Monday 15 September 2014

Rakleeftyd

Alles op die ondermaanse is tydelik. Niks kan die horlosie stop nie, tyd is onverbiddelik en ongenadig.


Tipies mens, sal ons tot in der ewigheid smag na permanensie, wanneer dit by die dinge wat vir ons kosbaar en dierbaar is, kom. Ons probeer naarstiglik om oomblikke van volslae sielevreugde, in ure te omskep. Ons klou vas aan vreugdes, aan genot ... en aan vriendskap.


Ongelukkig skyn vriendskap, ook in die kategorie wat aan 'n rakleeftyd onderworpe is, te val. Dan weer, indien vriendskap nie die berugte tydtoets kan slaag nie, was dit mos nooit werklik vriendskap nie, of hoe ? As die samesyn kwyn, en die oogkontak taan, is die graveerder klaar besig om die laaste letters in die graniet te verewig.


Vriendskap is in sy wese, iets wat vir seker ook 'n ander toets moet slaag - die een met die opskrif, 'Wedersyds'. Kom ons wees maar seermakend eerlik: hoeveel keer het jy nie al tot die (skokkende) besef gekom dat al die energie, al die kontak, maar altyd net eerste van jou kant af kom, nie ? 'n Tweede party wat "nie tyd het nie", of immer "te besig" is, onderskat jou intelligensie. Al die tekens is daar, jy wil dit net nie aan jouself erken nie. Jy bly aan grashalms van hoop vasklou, hoop dat dit wat jy so duidelik gewaarword, dalk net 'n versinsel mag wees. Jy verneder jouself deur aan te hou om die minste te wees, die een te wees wat die verbintenis wil maak werk.


Die mooiste en opregste wat jou hart kan gee, is nie noodwendig iets van waarde vir die een met wie jy dit so graag wil deel nie. Jy kry die gevoel dat jy nooit in dieselfde mate waarmee jy gee, terug ontvang nie. Jy word keer na keer, diep teleurgestel. Jy word die slagoffer van jou eie offervaardigheid. Intussen leef jy in die hoop dat die ander een, groter insig in en waardering vir jou bydrae tot die vriendskap, sal ontwikkel en sal toon. So bly jy 'n soeker na bewyse, 'n soeker na tekens, 'n soeker na ... geluk.


Die wrede aard van 'n rakleeftyd, is dat dit nie omgeskakel kan word nie. As die tyd verby is, is dit verby. Om derhalwe oor 'n verbreekte vriendskap te tob, sal niks aan die saak verander nie. Dis doodeenvoudig: die een voel baie, die ander een voel niks. Maak vrede daarmee, lig jou kop op en stap die volgende vriendskap (?) tegemoet.


Dis eers wanneer jy jouself gee, dat jy waarlik gee. Ek verstaan dit, Kahlil Gibran, ek verstaan dit volkome. Dit maak net so ontsettend seer wanneer jou gee, nie goed genoeg is nie - wanneer jou
rakleeftyd, verby is ...



No comments:

Post a Comment