Thursday 15 May 2014

'n Andersoortige Everest !

Om 'n skole-sportspan na 'n byeenkoms of toernooi te vergesel, kan heel avontuurlik wees. Dit hou wel die gees jonk, maar soms gaan dit met reuse uitdagings gepaard!


So beland die uwe toe per geleentheid in Pretoria Boys High se koshuis - as spanbestuurder van die onder 15-tennisspan, vir die nasionale junior-toernooi. Verstaan my mooi, Boys High is 'n pragtige skool, waar jarelange tradisies soos tameletjie van 'n toffie-appel drup. By die aankoms verkyk 'n mens jou aan die wonderskone tuine, die interessante uitleg en die verstommende groot area wat, so neffens Tuks se kampus, aan 'n skool afgestaan is.


Ewenwel, ons is toe ons kamers toegewys. Ek had die voorreg om in 'n enkelkamer tuis te gaan, dis nou een waarin 'n soutie (ek dink hy moes 'n matrikulant gewees het) homself vir skool en lewe voorberei het. Soos dit maar in enige seunskoshuis is, was die kamertjie nie te groot nie, met net 'n klerekas, en 'n studeertafel/bed-kombinasie wat die ruimte(tjie) gevul het. Genoemde kombinasie het bestaan uit 'n houtstruktuur, met onder die studeertafel, en bo, soos 'n knus dakkie, die slaapbank (ek dink 'bed' sal 'n ietwat vleiende benaming wees). As jy so voor die studieblad gesit het, was daar 'n gapende , grotagtige inham voor jou. Dit was redelik duister, die leeslamp moes selfs in helder daglig, aangeskakel word.


Alles het heel rustig verloop daardie middag. Ons het die terrein verken, daarna aandete genuttig en ook 'n spanbestuurders-vergadering bygewoon, waartydens al die moets en moenies en 'thou shallt not' dinge aan ons verduidelik is. Teen nege-uur se koers het ek die Filistyne bed toe geboender, die banvloek belowe as hulle, hulle nie sou gedra nie, en ek het gereed gemaak om 'n lang dag met 'n verfrissende slaap af te sluk. Na 'n lekker stort (daar was warm water!) kon ek nie gou genoeg onder die kombers inklim nie. Dis net hier waar dinge toe lelik skeefgeloop het ...


Eers toe ek op my dakkiebed wou klim, sou ek agterkom dat daar niks in die vorm van 'n leertjie of trappie was om bo-op die studeergrot te kom nie! Aan die voetmerke in die vensterbank, maak ek toe die afleiding dat die rooinek seker heel rats, eers op die vensterbank gewip, en toe tot op die bed moes geklouter het. Heel avontuurlik, en sekerlik 'n aktiwiteit wat 'n seun goed oor homself en sy spiere laat voel het -maar gewis geen grap vir iemand van my jare nie!


Hoe nou gemaak?! Ek herinner my dat ek op die stoel gaan sit het, my dilemma oordink het, en toe 'n plan probeer prakseer het. Nee, daar was geen genade nie: ek sou my onbekende vriend se metode moes volg. Om hulp te gaan soek, sou te onwaardig en vernederend wees - om nie van die gelag en gespot te praat nie! Ek het die lig afgeskakel, die vensterbank bekruip en met die een arm styf om die stellasie se een hoekpaal geklem, myself tot in die nou vensterbank opgetrek. Daar sit ek toe vasgeknel, tussen die noute van 'n vensterbank, en die stutpale van die bedgedoente! Met die uiterste inspanning, wurm ek myself toe dakwaarts, kry die beddegoed beet, en trek myself halflyf tot op die bed. Natuurlik het die kooigoed afgegly, maar genadiglik, was daar 'n onderlaken wat iewers vasgeknel was en weerstand kon bied, sodat ek my seer lyf tot op die matras kon kry. Uitasem het ek vir 'n lang ruk my asemhaling tot bedaring gebring, en toe die gebeure oordink. Wat op, moet weer af - dit was 'n skrikwekkende gedagte!


Ek het daardie nag nie veel kon slaap nie, enersyds omdat ek getob het oor die dae van ophys en afspring wat op my gewag het, en andersyds omdat moeder natuur my teen drie-uur die oggend se stryk, gemartel het: ek moes badkamer toe ...  Aanvanklik het ek myself probeer oortuig dat ek kon knyp, dat ek daglig sou haal as ek net op ander dinge sou fokus en probeer slaap het, maar dit was tevergeefs.


Wat die tennis betref, het dinge heel voorspoedig verloop. Die weer het saamgespeel, die gees was prysenswaardig en die geselskap aangenaam. Laatmiddag het my gesels egter opgedroog, want ek moes my volgende Everest-sessie visualiseer en beplan. Saans het ek so vroeg as moontlik kamer toe gegaan, want wat daar op my gewag het, was veeleisend en telkens 'n groot uitdaging!


Daardie soutie het nooit geweet watter wroeging die oom daar in daardie koshuiskamer deurworstel het nie. Miskien kon 'n mens 'n handleiding daaroor skryf! hoofstuk 1: "How to climb onto a hostel bed". Daar sou ook 'n hoofstuk 2 wees: "How NOT to climb onto a hostel bed" !

No comments:

Post a Comment