Sunday 4 May 2014

Die Kersdag-leuen

In Desember 1973 het ek die eerste keer op Onder-Sabie vir diens aangemeld. Ek was natuurlik in die wolke, want om in die wildtuin te kon werk - al was dit dan net vir 'n maand of so - was iets waaroor 'n bosbewonderaar net kon droom! Dit het my min geskeel dat ek die werk via 'n kennis van 'n kennis se oom bekom het - ek was daar, en dit was al wat saakgemaak het.


Na twee weke van indiens-opleiding, was ek reg om die ontvangskantoor te behartig. Tannie Renche Pieterse was met verlof, en ek moes probeer om die toeriste gelukkig te hou. Bedplasings moes daagliks gedoen word, nadat die besprekings vanaf hoofkantoor (Groenkloof, Pretoria) deur Ruth Smulders deurgegee is. Dit was dan ook nogal 'n uitdaging om enige dubbel-bespreking te voorkom, om akkuraat en presies te wees terwyl die malende menigte op jou toegesak het ! Hoe nader dit aan die Kers-naweek gekom het, hoe dringender was die versoeke en klagtes en dreigemente en (hier en daar) gesoebat. Plek was skaars soos witleeus, die kamp was aand na aand stampvol.


Dit was 'n gegewe dat die permanente personeel by voorkeur, nie op Kersdag sou werk nie. Ek is vroegtydig daarvan verwittig dat ek nie op Kersdag afgelos sou word nie, ek moes van vyf in die oggend, tot sewe die aand, op my pos wees. In my gemoed het ek geprotesteer, maar die werk was baie belangrik vir my en ek het net geglimlag en besluit om die dag te oorleef.


Wat 'n chaos! Vroegoggend reeds het die ry voor die ontvangskantoortjie, tot verby die restaurant, gestaan. Min het 'n besprekingsvorm in die hand gehad, die meeste was kansvatters wat kom hoor het of ek nie dalk 'n hut of twee oopgehad het nie. Dit was 'n gestoei, gepraat en gebeduie om voor weg te hardloop! Ek het my uiterste probeer, maar die geduld was min en ek is deur talle, onkiese dinge toegesnou en selfs gedreig : "Luister, ek weet nie wie en wat jy presies is nie, maar ek het vriende in hoofkantoor en hulle sal vir seker hiervan hoor! Ek het deur die kamp gestap en gesien dat daar 'n hele paar rondawels leeg staan!"


Toe 'n opgesmukte rooikop net mooi op koers met haar tirade oor hoe moeg gery sy was en hoe dit my plig was om haar en haar man te help, word ek oor die radio geroep.
"304, 304 Onder-Sabie, 304 - kom in!"
Dit was soos manna uit die hemel! Vir 'n paar minute kon ek met iemand in 'n ander kamp praat, en nie met die bende voor die toonbank nie.
"304 Onder-Sabie staan by!" Ek het stilweg gehoop dat die gesprek 'n tydjie sou duur, sodat ek nie
weer asem kon skep.
"Onder-Sabie, dis 306 Satara. Ek is bevrees ek het baie slegte nuus vir jou. Kan jy my lees?"
Ek het yskoud geword. Slegte nuus - vir my?! En dit in die wildtuin?
"Ek hoor jou hard en duidelik, Satara. Jy kan maar voortgaan." Selfs die anargiste naaste aan die toonbank, het stil geword en my aangestaar. Hulle wou ook weet wat die slegte nuus was wat die stomme ontvangsmannetjie dan op Kersdag sou ontvang.
Tannie Eileen van Satara se ontvangs, se stemmetjie het hier en daar gebreek toe sy met die storie vorendag kom. "Ai, Kobus, dit spyt my om jou mee te deel dat mnr. W.A.Swart wat vanaand daar by jou inbespreek is, nie meer sal opdaag nie. Mnr. Swart is vanoggend vroeg hier op Satara oorlede. Hartaanval. Ons wag juis nou vir die lykswa wat van Phalaborwa af op pad is ..."


Wat daarna gebeur het, is vir altyd in my geheue gegraveer. Enersyds het dit my onder die diepe besef van die mens se nietigheid gebring, andersyds onder die besef dat daar geen waarborge in die lewe is nie. Maar, die helderste onthou van daardie dag, is die reaksie van daardie rooikop. Sy het 'n gilletjie laat glip, na agter gedraai en haar skril stem het bo die ander wagtendes s'n uitgestyg:
"Josua! Het jy dit gehoor? Ons gebede is verhoor, my man ! Daar's vanaand 'n rondawel oop - 'n man van Satara kan dit nie meer maak nie!"
'n Emmer yswater was oor my uitgegiet. Ek weet nie eens of ek tannie Eileen geantwoord het nie. Ek weet net dat ek verbysterd na die opgewonde gesig voor my gestaar het.
"Meneer, dis perfek! Ek en my man is net twee persone - ons vat daardie rondawel!" Sy het dadelik haar handsak op die bedieningsblad getel en oopgemaak. "Hoeveel sal dit wees?"


Daardie aand toe ek na agt fisies, maar meer geestelik moeg op my bed neerval, kon ek die trane nie keer nie. Dit was Kersaand, ek was alleen ... en die dag se gebeure het deur my kop gemaal. Dit was nie reg dat die Heiland se dag, so ontsier moes word nie! Dit was nie reg dat daardie helleveeg die dag so ontheilig het nie. Dit was nie reg dat 'n man, wat sekerlik so na sy wildtuin-besoek uitgesien het, op Kersdag die lewe moes laat nie ...


Dit was seker ook nie reg dat ek 'n leuen vir die rooikop vertel het nie. My woorde was soos spykers in my hart: "Jammer, mevrou, daar is reeds 'n waglys, ek moet die hut ongelukkig aan iemand anders gee wat lank voor u reeds hier was."


Ek het op Kersdag gelieg, blatant en sonder om eers te besin. Uit 'n besigheid-oogpunt, was dit seker ook nie reg dat daar daardie aand, wél 'n tweebed-hut op Onder-Sabie, onbeset was nie ...

1 comment:

  1. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete