Saturday 19 October 2013

Verdiende loon

Om in die berugte sewentiger jare 'n jeukerige student te gewees het, het sy bepaalde uitdagings gehad. Ons was die pre-Kerkorrel generasie, die manne wat bekers koffie om oor politieke - en godsdienssake kon redekawel - soms tot in die nanag, tot wanneer die nongwata sy weemoedige roep op die oop stuk naby die bloekombome, gegee het.

So was dit weer 'n aand van handjies uitdeel (ons uitdrukking as ons na die kaartspel 'brug' verwys het), liters koshuiskoffie afsluk, Life-sigarette rook - en die noodwendige globale probleem of drie aanspreek. Tubby het klaar geskommel, Chris het soos gewoonlik vuilspel vermoed en hom met 'n valkoog aangegluur, en ek het die voetenend van Tubby se bed betrek. Die Taaibos-kamer was aan die suidekant, waar jy noodgedwonge 'n Kollege-huis uitsig gehad het. Die koshuisstraat verby Taaibos, op na Mopanie en Maroela se kant toe, of af na Boekenhout en Olienhout,  het nie ver van die kamer af verbygeloop nie. Dit was al laataand, maar ons was reg vir 'n handjie of tien.

Net toe die eerste hand op sy spannendste was en dit gelyk het of Chris geen harte oorgehad het nie, hoor ons hoe 'n student van ver af met 'n gejuig naderjaag. Die draaie om Taaibos was redelik skerp, derhalwe het jy net ankers gehoor, skreeuende bande om die draaie en 'n baldadige gejuig vanuit die Beetle, wat skynbaar op pad Mopanie toe was. Ons kyk toe al drie by die venster uit, want sowat van ryvernuf - om daardie draaie teen so 'n spoed te kon bemeester - moes iets gewees het om te aanskou. Soos die Voorsienigheid dit beplan het, maak die kewer dit toe nie om die krink na bo nie, en daar rol die Volksie, oor die randsteen, op pad Kollege-huis toe! Na twee keer se omslaan, kom dit toe ewe netjies weer op die wiele te lande.

Dadelik hol ons toe die brandtrappe af, die slagoffers tegemoet. Onder studente was daar toentertyd 'n tipe ongeskrewe kameraadskap, 'n soort ooreenkoms dat, al was julle koshuisvyande (soos ons en Boekenhout was), snel jy dadelik jou kameraad te hulp as die 'fuzz' (polisie) of nood dreig, of soos in hierdie geval, toegeslaan het. Tubby was natuurlik die laaste om op die toneel te verskyn, omdat hy nie juis die bou vir 'n vinnige brandtrapnaelloop, gehad het nie.

Ewenwel, daar is ons toe by die kar, met die idee dat ons die lyke of erg beseerdes, van hulp kon wees (as 'n mens 'n lyk enigsins kan help, maar die idee was rein). Tot ons verbasing, was daar slegs 'n passasier voor-in die kewer! Hy was nog netjies vasgegordel, maar het heel verdwaas en nie by homselwers nie, gelyk. Versigtig het ons die man laat uitklim en nog versigtiger op die gras laat sit.  Hy kon geen sprook sprak nie, die skrik  was te groot .
"Waar is jou pel?" het Chris gevra. "Iemand moes tog die drywer gewees het?" Ek was verstom oor die aspirant-tandarts se logika.
Die passasier het net sy kop vasgehou, en so in die vashou, geskud. 'n Krieweling het skielik deur my getrek. Hier was iets eienaardig aan die gang ...

Ons drie het die saak van alle kante bekyk, bespiegel en bepraat. Tog kon nie een met 'n logiese verduideliking vir die afwesigheid van 'n bestuurder, na vore kom nie. Die ergste van alles was dat nie een van ons eers 'n knertsie ingehad het nie - net koshuismoer, sterk en suiwer.

Toe, so in die waas van die laataand, sien ons 'n slingerende skim wat ons vanuit die newel nader. Ek het geskrik, want ek is met die helm gebore en daardie iets het maar snaaks beweeg - so swaaiend van die een kant na die ander. Ons het stil geraak, net na die naderende onheil gestaar. Dit was eers toe hy feitlik by ons was, dat ons die gehawende ou as 'mens' kon eien. Hy was duidelik erg deurmekaar, en daar was bloed aan sy een arm. Hy het verby ons gewaggel, en toe langs sy mater op die gras gaan sit.
"Hierso, jy het gewen," het hy laat hoor toe hy 'n bruin papiersak in sy vriend se hande gedruk het. Ons was meer in die duister as tevore.

Later sou ons die volle verhaal verneem. Die twee het die aand hul dorstigheid by die Xanadu gaan les, toe die een (wat die passasier was) sy vriend aangespreek het omdat laasgenoemde goed gegooi het en eersgenoemde bekommerd was dat hulle nie die veiligheid van hulle Mopanie-kamers sou haal nie. Ten einde raad het hy toe die drywer gewed dat hy hulle nie tot by die koshuis sou kon bring nie - met die hoop dat dit die ou met die sleutels sou oorreed om die terugtog aan te pak.  Sebastian Vettel het die uitdaging aanvaar en die twee is toe met 'n gejuig daar weg. Verder is dit geskiedenis, en die saamryer was toe reg: sy vriend kon hom nie by die koshuis kry nie .

O ja, die papiersak. Nee, die ou het hom toe uit die wrak gewikkel, en na die kafee oorkant Lynnwood-weg gestrompel - om vir die wenner van die weddenskap, 'n hamburger te gaan koop!

So het beide studente toe hul verdiende loon gekry - by wyse van spreke!

No comments:

Post a Comment