Sunday 1 November 2015

Enigiets kan gebeur ...

Die uitdrukking 'sonde met die bure', is sekerlik in baie gevalle heel gepas, maar in die vroeg-sestigs het ons op 'n kleine plekkie met die naam Ngodwana , bure leer ken wie se lewenspaaie enersyds interessant, maar andersyds ook as voorbeeld van watter skewe draaie die ou lewe met 'n mens kan maak, vir ons was.

Pa was die stasiemeester, oom Wouter die stasievoorman. Laasgenoemde was effens jonger as Pa,  van Pretoria-Noord afkomstig en het 'n lewe van 'elke dag sorg vir homself', gelei. Dit het lynreg teen Pa se seining dat 'n mens gedurig planne vir die toekoms moet beraam, ingedruis. Oom Wouter-hulle (hy en sy vrou het drie orrelpypies gehad) was kniediep in die skuld, en het geld op alles behalwe lewensnoodsaaklikhede, uitgegee. In hulle huis was die nuutse fotoverhaal-boekies, legkaarte en motortydskrifte. Dit, terwyl daar meestal net pap en wors vir ete was - dis nou tydens die dae wanneer daar wel meel vir pap, en 'n stukkie wors in die yskas, was!

Pa en Ma het koppe bymekaar gesit. Pa het oom Wouter se maandelikse salaris geneem, die knellendste skuldeisers stuk-stuk betaal, en 'n begroting uitgewerk waarby die Brinks (oom Wouter-hulle se van) moes hou. Ma sou van ons klere wat ons nie so nodig gehad het nie, vir Annette,  Hesmarie en Theunsie (dis nou die kroos) verstel en herstel. Verder het die Brinks dikwels by ons aan tafel kom sit, en Pa se melkkoeie het ook gesorg dat daar darem 'n nattigheidjie saam met die pap sou wees.

So het daar toe 'n half onvermydelike vriendskap tussen ons en die voormanhuis ontstaan. Ek en my suster was min of meer die Brinkies se ouderdom, ons het saam gespeel, legkaarte gebou en deur die fotoboekies geblaai. Dit was vir ons te snaaks wanneer tannie Elna plat op haar boude op die mat kom sit het, en saam legkaarte gebou het - terwyl Ma ewe inskiklik maar alleen iets anders moes kry om haar mee besig te hou. Beide oom Wouter en tannie Elna, was kinderlik in hulle optrede, duidelik nie emosioneel gereed vir die eise van 'n huishouding (en drie kinders!) nie. Oom Wouter se Ford was 'n tipiese voorbeeld van pretensie: nagemaakte pels op die instrumente-paneel ('dashboard'); stuurknop aan die stuurwiel; plastiese, oranje lemoentjie aan die punt van die radio se lugdraad - en skitterblink klappe agter die wiele! Wanneer hy bestuur het, het die klippe gespat en hy het , elmboog deur die venster, die sigaretrook in die lug geblaas. Willewragtig, kans gesien vir alles en almal !

Tannie Elna het net gr.10 gehad. Dit het nie gepla nie, want sy sou nooit gaan werk nie - die drie kinders en oom Wouter, het haar volle aandag vereis (dis nou wanneer sy noodgedwonge die fotoboekies eenkant moes skuif om kos te maak of die wasgoed te versorg).

Ons is toe van Ngodwana af weg, en die Brink-gesin het agter gebly. Maar, dit was nie drie jaar later nie, toe hoor ons dat oom Wouter uit sy pos bedank het en dat hulle teruggetrek het, Pretoria toe. Oom Wouter se pa het twee huise langs mekaar besit, hulle kon langs hom in sy tweede huis, teen 'n minimale huur, kom bly. Ons was ook nie verbaas toe ons hoor dat oom Wouter 'n 'spietkop' geword het nie - dit was so reg in sy kraal. Hy het daagliks diens op die N4, na Bronkhorstpruit se kant toe, gedoen. Dit het blykbaar vooruitstrewend met die Brinks gegaan.

Een oggend het oom Wouter van pyn in die linkerarm gekla. Hy moes buitendien by die H.F.Verwoerd-hospitaal verby, sou sommer by ongevalle aangaan sodat 'n dokter kon kyk wat met die arm aangegaan het. Twee ure later kry tannie Elna toe 'n oproep: oom Wouter is dood! 'n Aar het naby sy hart gebars, hy het op die ondersoektafel gesterf.

Dit was 'n geweldige slag vir ons almal - en het tannie Elna en die kinders se lewens aan skerwe laat spat. Sy was ontroosbaar, want sy was geheel en al, geestelik en fisies, van oom Wouter afhanklik. Die ergste sou egter nog kom. Oom Wouter se pa het haar gebel: "My seun is dood. Ek het jou nog altyd net ter wille van hom verdra. Ek gee jou agt en veertig uur, dan moet jy en jou kinders uit my huis wees!"

Waar moes sy heen?! Met net 'n gr.10-sertifikaat, was die kans om 'n goeie werk iewers te kry, bitter skraal. Genadiglik het haar pa (wat ook in Pretoria-Noord gebly het) twee buitekamers gehad, sy en die kinders kon tydelik daar intrek. Sy moes noodgedwonge die motor en die meeste van die meubels verkoop. Die drie kleintjies was toe al in die skool, daar moes na hulle omgesien word. Haar ouers was oud en baie sieklik, en hulle het dit self nie breed gehad nie.

Deur middel van 'n ou skoolvriend se bemiddeling, kry tannie Elna toe genadiglik 'n werkie by Rondalia. Die kantore was in die middestad, naby die Plein. Sy is soggens donker al uit die huis, het saans na sewe eers tuisgekom. Haar ma is 'n rukkie later ook oorlede, en oupa moes toe alleen na die kleinkinders omsien, want Ma moes verdien en swoeg om siel en liggaam bymekaar te hou. 'n Paar jaar later, het tannie Elna toe (nog 'n groter genade !) 'n beter betrekking bekom, hierdie keer in die Onderwys-kantore.

Die drie kinders het uiteindelik almal matriek geslaag. Tannie Elna se gesondheid het 'n lelike knou gekry en sy is op 'n betreklik jong ouderdom oorlede.

Waarom hierdie verhaal? Elke meisie behoort haar in die een of ander rigting - wat eendag 'n werk sal verseker - te bekwaam. Die lewe het nie waarborge nie, enigiets kan gebeur ...

No comments:

Post a Comment