Tuesday 18 April 2023

 Die groot verlange

Die woord 'verlange' impliseer dat 'n mens hunker na iets of iemand wat jy nie (meer) het nie. Eintlik moet jy baie versigtig met hierdie omvangryke begrip omgaan, want volgens 'hulle', dui dit op 'n innerlike ondankbaarheid vir dit wat jy (steeds) het. Die fokus moet glo wees op die nou en die tans - en NIE op daardie gemis van dinge/mense wat nie by jou is nie ... om welke rede, ookal. 

Feit bly staan: elkeen van ons, het iets in die verlede beleef, of mense geken wat jou binneste betree het, waarna en na wie, jy soms verlang. Al het jy 'n dak oor jou kop en kos in die yskas, klere om aan te trek en al is al jou sintuie nog in 'n kapabele toestand ('n legio redes om aldag in dankbaarheid te lewe, dus), voel jy soms 'n diepe bedroefdheid, 'n binne-seer wat net nie wil wyk nie. Die bron(-ne) daarvan, is dalk al iets van die verre verlede, maar dit wat daardie ervaringe en mense aan jou diepe menswees, aan jou siel gedoen het, was iets waarna jy vir altyd sal bly smag - tot die dag wanneer jy die ondermaanse verlaat, en hopelik sal wees daar waar hartseer, pyn en verlange, nie van toepassing is nie. 

Wanneer die dag se gewoel met die son ondergaan, kom die mens net maar weer voor die wete te staan: dat jy in jou wese 'n eenling sal bly - soekend na die pad by die donker verby ...

Ek verlang na die tyd toe ek geglo het dat jy dieselfde oor my voel, as ek oor jou. Vandag voel ek skaam oor my naiewiteit van destyds, maar ek onthou dat dit 'n tyd van malse moontlikhede was. Toe 'Nights in white satin' se lierieke my beneweld van ingehoue emosie gemaak het, en ek moeilik op my werk kon konsentreer. Wanneer ek by my lessenaar gesit het, het ek jou beeld in alles voor my, om my en binne my, gesien en omhels. Toe ek een aand in onbeheersde emosie kon skryf: Woorde flits jou beeld op wit papier; ek sien druppels teen die ruit - en wens jy was nou hier ...

Onthou jy, daar was tye toe ek probeer het om jou by my eie belewing van grootsheid te betrek: 'Die lewe bestaan uit spesiale oomblikke. Terwyl hulle daar is, moet jy hulle soos 'n spons absorbeer, sodat jy later die heilige nektar oor jou siel kan laat drup. Hierdie, is so 'n oomblik ...' 

Daar was die dag in die begraafplaas. Ons het hom albei baie goed geken, en ek het geglo dat jy ook, soos ek, die diep ontroering deur jou sou voel opwel, as ons saam by die grafsteen sou staan. Ons was mos beste van vriende, dan nie? Ek sou tog nie sommer enigeen saam geneem het om weer die graf te besoek nie? Jy was stil en ek kon jou ongemak aanvoel. Tog het ek bly hoop, dat ons daar 'n spesiale oomblik sou kon deel. Maar, jy het my vol in die gesig gekyk, en my hoop in duisend stukkies laat verbrokkel. 'Sulke dinge beteken vir my niks; ek voel niks hiervoor nie', was jou woorde. 

Ek het ontsettend leeg en eensaam gevoel. Dis nie dat ek simpatie verwag het nie, ek het geglo dat ons so na aan mekaar was, dat jy my gemoed sou kon aanvoel, en dalk net 'n trooswoord sou spreek. Iets soos, 'Ja, dis baie erg. Ek verstaan hoe jy moet voel as jy langs sy graf staan.' 

Dalk het jy dit agterna agtergekom, ek weet nie. Die dae daarna, was vaal en onseker, en ek het jou vermy. Smiddae het ek vroeg huis toe gegaan, nie vir jou gewag om, soos ons gewoonte was, 'n laaste paar gedagtes daar by die trappe te wissel nie. As die finaliteit van die dood jou nie ontroer het nie; as jy gevoelloos en apaties teenoor dit wat die siel laat ruk in jou binneste gestaan het, was daar nie veel hoop vir die deel van ander spesiale oomblikke nie. 

Vandag dra ek steeds die groot verlange na wat kon gewees het - omdat ek weet en goed onthou, hoe ek oor jou gevoel het. Ja, ons noem mekaar 'my vriend', maar dit kon soveel meer gewees het ... 








No comments:

Post a Comment