Friday 18 October 2013

Die dreigement

Kleinboet was nie een wat maklik sy sit kon kry nie. Hy was alewig aan die rondskuif en mierbedrywig wanneer die situasie eintlik stigtelikheid vereis het.

Dit was daardie Sondag vroeg reeds duidelik dat  die son dooierus sou vat, soos wat die ure meer geword het. Ons klompie was in die kerk, aan't nesskrop voordat dominee sy binnekoms vanuit die konsistorie sou maak. Die gemeente rondom ons het onderlangs gefluister - veral toe Sarie Coetzer met haar uittartende haarnet (in plaas van die vereiste hoofbedekking), ewe kordaat die puntstoel in die tweede ry voor die kansel, betrek het.

Ma had haar hande vol om Kleinboet tot stigtelikheid te maan en hom relatief stil te laat sit. Hy het vir hierdie een grootoog getrek, dan weer vir daardie een vinger gewys. Sy arms moes seker al bloupers van die knypmerke gewees het, want Ma het kort-kort besef dat woorde alleen, nie die nodige uitwerking sou hê nie. Toe hy vir die soveelste keer omdraai om na iets agter in die kerk te wys en 'n gepaste kommentaar te formuleer, het Ma net mooi genoeg gehad.
"Nou sit jy stil! Sien jy daardie deur daar aan die kant? As jy nie stilsit nie, gaan die duiwel daar inkom en dan vat hy jou saam met hom!"

Nou ja, selfs Kleinboet had al van die duiwel gehoor, en sy vinnige reaksie en stilsit-met-stywe-bene het gewys dat hy liewer nie met die bose swaarde wou kruis nie. Ma was ingenome, want sy kon sien dat haar dreigement, die gewenste uitwerking gehad het en dat sy verder nie probleme met Kleinboet sou hê nie.

Ons het so in die gewyde atmosfeer van die mooie orrelklanke, later van die petalje vergeet en solank die teksgedeelte (wat voor op 'n bord aangebring was) in ons Bybels opgesoek. Kleinboet het steeds grootoog na daardie deur gekyk, en half benoud tot teenaan Ma geskuif.

Millie Louw het die laaste voorspel afgehandel en was net mooi besig om die koraalboek eenkant neer te sit, toe 'n geweldige kreet deur die kerk weergalm! Almal het na hul asems gesnak en hul water en ligte weggeskrik. Dit was Kleinboet wat die gil gegee het, en hy spring toe regop op die bank en wys na die konsistoriedeur.
"Ma! Help my - daar kom die duiwel!!" het dit dit tot teen die gewelf weerklink.

Dit was toe mooi dominee wat ewe niksvermoedend, die deur oopgemaak en vir die ouderlinge gewag het om nader te staan ...

No comments:

Post a Comment