen Skukuza en Onder-Sabie was toentertyd seker so vyf  'river loops', soos dit genoem is - en die leeus was daagliks langs een of meer van die 'loops' te siene. Natuurlik was die "hands on deck" ook daagliks op die spyskaart, maar Kleinsus het net gillende geweet van diĆ© wat in of baie naby aan die pad was.

Dit was die middag van die derde dag. Ons was weer op een van die oewerpaadjies, toe Pa 'n groot visarend  in 'n reuse wildevy wat reg langs die pad gestaan het, gewaar. Pa stop toe sommer so in die middel van die pad, trek die verkyker nader en wys vir my en Ma die pragtige geveerde met sy opvallende wit bors. Die skerp kontras tussen die groen van die blare en die swart-en-wit van die arend, het dit 'n onvergeetlike gesig gemaak en ons volle aandag was by die mooi toneeltjie.

Meteens het Kleinsus 'n verskriklike gil gegee en haarself tussen die Volla se voorste sitplekke ingewurm, terwyl sy met 'n uitgestrekte armpie na agter gewys het. "Hen se dek! Hen se dek!" het haar skeermesstemmetjie alles wat in die ruigtes was, in hulle spore laat stuit, of die hasepad laat kies. Ons drie het ons water en ligte weggeskrik en vervaard na agter gekyk . 'n Reuse olifant het enkele meters agter die karretjie, uit die bosse verskyn en slurpswaaiend gereed gemaak om ons te bestorm! Dit moes Kleinsus se verstommende volume gewees het wat die gedierte so ontstel het, want hy het met 'n kwaai getrompetter sy misnoee te kenne gegee, en ons vanuit die hoogte aangegluur.

Hoe Pa die Kewer so vinnig aan die gang gekry het, en hoe hy in so 'n kort tydjie, so vinnig die afstand tussen ons en Jumbo tot 'n veilige vyftig meter vergroot het, het ek lank agterna gewonder. Ma het Kleinsus styf teen haar vasgedruk en Pa luidkeels aangemoedig om die petrolpedaal dieper in te trap. Ek het eweneens die bibberasie gehad, want daardie massiewe lyf sou ons sekerlik vermorsel het - Kleinsus se skril aria was genoeg om enige olifant tot in sy fondament te skud!

So was Pa se Engelse kodewoorde, toe nie so 'n waterdigte geheim nie. Kleinsus se aandag was dalk by Marietjie, maar haar ore was wawyd oop - en sy kon duidelik twee en twee bymekaar tel!


No comments:

Post a Comment