Monday 2 November 2015

Kleinmond-reise

Die dorpie Kleinmond is voorwaar een van die Overberg se juwele ! Knus tussen die wye oseaan en die Palmietberg, skep die ligging van hierdie kusplekkie, as't ware 'n sprokiesbeeld van prentjiemooi tonele.

Wanneer jy die dag die wiele wil laat draai, is daar verskeie opsies wat jou na plekke bring waar jou kamera oortyd werk en jy die een pragtoneel na die ander in verwondering gadeslaan. Die suidelike kuslyn van Valsbaai, is slegs sowat 20km van Kleinmond af. Hierdie 20km is opsigself 'n belewenis, want die pad kronkel al langs die Kogelberg-fynbosreservaat (en die see, natuurlik !) verby Bettysbaai, Pringlebaai en Rooiels. Dan is jy by sekerlik die mooiste pad in die ganse RSA: die beroemde Clarence Drive, al op die soom van Valsbaai langs, tot by Gordonsbaai. Hierdie pad is vernuftig teen die berg uitgekap en deur Italiaanse krygsgevangenes gebou. Benewens alles wat die see jou kan bied, kan 'n mens hier rond ook op die uitkyk vir klipspringers, watermuishonde, otters en bobbejane, wees.

As jy die hele dag tot jou beskikking het, is 'n rit aan die oorkant van Valsbaai, al met die R300 langs, 'n baie goeie keuse. Binne enkele kilometers is jy verby plekkies soos Strandfontein, Vishoek, Kalkbaai - en dan kry jy Simonstad ! Dis 'n groot gunsteling by ons, want Simonstad is net 'n droom ! As jy nog nie genoeg gesien het nie, kan jy verder ry , verby die afdraai na Kaappunt, na Scarborough, en weer oor die berg (wat 'n uitsig !) terug na Simonstad.

Wanneer jy 'n dag weg van die see beplan, is Greyton 'n uitstekende keuse ! Vanaf Kleinmond, neem die R44 jou tot verby die luukse Arabella gholflandgoed, dan met die R43 tot by Botrivier. Daar klim jy op die N2, wat jou deur die canola- of koringlande (afhangende van die seisoen) neem tot duskant Caledon, waar die Genadendal-pad links wegdraai. Dan volg 'n rit van so 27km, al kronkelend tussen pragtige heuwels, met 'n groot verskeidenheid watergeveerdes wat by damme en riviere te siene is. In die winter, sien jy van hier af, die wit sneeupieke van die berge na Worcester en Franschhoek se kant toe. Greyton is net 5km anderkant Genadendal (self 'n besoek werd). Straatkafeetjies, antiekwinkel-
tjies en water-leivore langs die strate - dis Greyton ! Dis maar moeilik om daar weg te kom, 'n mens wil die rustige tyd in die pragtige omgewing, so lank as moontlik geniet.

Vanaf Caledon, loop die Hemel en Aarde-pad, oor die berge na Hermanus. Die pad is tans onder konstruksie (2015), maar steeds gewis die moeite werd om te ry. As wynproe jou ding is, is hierdie een van die roetes wat jou nie sal teleurstel nie.

Miskien voel jy lus om nie ver te ry nie ? Dan is die 30km na Hermanus, net die antwoord. Daar kan jy die ou en nuwe hawe besoek, deel word van die deurlopende toeriste-atmosfeer, of sommer net langs die see 'n heerlike ontbyt geniet. As dit nog vroeg genoeg is, kan 'n besoek aan Stanford en Gansbaai (net 35km verder) ingepas word.

Was jy al by die suidpunt van Afrika, daar by L'Agulhas ? Van Kleinmond af, is dit 'n gemaklike dagbesoek wat beslis aangepak moet word ! Die roete daarheen, neem jou verby Hermanus, dan links by Stanford, oor die Akkedisberg-pas tot by die T-aansluiting met die pad vanaf Caledon na Bredasdorp. Enkele kilometer voor Bredasdorp, kry jy eers Napier - 'n natuurskone dorpie met groot plaas-tipe erwe waar windpompe, skape en perde, deel van die daaglikse dorpsbestaan is. Vanaf Bredasdorp volg die pad net een rigting: reguit see toe ! Kort voor lank is jy by Struisbaai, met L'Agulhas 'n klein entjie verder af met die kus. As jy avontuurlustig is en nie omgee om grondpad te ry nie, kan jy (terug Kleinmond toe) voor Bredasdorp links afdraai, na Elim  en Baardskeedersbos toe. Hierdie pad sluit later by die R43 aan, sowat 20km vanaf Gansbaai.

Is jy 'n Boland-mens, iemand wat 'n swakte vir wingerdplase, reusagtige berge en outydse flair het ? Wel, dan moet jy gerus 'n besoek aan Franschhoek bring ! Hierdie mooiste van die mooi dorpe, is net 88km vanaf Kleinmond, via Botrivier en Villiersdorp. Die groot bonus van hierdie rit, is die wondermooie Franschhoek-pas, met sy asemrowende uitsigte, talryke proteas teen die hange en koel waterstroompies. Paarl is net 20km verder, sou jy die Taalmonument of ou museums wou besoek.

As daar kinders in die geselskap is, moet 'n dagbesoek aan Kaapstad natuurlik ingepas word ! Waterfront, akwarium, bootritte, Tafelberg, Kirstenbosch - te veel om op te noem. Kaapstad is net 120km van Kleinmond af, as jy die N2 volg. Tussen-in is daar natuurlik die Kaapstad-lughawe, en die grootste winkelsentrum in die Wes-Kaap, die Somerset Mall. O ja, dan is die Strand ook naby, asook Stellenbosch.

Ek wil nog van die Karwyderskraal-pad vertel. Dis 'n sirkelpaadjie, net sowat 15km van Kleinmond af. Hierdie pad kronkel tussen 'n paar plase deur, en is net die keuse as jy natuurfoto's wil neem - van ribbokke, tot bloukrane, wildemakoue en wildepoue. Die Swartrivier-grondpaadjie draai regs af, as jy tot by Gabrielskloof wil ry, en weer met die N2 terug tot by Botrivier.

Genade ! Ek het amper vergeet van die Iona-pad, wat daar by Arabella afdraai. Dis 'n avontuurlike grondpad, oor die Palmietberg , na Elgin en Grabouw toe. Hier het ons al van die mooiste proteas en ander fynbos gesien wat ons nog beskore was ! As dit nog vroeg is wanneer jy by Elgin kom, ry gerus oor die Viljoenspas na Villiersdorp - eweneens prentjiemooi.

Ander plekke wat binne dagrit-bereik is, sluit in Swellendam (bontebokpark), Montagu (met die pragtige Kogmanskloof), Ceres (via Wellington, dan wys jy sommer hoe dapper jy kan wees, deur die Bainskloof-pas aan te durf !) en , as dit blommetyd is, Darling se kontrei.

So, Kleinmond is die plek om te wees ! Stap langs die see, of ry in die omgewing rond - elke tree 'n hoogtepunt !

No comments:

Post a Comment