Monday 16 June 2014

Stilte

Die afwesigheid van enigiets wat stilte kan versteur, is voorwaar 'n salige gedagte! Stilte laat jou hoor, laat jou voel, laat jou ervaar ...

Ek herinner my 'n nag, iewers in 1975. My ouers het destyds op Marble Hall gebly, ek was 'n student in Pretoria. Pa se werk by SAS&H het nie veel vreugdes vir ons (my) ingehou nie, behalwe miskien dat ons wyd getrek en nuwe landsgrense verken het - en die herinneringe aan daardie een, onvergeetlike nag.

Ek het met die trein, Marble Hall toe gery, waar pa-hulle vir 'n jaar of vyf penne ingeslaan het. Na 'n rampspoedige terugrit na my vakansiewerk in die wildtuin, was my Mini kapoet en moes ek noodgedwonge instem om van Pa se ruimhartigheid ('n gratis treinkaartjie) gebruik te maak.

So gebeur dit toe dat ek een van net drie passasiers daardie aand in die wa was. Ons is op Hammanskraal afgehaak, en aangehaak aan die diesellokomotief wat die sylyn Marble Hall toe, bedien het. Ons is skemertyd uit Pretoria, en duskant die rangeerplek het die donkerte al onheil-
spellend oor die Bosveld toegesak. Dit was in die winter, koud en guur. Ek het my jas styf om my gevou en probeer om in te dut. Verby Settlers was ek egter nog wakker soos 'n spook.

Teen halftwaalf se koers, het ek die skommelende ruimtes tussen kloppende treinwiele, vaak en onrustigheid, ingedoesel en tog 'n wyle ingesluimer. Nie vir lank nie, want skielik het die trein met 'n ruk tot stilstand gekom. Ek het by die venster uitgekyk, daar was nie 'n siel in sig nie. 'n Entjie verder aan kon ek die naam op die wit naamplaat, in swart letters, uitmaak: Tuinplaas. Hoekom die trein gestop het, het ek nooit geweet nie. Niemand het op- of afgeklim nie, ons het net gestop - tussen niks en minder as niks, op die uitgestrekte Springbokvlakte ...

Ek het die venster oopgesukkel en laat sak. Buite was dit stikdonker nag ... en grafstil. So stil, dat ek my eie asemhaling kon hoor. Moes ek bang wees? Ek was onseker, want 'n helende rustigheid het hom in my gemoed kom tuismaak. Ek onthou dat ek 'n diep asemteug gevat het, stadig uitgeblaas het en na die niks in die verte getuur het. Dit was net ek, en die oneindigende niks. Die ander passasiers was, elk in sy eie kompartement, in droomland. Ek was in my eie wonder-droomland, die een van volkome stilte.

Die veraf getjank van 'n jakkals het die stilte meteens oorverdowend onderbreek, maar tog was dit goed, dit het soos 'n stilte-refrein oor die vlaktes getrek. My ore was gespits om nog naggeluide te hoor, maar daar was niks verder nie.

Hoe lank ons daar op Tuinplaas vertoef het, kan ek ook nie onthou nie. Die trein het om-en-by drie-uur se stryk op Marble Hall ankers gegooi. Ek het die paar honderd meter na my ouers se huis in stilte gestap, stadig en afgemete. Ook toe ek later myself op die woonwa-slaapbank tuisgemaak het (Ma het die sleutel onder die matjie gelos), kon ek nie weer slaap  nie. Ek was steeds onder die betowering van Tuinplaas se nanag-stilte.

Daarna het die hunkering na 'n soortgelyke ervaring, my deur die lewe vergesel. Daar was 'n twee-uur in die oggend tydjie, die keer op Pretoriuskop; ook toe die skoolbus anderkant Carolina gebreek het en ons vir nooddienste moes wag. Tye toe ek gedink het, ek weer na aan Tuinplaas-stilte gekom het.

Daar is geen rus duskant die graf nie, ek verstaan dit. Wiele moet rol, 'n mens moenie stagneer nie en aanbeweeg, dit verstaan ek ook. Maar, my sintuie wag reikhalsend op stilte - omdat ek eenkeer gehoor, gevoel en ervaar het, wat dit aan die siel doen ...



No comments:

Post a Comment